top of page
  • Writer's pictureDs Pieter le Roux

Efesiërs 1:3-23/HK So. 19 Christus is die Koning wat regeer, versorg en oordeel


Preek HKSo 19 Jesus Christus sit aan die regterhand van God GKWBP 24 April 2022 aanddiens
.
Download • 240KB


Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,


Sondag 19 behandel die woorde: (ek glo in Jesus Christus) wat sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.


Nou as jy mooi gaan kyk na Sondag 19, sien jy daar is drie vrae – en die drie vrae handel oor Jesus se Koningskap.


In die preek vanaand wil ons die drie vrae behandel onder die opskrifte:


1. Christus is ons Koning wat regeer – (Vr. 50)

2. Christus is ons Koning wat versorg – (vr. 51)

3. Christus is ons Koning wat oordeel – (vr. 52)


1. Christus is ons Koning wat regeer


Vr. 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan die regterhand van God?


Antw. : Christus het opgevaar na die hemel sodat Hy Homself daar as die Hoof van sy Christelike kerk kan betoon, deur Wie die Vader alles regeer.


So in beide vr. 50 en 51 gaan dit oor die saak van die regterhand van God. Vr. 50 is dit t.o.v. sy regering, vr. 51 t.o.v. sy versorging.


Die regterhand van God


Nou waar kom hierdie belydenis vandaan, dat Jesus met die hemelvaart gaan sit het aan die regterhand van God?

Wel, reg uit die Bybel uit!


Reeds in die OT is geprofeteer dat Jesus sal gaan sit aan die regterhand van God:


· Ps. 110:1 Die HERE het tot my Here gespreek, sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir U voete.


Verder op baie plekke in die NT, o.a.:


· Rom_8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

· Eph_1:20 (die krag) wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,

· Col_3:1 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.



Betekenis van die regterhand


Nou wat beteken regterhand? Wel, die regterhand is in die Skrif die toonbeeld van uitvoerende mag. Dit is die regterhand wat die bevele van die brein uitvoer.


Met die regterhand van God, bedoel ons dat aan Jesus Christus die hoogste mag en heerlikheid gegee is. Dit, waarvan Matt. 28:18 praat:

Aan My is alle mag in die hemel en op die aarde gegee...


Dit beteken dat die Vader die regeermag vir sy Seun gee. Nie dat die Vader nie meer regeer nie, maar Hy voer Sy regering uit deur Sy Seun.


Hierdie regeermag het Jesus na sy Goddelike natuur natuurlik van ewigheid af.

Maar, na sy menslike natuur ontvang Hy dit met sy hemelvaart.


Daar is nou ’n Mens, wat alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het – die Mens Jesus Christus, wat sit aan die regterhand van God.


Na sy Goddelike natuur is Jesus alomteenwoordig. Na sy menslike natuur sit Hy aan die Regterhand van God. En Hy het alle mag in die hemel en op die aarde ontvang.


Alle mag in die hemel en op die aarde vs. die Satan se versoeking in die woestyn


Hier moet ons ’n kontras raaksien met dit wat die Satan aan Jesus beloof het met sy versoeking in die woestyn.


Die Satan met die derde versoeking na die berg toe geneem en Hom al die koninkryke van die wêreld gewys - en die Satan het gesê: Al hierdie dinge (die koninkryke van die wêreld) sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.


En as Christus drie jaar later borgtogtelik sterf aan die kruis, drie dae later opstaan, dan gee die Vader aan Hom na sy mensheid alle mag –

Hy het dus baie meer ontvang as wat Satan tydens die derde versoeking Hom aangebied het – nie net op die aarde nie, maar ook in die hemel!


En dis wat Jesus vir sy dissipels sê net voor sy hemelvaart:


Matt. 28:19 Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.


En nou lewe ons in die bedeling waar die Vader die regering van die hemel en die aarde aan sy Seun gegee het. Die tyd van die Christusregering.

Met sy kruis en opstanding het die Vader aan Hom die regering oor die hemel en die aarde aan Hom gegee.

Die Vader doen nie afstand van die regering nie

Die feit dat Christus sê dat alle mag aan Hom gegee is, beteken nie dat die Vader afstand doen van die regering nie, maar dat die Vader alles deur die Seun regeer - soos die Kategismus dit ook stel. Christus voer die raadsbesluite van die Vader uit. En om dit te kan doen, het die Vader al die mag in hemel en op aarde aan Hom gegee.[1]

Sit aan die regterhand van God

En daarom leer die Woord ons dat Jesus gaan sit het aan die regterhand van God. Sy plek aan die regterhand van die Vader is die strategiese posisie vanwaar Hy alles regeer. Hy is dus by wyse van spreke die regterhand van die Vader deur Wie die Vader alles regeer.[2]

Die regterhand dui op die uitvoering van regeermag.

Alles onder Sy heerskappy

Alles staan nou onder die koningskap van Christus: engele en duiwels, vorste en volke, die opkoms en die ondergang van nasies en heersers. Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee!

Ja, die era van die Christusregering breek aan met die hemelvaart van Jesus en sal duur tot en met sy wederkoms – wanneer – soos ons lees in 1 Kor. 15 – Hy die koningskap aan sy Vader sal teruggee.

Ps. 110 sê immers van die mensgeworde Seun van God:

Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ʼn voetbank vir u voete.

1 Kor. 15 lees ons:

1Co 15:24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.

1Co 15:25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.

Deur Sy Seun vernietig Hy alle gesag wat teen Hom opstaan

So, die Vader gee die regeermag aan sy mensgeworde Seun Jesus Christus – en deur Hom en sy liggaam vernietig Hy elke vyand en rebel teen God.

In hierdie taak om die vyande te onderwerp is ons bevoorregte medewerkers.

Ons bring die oorwinning van Christus oral waar ons leef en werk.

Dit beteken prakties

· Deurdat ek by die werksplek in waarheid leef en werk en so die duisternis verdryf.

· Deurdat ek die hoop van Christus in die klaskamer bedien. So vernietig Christus al die vyande van God deur my en jou!

· Deurdat ek my hele lewe inrig in gehoorsaamheid aan die ware koning.

· Deurdat ek elke aspek van my lewe onder die heerskappy van Koning Jesus bring.

En die dag sal aanbreek, wanneer elke vyand wat nou nog teen God rebelleer, onder sy voete onderwerp sal wees – en daardie dag, die dag van sy wederkoms, gee Hy die koninkryk aan die Vader oor!

En, die opstanding van Christus is die waarborg van die uitkoms in die stryd – ons leef reeds in die oorwinning – ons volvoer die oorwinningswerk van Christus aan die kruis!

In die Naam van Christus moet die Satan vlug!

Jak. 4v7 Jas 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Die regering van Christus is kwessie van geloof

Nou hierdie leer, dat aan Jesus alle mag in die hemel en op die aarde gegee is, is ’n kwessie van geloof (dink aan Hebr. 11:1 die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie).

Dit beteken dat heel dikwels ons met ons gewone oë die oënskynlike teendeel waarneem – soms blyk dit uit alle omstandighede dat die Satan en sy magte die oorhand begin kry!

Soms voel dit vir ons of die troon in die hemel leeg is! Mens wil vra maar:

· Het Christus regeer toe Jakobus met die swaard doodgemaak is?

· Toe Petrus in die tronk gegooi is?

· Johannes na Patmos verban is?

o Was dit nou die manier om sy kerk te bou en te bewaar?

· Regeer Christus nog as die arbeid in Sy koninkryk belemmer word, as sy dienaars gevang en vervolg en vermoor word?

· Ook in die persoonlike dinge:

o Regeer Christus nou as ek my werk verloor?

o Regeer Hy nou as ek met kanker gediagnoseer is?

o Regeer Hy nou as ek my kind verloor?

o Regeer Hy as my kinders my verwerp?

U sien, sonder die oog van die geloof, kan iemand nie begryp dat God breekwerk kan omkeer in bouwerk nie!

Maar, as daar een ding is wat die Woord ons leer, is dat ons ons nie moet blindstaar teen dit wat ons met ons aardse sintuie kan waarneem nie!!!

· Moenie omdat dit met eerste oogopslag lyk of ons aan die verloorkant is, dink dat ons aan die verloorkant is nie!

· Moenie omdat dit uit alle omstandighede lyk asof Christus nie regeer nie – daarom dink dat Hy nie regeer nie!

· Hebr. 11:1 Die geloof dan is ... ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

· Dink aan die geskiedenis van Elisa en sy dienskneg in Dotan, waar daar ’n hele weermag Elisa en sy dienskneg omring het – en die dienskneg bang geword het – en Elisa gebid het – en die dienskneg se oë oopgemaak is, sodat hy kon sien dat die wat met hulle is, is meer as die wat teen hulle is!


In Openbaring 4 lees ons van die gesig wat Johannes van die troon in die hemel gesien het, en dan lees ons die aangrypende woorde, wat Johannes sien:

Openb. 4:2 en kyk, daar staan ʼn troon in die hemel en Een sit op die troon.

In die hoë hemel is daar ’n troon, en op die troon sit daar Een – sit daar Iemand!

Die eenvoudige Bybelse waarheid is dat Christus regeer - ook in tye wat vir die mens chaoties, verwarrend en onverklaarbaar lyk. In dié hele proses val daar nie eers 'n haar van ons koppe sonder Sy wil nie.

Hoof van sy kerk

Die kategismus sê dat die sinsnede en sit aan die regterhand van God, beteken dat Jesus die Hoof van sy kerk is, maar ook dat die Vader alle dinge deur Hom regeer.

Hy is die Hoof van Sy kerk, maar ook van alle dinge.

In die eerste plek is Jesus die Hoof van Sy Christelike kerk. Daar is Hy die Koning van. Dit is die koninkryk van sy genade. Dit is die onderdane wat Hom gehoorsaam omdat hulle nie anders wil nie. Hulle wil Hom dien. Dis hulle wat bid: laat U wil geskied soos in die hemel, so ook op die aarde. Dit is hulle wat nou reeds die knie voor Jesus buig en Hom erken as die Koning.

Koning van alle dinge (Lees)

Maar, die grense van die kerk, is egter nie die grense van Christus se ryksgebied nie.

Hy regeer ook oor alle dinge en alle skepsels in die wêreld. Dit is die koninkryk van sy mag.

Hier gehoorsaam mense, omdat hulle nie anders kan nie.

Sonder dat hulle dit weet, voer Christus die Vader se raad uit ook deur hulle. Deur elke opstand teen sy Naam, bewerk die Koning die raad van God, laat Hy alles ten goede meewerk vir die kerk, voer Hy die skepping tot op die punt waar elke tong sal bely en elke knie sal buig.

Dis die eerste punt vanaand – Christus is ons Koning en Hy regeer!

2. Christus is ons Koning wat versorg


Die tweede punt is dat Christus die Koning is wat versorg.

Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee – en uit daardie heerlike posisie (aan die regterhand van God) versorg Hy sy liggaam!

Die kategismus sê: stort Hy deur sy Heilige Gees hemelse gawes in ons!

Christus versorg ons met hemelse gawes! Net soos die wynstok sy sappe deur die ranke in die lote pers – so stort Christus sy hemelse gawes in ons uit!

En watter gawes gee die Koning nie deur die Heilige Gees aan sy kerk nie? Dink maar aan die volgende:

· wedergeboorte en

· bekering,

· regverdigmaking en

· heiligmaking,

· die vermoë om te kan volhard tot die einde toe,

· die gawes van geloof, hoop en liefde,

· die gawes van innerlike vreugde en vrede.

Hy aan Wie alles behoort, en Wie alle mag in die hemel en op die aarde besit, Hy stort hemelse gawes in my uit!!!

Eph 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,


Hy seën ons met alle geestelike seëninge. Hy sorg vir die kleinste mossie. Hoeveel te meer sal Hy nie vir ons sorg nie!

Ook beskerming

Maar, uit sy posisie aan die regterhand van God, versorg Hy ons nie net nie. Hy beskerm ons ook. Hy besit alle mag in die hemel en op die aarde, en met daardie mag beskerm Hy my.

En ons het sulke gevaarlike vyande wat ons permanent bedreig.

· die duiwel wat met al sy bose mag mense en volke teen die kerk opsweep;

· die wêreld met sy sekularisasie, verlokking en verleiding;

· ons eie sondige natuur, die verraaier in die vesting wat so maklik die deure vir die duiwel en die wêreld kan oopmaak.

En hoe erg is dit nie as hierdie drie saamstaan nie?

Christus gee aan sy kerk egter die versekering dat

· die magte van die doderyk sy kerk nie sal oorweldig nie (Matt. 16:18).

· Hy sê verder dat niemand die wat aan Hom behoort ooit uit sy hand of uit die hand van sy Vader sal ruk nie (Joh. 10:28,29).

· Daarom kan Paulus ook met soveel sekerheid sê dat niks en niemand ons ooit kan skei van die liefde van God in Christus nie (Rom. 8:38,39).

Christus is ons Koning wat regeer, wat versorg, maar ook derdens, wat oordeel!

3. Christus is ons Koning wat oordeel

Die kategismus vra: hoe word ek deur die oordeel van Christus getroos?

En dan kom die antwoord (en hoor hoe treffend is dit!):

Dat ek in alle droefheid en vervolging Dieselfde Persoon as Regter met gespanne verwagting uit die hemel verwag Wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het!

Die Regter het Self al my skuld op Hom geneem en betaal!

Hy, die Regter, het self eenmaal as aangeklaagde en beskuldigde voor God gestaan - borgtogtelik: in ons plek.

Hy was onskuldig, maar al ons skuld het op Hom gerus. Soos die Kategismus dit stel: Hy het Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem.

En Hom wat dit vir my gedoen het, verwag ek as 'n Regter uit die hemel. Daarom twyfel ek vir geen oomblik aan sy uitspraak oor my nie. Hy sal, op grond van sy eie soenverdienste, my vryspreek en my die ewige lewe laat beërwe.

Al Sy en my vyande in die verdoemenis sal werp

Maar ook, is ons getroos met die wederkoms en oordeel van Jesus Christus, omdat Hy al Sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp.

Ja, elke knie wat nie voor Hom wil buig nie, sal met sy wederkoms geen keuse hê nie: hy/sy sal moet buig. Hulle sal nie anders kan nie. En hulle sal hulle regverdige straf ontvang.

En daarom kan ek berus – al lyk dit of die vyande van Christus wegkom met hulle moord. Want ek weet dat al die vyande van God hulle regverdige vergelding sal ontvang.

En daarom kan ek ook laat staan om myself te wreek. Ek kan laat gaan en laat God. Hy sal vergeld.

Hierdie oordeel, is vir ons ’n troos. Dis die oordeel wat Sy volk verbly het (soos ons sing in Ps. 48:5 berymd).

Maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem

Terwyl die goddelose vrees vir die oordeelsdag en sal uitroep dat die berge en heuwels hulle moet bedek, kan die gelowige nou in droefheid en vervolging getroos wees. Hy verwag sy Redder as Regter uit die hemel. En hy weet dat die lyding wat ons tans ervaar nie opweeg teen die heerlikheid wat Christus Hom op dié dag sal skenk nie (Rom. 8:18).

Geliefdes,

Heerlik kan ons vanaand bely:

Jesus is ons Koning wat regeer, versorg en oordeel.

Hy sal regeer totdat Hy elke vyand gemaak het ’n voetbank vir sy voete.

Waarna Hy die Skepping aan sy Vader sal onderwerp.

En ons die ewige vreugde sal ingaan.

Amen

[1] JOU ENIGSTE TROOS Die Heidelbergse Kategismus Vir Die Hedendaagse mens. Prof. P.J. de Bruyn [2] JOU ENIGSTE TROOS Die Heidelbergse Kategismus Vir Die Hedendaagse mens. Prof. P.J. de Bruyn

199 views0 comments
bottom of page