GKWP
Daniël 9 (b) - Die sewentig sewetalle

Geliefde gemeente in ons HERE Jesus Christus,
Daniël lees Bybel en bid
U onthou ons preek twee weke gelede.
Ons vind in hoofstuk 9 se begin Daniël besig om Bybel te lees. Jeremia lees hy. En in sy Bybelstudie kom hy agter dat die ballingskap 70 volle jare sal duur. Natuurlik maak dit hom opgewonde! Want hy is al meer as 60 jaar in ballingskap!
Daniël kom in die Woord op die belofte van God af. En dit dring hom om te bid. Hy bely die volk Israel se sonde. Smeek om vergifnis.
En daarop, stuur God die engel Gabriël na Daniël toe. Met ’n openbaring.
Die sewentig jaar van Jeremia is nie die enigste 70 oor die volk Israel nie
Die 70 jaar in Jeremia is nie die enigste 70 wat oor Israel en Jerusalem uitgeroep is nie!
Dan. 9:24 sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal...
Daar is die sewentig jaar van ballingskap. (Hierdie sewentig is natuurlik amper voleindig). Dit is maar enkele jare na hierdie profesie Daniël bereik het dat Koning Kores die Pers aan bewind gekom het en die dekreet uitgevaardig het dat die volk Israel mag terugkeer en hulle stad en tempel herbou – dit is dus op die punt om te gebeur, die sewentig jaar is om). Daar is die sewentig jaar van die ballingskap. En dit is amper verby.
Maar daar is nog ’n 70. God se program vir Israel en Jerusalem behels nog ’n sewentig. Oor wat voorlê. Nou dat die 70 jaar in vervulling gaan, hoor van nog ’n 70.
En nou is dit nie sewentig jaar nie.
Maar sewentig sewetalle.
In die oorspronklike taal staan daar: Sewentig sewes. Dus, weke. Nie sewentig jaar nie, maar sewentig weke.
Die jaarweke van die jubeljaar
As ’n goeie Israeliet wat sy Bybel geken het, sou Daniël dadelik hier dink aan ’n gedeelte in die wet wat ook praat van sewes. En dit is in Lev. 25. Maar daar word die sewes, of dan ‘week’ saam met die woord ‘jaar’ gebruik. So, jaarweke.
Lev. 25:8 Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou 49 jaar is.
Nou goed, Lev. 25 is die wetgewing aan die volk Israel oor die Sabbatsjare en die jubeljaar.
So, die Sabbatswetgewing het nie net gegaan oor die sewende dag nie.
Dit was uitgebrei na elke sewende jaar. Elke sewende jaar moes die Israeliete die land laat rus. Hulle mag nie hulle landerye gesaai het nie. En die opslag van die vorige jare se saaiwerk, dit sal die kos wees in die Sabbatsjaar.
Goed. Maar dan het daar, en dis wat nou aangehaal is, moes die Israeliete elke sewende sabbatsjaar, dit is 49e jaar ’n jubeljaar hou. Dit was ’n algemene jaar van vrylating. Dan moes grond wat uit familie se hande geraak het (vir welke redes), teruggegaan na die oorspronklike familie. Hulle mog nie saai nie, ens. Dit was ’n jaar van lof en vrylating.
Nou goed, Daniël kan nie anders as om dadelik aan die jubeljaar te dink nie.
En, nou lyk dit vir ons asof hierdie sewentig sewes, die sewentig weke in Dan. 9 ook jaarweke was, al staan die woord ‘jaar’ nie hier in Dan. 9 nie, soos wat dit wel in Lev. 25 staan.
En as ons dan sewentig sewetalle, sewentig weke van Dan. 9 as jaarweke neem, dan kom dit uit op 490 jaar.
Nadat die sewentig jaar vna die ballingskap verby is, volg daar 490 jaar. En in die profesie ontvang Daniël ’n uitkyk op wat in die komende 490 jaar sal gebeur.
Vers 24: wat in daardie 70 sewetalle sal gebeur
Vers 24 leer ons wat in daardie 490 jaar sal gebeur. Wat aan die einde daarvan voleindig sal wees. Vers 24 is regtig kern. Want ons lees dat daar ses dinge sal gebeur. Kyk saam met my na vers 24.
Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal om... – en sien saam met my die ses ‘omme’ raak in die vers. Dit is die sesvoudige doelwit van die 49- jaar.
i) Om die goddeloosheid te voleindig.
Die eerste doel is die totnietmaking van die goddeloosheid.
ii) Om die maat van die sondes vol te maak
Die KJV vertaal hierdie sinsnede soos volg: To make an end to sins. Hier gaan dit oor die wegdoen van die sonde.
iii) Om die ongeregtigheid te versoen
Dit is die betaling van sondes. Daniël het die sonde van sy volk bely. En hier kry hy die belofte dat aan die einde van sewentig sewetalle, die ongeregtigheid versoen sal wees!
iv) Om ewige geregtigheid aan te bring
Die offerdiens, soos wat Daniël dit geken het, het maar net tydelike geregtigheid gebring. Daarom moes oor en oor geoffer word. Maar, hier mag Daniël hoor, dat daar aan die einde van die 70 weke ’n ewige geregtigheid aangebring sal word.
v) Om gesig en profeet te beseël.
Dink aan die ou boekrolle. Wanneer jy die een deurgelees het, rol jy dit op en seël dit. Dit beteken, jy is klaar. Wel, daar was ’n hele gros profesieë en visioene wat vorentoe kyk, wat 70 sewetalle van nou af, vervul sal wees.
vi) Om wat hoogheilig is, te salf
Om die Hoogheilige te salf. Die woord vir salf, is die woord messias, en in die Grieks is dit Christus. Sewentig sewetalle van nou af, sal die Hoogheilige gesalf word.
Nou geliefdes, as jy saam met my kyk wat in die sewentig sewetalle sal gebeur, aan die einde daarvan in vervulling sal gaan, as jy saam met my na hierdie ses doelwitte kyk, hoe kan ons anders as om raak te sien, dat oor sewentig sewetalle vanaf Daniël se tyd, 70 sewetalle vanaf die voltooiing van die sewentig jare vna ballingskap – sal die Messias kom.
Vers 24, al ses doelwitte sou in vervulling gaan met die koms van Jesus Christus.