top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniël 1: Gehoorsaam in moeilike omstandighede

Geliefde gemeente in ons HERE Jesus Christus,


Nebukadneser beleër Jerusalem (v1-2)


Die verhaal van Daniël begin met die vertelling van die magtige koning Nebukadnesar van die Babel wat die hoofstad van die Israeliete, Jerusalem, beleër het. Dit het gebeur in die jaar 605 v.C. (2627 jaar gelede).

Hy het die stad oorwin, en die stad ingegaan en gevat uit die stad wat hy wou. Hy neem nie hulle koning nie. Jojakim bly aan as koning, maar sonder werklike mag – hy staan nou onder die juk van Babel.

Maar, hy neem wel ’n getal gevange (ballinge) en ook ’n groot deel van die tempelskatte.

Vertroue op die tempel (Jer. 7)

Jeremia het in die laaste jare voor die ballingskap geprofeteer in Jerusalem. En hy het hulle gewaarsku dat hulle nie op bedrieglike woorde (leuen) moet vertrou nie, in Jer. 7:

Vertrou nie op die bedrieglike woorde nie – wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit...

Sien die volk het vertrou op die tempel. Hulle het gedink die tempel maak hulle immuun teen ’n vyandige inval.

Hulle sou gesê het:

- Solank ons die tempel het, is ons veilig

- Dink jy die Here sal toelaat dat Sy tempel verwoes word? Nooit nie!

- Sodra die tempel bedreig word, sal die HERE intree en ons beskerm!

Deurdat hulle dit geglo het, het hulle voortgegaan met sonde. Die volk steel, pleeg moord, lewe immoreel, pleeg owerspel, egbreuk. Is besig met afgodery. En dan aanbid hulle die HERE in die tempel! En dan sê hulle: Ons is verlos!

Hulle het gedink, hulle kan lewe soos hulle wil, die tempel red hulle.

Maar, die tempel sou hulle nie red nie.

Die tempel is leeggemaak van al die tempelskatte en geneem na ’n afgodstempel. Met hierdie dinge wys die Here dat Hy nie sonde duld nie. Om op die tempel te vertrou, is geen vervanging van bekering van sondes nie.

Die HERE sou hulle verlos het, as hulle hul tot Hom gedraai het.

Jer. 7:5-7 Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar;

vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie—

dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.








God is soewerein

God regeer, of daar ’n tempel is of nie. Hy bly God, maak nie saak wat gebeur op die aarde nie. Om die waarheid te sê, die dinge op die aarde gebeur want Hy is God.

V2 en die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy hand gegee... (met ’n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God...)

God is in beheer van die geskiedenis en heeltemal in staat om sy waarskuwings uit te voer.

Die

- Oorwonne stad

- Beskadigde tempel

- Die weggevoerde skatte

- Die wenende gevangenes en die wat hulle agterlaat

Is alles Sy werk, vir die voortgang van Sy Raad.

Die volk Israel het nederlaag, ondergang, vernietiging beleef.

Hy bly egter die onoorwonne God van hemel en aarde. Wat in en deur al hierdie gebeure werk.


Oekraïne

Ons kan nie anders nie, as om dit te bely oor die nagmerrie wat aan die gang is in die Oekraïne nie.

Uit Psalm 2 wil ek julle aan die volgende herinner:

- Die Oekraïne behoort aan Jesus Christus. Hy is die Koning van die Oekraïne.

- Alle volke behoort aan Hom

- Hy sal wraak neem. Geen verkeerde daad ontgaan Hom nie. Ook maghebbers – God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oog

- Koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome, Hy lei dit waarheen Hy wil

- Ander belangriker oorlog aan die gang – die stryd tussen lig en duisternis. Ander koninkryk. Koninkryk van God. En, ons hoor berigte van groot gains. Mense in die oorloggeteisterde gebiede wat hulle tot Jesus Christus bekeer. Ook in ons eie lewens. Ons is gedwing om vir mekaar te sê: Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

o Ek het dit nodig gevind om weer met my kinders te praat oor die dood.

- Ons almal wens vir ’n groot sterk held wat magtige manne sal regsien en vrede bewerk. Daardie Held is Hy van wie ons sing in Psalm 45

Gord aan die wapens tot die stryd! O Held, U glans en majesteit! oorwinnend ry na die geveg! vir waarheid ootmoed hoogste reg!

Jesus is daardie Held.

Hy sal eenmaal ook op ’n oorlogsperd ry met ’n swaard en oorlog voer. Die oorlog wat ’n einde sal bring aan alle oorloë.

Hy van wie die Engele gesing het:

Eer aan God in die hoogste hemele! Vrede op aarde in die mens ’n welbehae!

- En, dan weet ons dat God ons nie waarborg dat swaarkry en ellende ons nie sal tref nie. Maar, dat Hy in dit met ons sal wees. Ons nooit sal verlaat nie en ons nie bo ons vermoë sal beproef nie.

En laastens, dat daar ’n baie groter oordeel kom as die oorlog wat in die Oekraïne woed. En dit is die oordeel van God op die laaste dag, met die wederkoms van Jesus Christus.

En al wat ek vir jou kan verkondig: Bekeer jou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Bekeer jou weg van jou sonde en neem jou toevlug tot Jesus Christus alleen!


Die vier mannetjies (v3-7)

Nebukadneser was briljant. Hy maak nie die fout van die Farao nie. Hy het die Israeliete in Egipte onderdruk en slawediens laat verrig. Daar is altyd die risiko dat sulke mense dan tot opstand sal kom.

Nee, Nebukadneser is slimmer.

Babilon neem die wêreld in. Spoedig sal diegene wat oorwin is, meer wees as die wat hulle oorwin het. Dit sal militêr eenvoudig nie moontlik wees om ’n onderdrukkende regime te handhaaf deur die hele bekende wêreld van daardie tyd nie. Daar is eenvoudig te veel mense wat jy dan moet onderdruk en te min soldate om dit te doen. So.

Nebukadneser kry ’n ander manier om almal aan hom onderhorig te hou.

Hy neem die room van elke volk wat hy oorwin het, en assimileer (maak hulle deel) van die Babiloniese burgerlike owerheid. Op hierdie manier word die verre lande wat hy ingeneem het, effektief regeer deur mense wat van daardie land af kom. Indien daar dus later van daardie lande in opstand wil kom teen Babel, sou hulle dan effektief teen hulle eie volksgenote in opstand gekom het (teen hulle eie seuns!).

Dis ook die metodiek wat Nebukadneser volg met sy inname van Juda. Daarom beveel hy die hoof van sy hofdienaars (hoof van die burgerdiens) om die beste van Juda se jeug te neem, en hulle in posisies van verantwoordelikheid te plaas. Hulle moet deel word van sy koninklike diens en groeiende burgerlike administrasie.

Aspenas moet vir die regte kandidate soek uit die koninklike familie en van die volk se adel.


Vereistes

- Jong seuns

- Sonder liggaamsgebrek

- Mooi

- Slim