top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniël 8 - ’n Ram, ’n bokram en ’n horinkie


Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,

Eenkeer, in die tyd van koning Belsasar, was Daniël af siek vir ’n paar dae. Dit was die jaar 541 vC. Daarna het hy teruggekeer werk toe as ’n amptenaar in die staatsdiens van Babel. Maar, al was hy terug by die werk, was sy gemoed nie normaal nie. Maar, niemand het dit agtergekom nie.

Daniël was egter nie sommer net siek nie. Hy was gedaan en siek a.g.v. ’n visioen wat hy gesien het, helder oordag.

En die visioen het hom siek gemaak, want dit het die aanbreek van vreeslike kwaad in die toekoms aangekondig

Wat het hy gesien?

Wel, Daniël, natuurlik in Babel, word helder oordag in sy gees weggevoer na die Stad Susan teen die Ulairivier.

So, Daniël dien nog die koninkryk van Babel in die stad Babel. Maar, hier word hy in die toekoms in meegevoer na Susan. Hierdie stad sou later die hoofstad word van die ryk van Meders en Perse.

En as hy daar is, by die hoofstad van die ryk van Meders en Perse, dan sien Daniël dit.


Ram

Hy sien ’n (skaap)ram. Twee horings. Die een was hoër as die ander. Die hoogste het later uitgekom.

Hierdie Ram verteenwoordig die ryk van Meders en Perse, geen twyfel daaroor nie. Die simbool van hierdie ryk was ’n ram. Maar, heel belangrikste, die Engel lê self die gesig (visioen) uit, en sê in vers 20:

Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.

So die een horing is die Meders, die ander horing is die Perse. Die een wat later gekom het, het groter as die ander een geword. Hierdie groter een was die Perse. Aanvanklik was die Meders meer dominant, maar met verloop van tyd het die Perse die oorhand begin kry.

Maar hy sien ook wat hierdie ram doen:

Ek het die ram sien stoot na die Weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.

Ons weet uit die geskiedenis dat die ryk van Meders en Perse tydens hulle bewind baie uitgebrei het na die noorde, suide en weste – maar nie na die ooste nie.

Onthou dat Daniël hierdie dinge sien, voordat dit gebeur: voordat die Meders en Perse Babel ingeneem het!

Maar dan sien Daniël nog ’n dier.


Bokram

Hy sien ’n bokram.

Die bokram kom aan uit die weste oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om die grond te raak; en die bok het ’n aansienlike horing tussen sy oë gehad.

Hierdie bokram wat uit die weste aankom oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om die grond te raak, is die Grieke. Die aansienlike horing tussen sy oë is hulle magtige aanvoerder, Alexander die Grote.

Die Geskiedenis leer ons dat die Griekse weermag van Alexander die Grote met rasse skrede (baie vinnig) vanuit die Weste oor die vasteland van Asië van oorwinning tot oorwinning gevorder het.

Maar ons lees ook wat het hierdie bokram gedoen:

V6-7 En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, hom in die woede van sy krag stormgeloop. En ek het gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.

Bokram oorwin die ram. Alexander die Grote het die magtige ryk van Meders en Perse aangeval. En dit vernietig.

Weereens, Daniël, sien hierdie gesig toe Babel nog aan bewind was . Terwyl hy nog self ’n amptenaar in die staatsdiens van Babel was 541 VC! En hier sien hy nie net die ryk van Meders en Perse nie (wat Babel sou inneem nie), maar boonop ook die Griekse ryk van Alexander die grote wat die ryk van Meders en Perse sou oorneem! (Iets wat in die jare 330 v.C sou gebeur!). Daniël sien visioen wat hierdie dinge voorspel (meer as 200 jaar voor dit gebeur)!.

En, terloops, ons twyfel nie dat hierdie bok die Griekse ryk is nie, want in die Engel se uitleg van die gesig sien ons dit:

V21 en die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.


(Net hier noem)

Daniël op twee plekke uitvoerig gehoor van die vier antieke ryke:

- Babel

- Meders & Perse

- Griekse Ryk

- Romeinse Ryk.

(Beeld van Nebukadneser (Dan. 2); die vier diere wat uit die see opkom van Dan. 7).

So, Daniël 8 gaan oor nr. 2 en 3. Meders & Perse; Romeinse Ryk.

Die verdeling van die Griekse ryk

Maar, lees ons, sien Daniël verder:

Die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.

Alexander die grote, was sekerlik een van mees suksesvolle aanvoerders van ’n weermag ooit. Hy het in ’n kwessie van 10 jaar groot dele van die bewoonde wêreld onder sy beheer gekry. En, veral opmerklik was sy jong ouderdom. Hy het op 22 begin en teen 32 het hy tot by Indië gevorder.

Maar, toe sterf hy skielik. Hy het siek geword, en daar is hy dood. Die horing is afgebreek!

Net soos Daniël geprofeteer het!

En toe – wat gebeur toe met die Griekse ryk? Wel, toe word dit verdeel onder vier van sy generaals. Die hele Griekse ryk is in vier verdeel:

- Macedonië onder genl. Cassander

- Thrasië en klein Asië onder Lysimachus

- Sirië onder Seleucus

- Egipte onder Ptolemeus.

Net soos Daniël geprofeteer het!


Die horinkie

Maar, dan sien Daniël nog iets.

Uit een van hierdie vier, het ’n horing gekom. Eers klein, maar dit het baie groot geword, na die Suide en die Ooste en die Pragtige Land toe.

Uit een van die vier kwarte van die voormalige Griekse Ryk, sou daar ’n koning opstaan. Wat ook beheer oor die pragtige land sou verkry. Dit is, Kanaän, Palestina.


Antiochus Epifanes

Nou wat het ons hier?

Wel, die geskiedenis leer ons, daar het toe uit een van die vier kwarte, van die kwart van Seleucus, het daar toe ’n koning gekom, wat presies dit gedoen het.

Die man met die naam in die geskiedenis van Antiochus Epifanes. Skrifverklaarders is dit oor ’n wye spektrum eens dat dit ongetwyfeld die persoon is van wie Daniël hier profeteer (400 jaar voor hy gebore is).

Hy het uit die kwart van Seleucus gekom. Maar, baie gou het hy vir Egipte in die Suide ingeneem. Daarna na die Ooste het hy Elymais en Armenië ingeneem. Na dit het hy Kanaän ingeneem – die Pragtige Land.

Dit is die klein horinkie van hierdie hoofstuk.

Die man wat in die jare 175vC-164vC geregeer het.

Wat sou hierdie horinkie wat uit die een kwart sou kom, wat sou hy doen?

Vers 10

Ons lees in vers 10:

V10 En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, nl. Die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap...

Wie is hierdie leër? Ons verstaan dit beter as ons onthou dat die stamme van Israel in die Bybel die leër van die HERE genoem word.

Eks. 7:4 ... Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei.

Eks. 12:41 En na verloop van 430 jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.

So vers 10 kan ons verstaan as die misdade van hierdie Antiochus teen die volk van die HERE. En om hulle te vervolg, is om teen die hemele te sondig.

Ons sien dit in Handelinge 9:4, as Paulus nog die vyand is van God se mense, God se volk:

Saul, Saul, waarom vervolg jy My?

Maar dis nie waar Antiochus gestop het nie. Vers 11 en 12 vertel ons wat het hy verder aangevang:


Vers 11

Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword (die horing), sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.

Hy het God na die kroon gesteek die ‘Vors van die leër’. Hy het die gereelde tempel dienste weggeneem. En hoewel hy nie die tempel struktuur vernietig het nie, het hy dit so ontheilig dat dit nie gebruik kon word nie. (Geskiedenis wil dit hê dat hy ’n beeld van die afgod Zeus in die tempel opgerig het, en dat hy varke laat offer het op die brandofferaltaar!).


Vers 12

En ’n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid in die op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.

Net soos die daaglikse offers in sy hand oorgegee is, is ’n groot getal van die volk Israel aan hom oorgegee, en hy het met hulle gemaak net soos hy wou. In sy tyd is die waarheid in die grond vertrap. Hierdie bose man het boosheid beoefen sonder grense sonder dat hy gekeer is – en hy was voorspoedig daarin!

Dit was ’n tyd van onuitspreeklike lyding vir die volk van God. Alles was donker, dit het gelyk asof daar geen lig is nie!


Hoe lank?

Dit het Daniël gesien.

Toe het hy ’n heilige hoor praat met ’n ander heilige, ’n gesprek tussen engele (v13-14):

- Hoe lank al die dinge?

o Die voortdurende offer, ontsettende goddeloosheid, die heiligdom en die leër aan vertrapping oorgegee?

- En die antwoord:

o 2300 aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.

Dis so bietjie meer as ses jaar. En, dit kan rofweg in ooreenstemming gebring word met die are wat Antiochus die Jode vervolg het – van 171 v.C. tot 165 v.C.

Die opstand van die Makkabeërs het dit moontlik gemaak dat die tempel geheilig en die gereelde aanbidding van God weer kon hervat.


Die uitleg van die Engel

Dit is alles wat Daniël gesien het.

Maar in vers 16 lees ons, Daniël het ’n mensestem gehoor wat gesê het:

Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan...

Iemand, met ’n mensestem roep bevele vir die magtige engel Gabriël.

Jy gaan met my saamstem – die Enigste Mensestem wat bevele vir so heerlike wese kan gee, is Jesus Christus. Hierdie is die Seun van God wat die opdrag geen Gabriel.

En dan in die laaste verse van die hoofstuk het ons dan die uitleg van die Engel Gabriël aan Daniël.

Van die mees presiese historiese aangeduide uitlegte wat ons in die Bybel het. By die naam word die ryk van Meders en Perse genoem, sowel as Griekeland.

Meeste van die gegewens het ons reeds met die behandeling van die visioen genoem.


Die vernietiging van die horing

Net aandag vestig op een saak wat bykom: en dit is die vernietiging van die horinkie. Engel Gabriël sê:

Vers 25 En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder die toedoen van mensehand verbreek word.

Dis nogal ’n tema hier in Daniël, nie waar nie.

Dat ook hierdie horinkie se koningskap ten einde sal loop. Maak nie saak hoe wreed, hoe slim, hoe suksesvol nie, ook hierdie koning se koningskap sou beëindig word.

Net soos daardie groot beeld – wat die koninkryke van Babel, Meders & Perse, Griekeland en Rome – deur ‘n klip vernietig sou word – sonder die toedoen van mensehande, so sou ook hierdie wrede koning vernietig word – sonder die toedoen van mensehande.

Onthou julle die loflied van Daniël in hoofstuk 2?

Vers 20-22 Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; (Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom. )

God is in beheer, broer en suster. Soos troonsgesig van Openbaring 4:2

En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ’n troon in die hemel en Een sit op die troon.

Hy regeer.

Ps. 135:2 (berymd)

In die hoogte sit die Heer, daar doen Hy wat Hom behaag; Hy stuur sy bevele neer en sy wil geskied omlaag. See en aarde luister stil met die dieptes na Sy wil.


Die horinkie van hoofstuk 8 en die horinkie (elfde horing) van hoofstuk 7

Nou laat ons vanoggend die ooreenkoms raaksien tussen hierdie horinkie en die 11e horing van hoofstuk 7.

Vier diere (leeu, beer, luiperd, vierde dier – vreeslik, skrikwekkend, baie sterk, ystertande, ens.) Vierde dier het 10 horings. Dit is tien konings. Maar daar het ’n elfde horing gekom, drie van die horings is vir hom ontwortel.

- Mens-oë, mond wat groot dinge spreek.

- Oorlog teen die heiliges van die Allerhoogste.

- Woorde spreek teen die Allerhoogste,

- Heiliges mishandel

- Probeer om tye en wet te verander

- En hulle sal vir beperkte tyd in sy hande oorgegee word.

Ons lees ook van hierdie horing, hoe magtig en wreed en suksesvol – ook van sy einde:

7:26 Maar die gereg sal sit en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.

En dan sal die koningskap gegee word aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk... ens.

Sien jy die ooreenstemming?

Nou daardie een, het ons in ons preek geïdentifiseer as die Antichris van 1 Johannes, die mens van die sonde van 2 Tess. 2, die dier uit die see van Openbaring 13. Dis die elfde horing van Daniël 7.

Die horinkie van Daniël 8 is nie dieselfde spesifieke persoon as die horing van Dan. 7 nie. Daniël 8 s’n is Antiochus Epifanes. Nie dieselfde persoon nie.

Maar, ons sal blind wees as ons nie die ooreenstemming sien nie.

Hoe moet ons dit verstaan?

Wel, ons kan dit verstaan in die lig van 1 Joh. 2:18