Daniël 11 (a) - Christus is Hoof van die geskiedenis en toekoms


Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,


Elke hoofstuk in hierdie tweede deel van Daniël is ’n gesig op sy eie.

7, 8 en 9.

Maar, die laaste drie hoofstukke is eintlik net een visioen.

Hoofstuk 10, wat ons laasweek behandel het, was die agtergrond tot hierdie visioen.


In Dan. 10 verskyn Iemand aan Daniël nadat D vir drie weke homself onthou het van lekker kos en wyn – en hom aan gebed sou gewy het.


Daardie Iemand, het ons laasweek geargumenteer, is die HERE Jesus (maar, ons het ook gesê, of dit nou Hy self is, of ’n engel van Hom, dis nogsteeds Hy wat optree, al is dit dan nou deur diens van ’n engel.


Die Man het nou vir Daniël gesê – dat sy gebed gehoor is: v12


Dan 10:12 Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;


Maar, hy het nou eers vir 21 dae teen die Vors van die Perse gestaan:


Dan 10:13 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.

Hy moet ook weer teruggaan. Hy moet verder gaan veg teen die vors van die Persië en dan die vors van Griekeland.

So, maar nou het Ek gekom.


Dan 10:14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.

Hy gaan nou, voor Hy teruggaan, hierdie inligting aan Daniël bekendmaak oor die toekoms van God se volk.


En nou in hfst. 11 het ons dit. Hfst. 11-12 is die inligting oor wat met die volk van God sal gebeur – tot en met die einde van dae. Vanoggend net tyd vir die eerste 20 verse. DV volgende preek uit res van die hoofstuk en dan ons laaste preek uit Dan. 12.


Hoofstuk 11:2-20

Dis ’n gedetailleerde beskrywing van die oorloë tussen twee koninkryke. Ons kry besonderhede tot in verband met spesifieke moorde en huwelike. Die twee koninkryke, is die konings van die Noorde en die konings van die Suide.


Vanaf die Perse tot op die koninkryke van die Noorde en die Suide

Maar voor ons by die twee koninkryke kom, het ons eers het ons verse 2-4. Dit gee die geskiedenis vanaf Daniël tot op die aanvang van die twee koninkryke waarvan ons praat.

Onthou, Daniël ontvang die gesig in die tyd van koning Kores van Persië. Die Perse het onlangs vir Babel ingeneem. Maar nou leer Daniël van die Here Jesus dat ook die Perse tot niet sal gaan.

V2 Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen Griekeland.

Die vierde koning na Kores was die beroemde Xerxes van Persië – beter bekend in Afrikaans as Ahasveros. Hy was ryker as enige van sy voorgangers. Daarmee het hy vir hom ’n reuse weermag onderhou. En daarmee het hy Griekeland aangeval. Die van Thermopylae en Salamis is van die bekende veldslae uit hierdie tyd.

Die profesie is vervul net soos die Here aan Daniël vooraf vertel het.

Maar, Persië sou nie die dominante mag bly nie.

V3 Daar sal ’n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos wat hy wil.

Kort voor lank, sou Griekeland opstaan onder die dinamiese leierskap van ’n man met die naam Alexander die Grote. Vers 3 verwys na hom. Hierdie uitstaande en dapper koning, sal die geskiedenis onthou as sekerlik een van die suksesvolste militêre veroweraars van alle tye. Hy het met sy weermagte die Persiese ryk oorwin en met snelle vaart landstreek na landstreek verower. Tot in Indië.

Maar, op jong ouderdom is hy oorlede, maar net 32 jaar.

V4 en as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat dit gehad het nie

Nie een van sy seuns het die koninkryk ontvang nie. Twaalf van sy generaals het die koninkryk onder mekaar verdeel. Dit was ’n tyd van komplot en teenkomplotte. Eindelik is dit opgedeel in vier dele. Dit is ook voorspel in Dan. 8:8. Eindelik sou die vier dele vier koninkryke word: -

- die Ptolemeïse koninkryk Egipte,

- die Seleucidiese ryk in het Ooste,

- die koninkryk Pergamon in Klein-Asië

- en Macedonië

maar nie een sou wees soos in die glorieryke dae van Alexander die Grote nie.


Die twee koninkryke

Die volgende wat ons lees in vers 5, gaan dan juis oor twee van hierdie koninkryke.

V5 en die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hye en heers; sal heerskappy sal ’n groot heerskappy wees.

Die koning van die Suide, is in Egipte. Onthou nou, Egipte sal nooit weer dieselfde wees nie. Alex het dit ingeneem en dit baie vergrieks. So, in die ’53 vertaling is daar opskrif by ons hoofstuk: ‘voorspellinge oor Griekeland’ – en dit is omdat albei hierdie koninkryke waarvan ons nou gaan praat, in wese voortsetting sou wees van die koninkryk van Alexander die Grote.

Die koning van die Suide, wat sterk geword het – dit is die Ptolemeus Soter. Hy neem onder sy vlerk ’n prins met die naam Seleucus. Die Seleucus blyk eindelik briljant te wees en word een van Ptolemeus se generaals. In 312 v.C. maak hierdie generaal Seleucus groot oorwinnings en vestig in die Noorde (en Ooste) ’n aparte koninkryk, gebaseer in Sirië. Nie lank nie of hierdie koninkryk in die Noorde – die koninkryk van die Seleuciede se mag oortref die van die Ptolemeus in die Suide.

V6

Met verloop van tyd het die twee koninkryke ’n soort van alliansie gesluit deur ’n huwelik. Dit het gebeur ongeveer 35 jaar na die dood van Seleucus. Toe is die dogter van koning Ptolemeus Filadelfus, Bernice, met groot prag en praal na die Noorde geneem en die vrou te word van koning Antiochus II van die Noorde.

Die huwelik het egter nie die verlangde effek gehad om die twee koninkryke bymekaar te bring nie. Haar pa is dood. Kort daarna is sy dood, sowel as haar man en hulle seun. Almal vermoor.

V7

“een uit die spruite van haar wortels’

Dis haar broer. Word die volgende koning van die Suide. Hy het bekendgestaan as Ptolemeus Euergetes. Hy val die Noorde aan en wreek die dood van sy suster.

V8

Hy sou ook die beelde van die afgode, silwer en goud uit die Noorde neem en na hom in die Suide bring. En toe die Noorde met rus gelaat.

V9

Na verloop van tyd sou daar weer ’n koning in die Noorde opstaan – Seleucus Calinicius. Hy sou die Suide inval, dit oorweldig en weer terugkeer na sy land – soos ons lees in vers 9.

V10

V10 praat van die seuns van die koning van die Noorde. Hulle name was Seleucus Ceraunus en Antiochus II. Hulle sou ’n groot weermag bymekaarmaak. Die een broer, Seleucus sou op die slagveld omkom, en Antiochus sou voortgaan – en ook Gaza, net langs Egipte inneem – wat weer konflik met die Suide sou aanwakker.

V11

Dit het die koning van die Suide kwaad gemaak. En hoewel die weermag van die Noorde baie groter was, het die koning van die Suide oorwin.

V12

Die koning van die Suide verhef sy hart hierop. Hy sou verdere aanvalle op die Noorde uitvoer, suksesse behaal, tienduisende verslaan, maar nie blywende voordeel daaruit kry nie en terugkeer na sy land en ‘nie sterk bly nie’

V13 -14

Dan weer die koning van die Noorde met tyd sterker word. En weer dominant geword. Want, die koning van Macedonië sou ’n alliansie met die noorde vorm en so gesamentlik die Suide aanval.

Die laaste woorde van vers 14 verwys na ’n opstand onder die Jode in Israel. Hulle het ook hulle ondersteuning aan die koning van die Noorde gegee, in die poging om los te kom van die beheer wat die Suide oor hulle gehad het. Hulle het gemeen dat hulle beter omstandighede sou hê onder die koning van die Noorde (Antiochus) as die koning van die Suide. Maar, hulle was verkeerd. Eindelik sou die groot vervolger van die Joodse volk – onder hierdie Antiochus se seun plaasvind.

V15

Die Noorde sal dan ’n beslissende veldslag wen by die stad Sidon. Die stad is beleër en die grondwerke van die stad is gebruik deur die vyand om die stad binne te dring.

V16

Nou is die Noorde weer die groot mag. Israel (die Pragtige Land) is onder sy beheer en die koning van die Noorde, Antiochus (die grote), maak net wat hy wil.

V17

Maar, hy sou, ten spyte van sy mag net nie daarin slaag om die Suide te oorwin nie. Daarom besluit hy op ’n ander taktiek. Hy sou probeer om die Suide op ’n subtiele wyse in te neem. Hy gee sy dogter, Cleopatra, om met die koning van die Suide te trou. (Nee, dis nie die Cleopatra van Antony and Cleopatra van Shakespeare nie – sy sou eers amper 200 jaar later koningin van Egipte wees).

Sy dogter gebruik om dan die Suide te oorwin. Maar die plan het nie gewerk nie. Sy dogter het toe meer getrou gewees aan haar man (die koning van die Suide) as aan haar pa (koning van die Noorde).

V18 - kuslande

As dit dan misluk, besluit die koning van die Noorde om eerder sy aandag te gee aan die kuslande, die lande aan die Middellandse see. Hy wou veral Klein Asië vir homself verower. Maar hy het meer afgebyt as wat hy kon kou. En ’n Romein met die naam Lucius het hom aangeval en hom (Antiochus die grote) verneder.

V19 - binnelandse sake

Antiochus sou voorts maar aandag gee aan huishoudelike sake van sy eie land en spoedig van die geskiedenistoneel verdwyn.

V20 geldinsamelaar

Hy sou opgevolg word deur Seleucus Philopater. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, was om ’n gesant te stuur om beslag te lê op die tempel fondse van Jerusalem. Dit het nooit gebeur nie. Seleucus Philopater het kort daarna op misterieuse wyse van die toneel af verdwyn.

... maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of oorlog nie.


Al die geskiedenis is moeilik en ingewikkeld

En dalk ook nie vir jou so baie interessant nie. Dis amper onmoontlik vir enigiemand om al die detail van die geskiedenis van die oorloë en verhoudinge tussen die Ptolemeërs en die Seleuciede te ontsyfer nie.

Maar, nou kom ons op ’n punt in die geskiedenis waar ’n sekere Antiochus Epifanes die toneel betree. Hy sou die koning word van die Noorde, die Seleuciede. Ons het reeds van hom gelees in Daniël 8. Hy is baie belangrike figuur vir ons – meer oor hom in die volgende preek (v 21-45).

Ons moet nou nie te bekommerd wees om die geskiedenis heeltemal uit te pluis nie. Maar wat ons moet raaksien is dat die dinge wat voorspel is in die gesig aan Daniël in die derde regeringsjaar van Kores, presies uitgekom het soos voorspel is.

Ons het dit alles gelees as geskiedenis. Asof dit opgeskryf is na dit gebeur het. Maar net, dit is alles opgeskryf lank voor dit gebeur het! God het dit bekendgemaak voor dit gebeur het! En dit moet ons bring wat ons moet leer uit die gedeelte in Daniël 11.

  1. God sê geskiedenis vooruit

Ons sien hier hoe God die geskiedenis vooruit sê. Hy sê dit nie net omdat Hy alwetend is nie. Maar ook omdat Hy almagtig is.

Hy weet wat die toekoms inhou, want Hy bepaal die toekoms.

Let op die gebruik van die woordjie sal in Daniël 11. 117 keer! 55 keer in die eerste 20 verse.

God sê dit sal gebeur. EN dit het.

God beheer die geskiedenis. Hy bring elke gebeurtenis. Hy is soewerein. Hy regeer. Hy doen wat Hom behaag. Niemand kan sy Raad keer nie!

Ps. 33 Die Heer se raad word nooit gekeer nie, dit sal bestaan in ewigheid! Teen Sy besluit is geen verweer nie, bestendig duur dit vir altyd. Salig wie tevore deur Hom is verkore as Sy erf en lot...

Sien, ons lees van die koning doen dit, daardie een doen dat. Hierdie een oorwin, hy verhef sy hart. Hy weet dit nie, maar sy oorwinnings kom uit die hand van God! Hy neem besluite, hy maak calls. Maar hy weet dit nie, sy besluite is deur God voorafbepaal in Sy Ewige Raad.

God beheer die volke. God beheer die politiek.

Dan. 2:20-21 Dan 2:20 Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.

Dan 2:21 Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;

Ons sien dit in ons teks.

Weet u dat dit nie net waar is van Bybelse tye nie.

In 1994 het die ANC regering oorgeneem. God sit konings af en stel konings aan.

Weet u, dit bring vir ons troos.

Want dit maak dat ons vooruit kyk.

Ons het nie die beheer oor die geskiedenis nie. Ons lees dit, ons neem kennis van God se dade in die geskiedenis.

En is dit nie so dat dit wegneem die sinnelose oefening van konstante blaamgewing nie! As die Christene net dit of dat gedoen het, dan sou dit en dat nie so en so gewees het nie. Nee. God beheer die geskiedenis! En Hy sal die werke van Sy hande nie laat vaar nie!

Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet, wat na sy voorneme geroep is (Rom. 8).


Trek nie streep deur verantwoordelikheid nie

Maar, dis baie belangrike maar. Die leer van God se soewereiniteit trek nie ’n streep deur ons verantwoordelikheid nie. Toegegee, dis vir ons ’n verborgenheid.

Maar, God se soewereiniteit mag ons nie tot passiwiteit (niks doen) bring nie. M.a.w.: God het in elkgeval bepaal wat sal gebeur, so ek gaan maar net niks doen nie. EK gaan nie God se besluite verander nie.

Wel, laaste sinnetjie is waar. Maar, dit beteken nie ek moenie gehoorsaam wees nie.

Want, ons moet verstaan dat God deur die gehoorsaamheid van sy kinders werk!

Hy bring sy Raad tot gevolg. Maar Hy gebruik ons daarin! Hy wil na 70 jaar ’n einde maak aan die ballingskap. Maar hoe doen Hy dit? Wel, o.a. deur Daniël wat daarvoor bid! Hy lees die wil van God en bid dat dit gebeur en dit gebeur.

God laat dit nie gebeur sonder Daniël se gebed nie.

Dit bring ons daarby dat God Daniël se gebed deel van Sy raad het.

Soewereiniteit Trek nie streep deur beloftes op gehoorsaamheid nie

Daar is in die Woord beloftes op aksies van mense.

- Jak._4:8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.

- Jak. 1:5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

- Jak. 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

- Jak. 4:10 Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

So, jy mag nie sê: Wel, dis in elkgeval ewig bepaal of God of Hy tot My sal nader, so dit help nie ek verroer ’n vinger nie. Wel, dit is bepaal of God tot jou sal nader.

Maar God nader as jy tot Hom nader. So, doen wat God beveel! Verstaan jy?

Troos vir ons in kerk se geskiedenis. Troos vir ons in volksgeskiedenis. Troos vir ons in eie lewe.

Want God het dinge bepaal in my lewe soos dit is.

Maar, ek mag nie dit gebruik as verskoning om ongehoorsaam te wees nie!


Verborge en geopenbaarde wil

Deut. 29:29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

God se verborge wil is die dinge wat nie in jou beheer is nie.

Maar sy geopenbaarde wil is sy woord. Sy bevele. Sy wette. Sy evangelie. Doen wat Hy daarin vra. Moenie God se verborge raad probeer uitpluis nie. Dis verborge. Maar hou jou besig met dit wat geopenbaar is. En doen dit.


Wat God voorspel, gebeur

Dit het ons baie duidelik in vanoggend se teks gesien.

Maar daar is nog iets wat voorspel is, die sentrum van die geskiedenis. Wat waar geword het.

- Jes. 7:14 Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.

- Miga 5:1 En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

Hierdie belofte het God gemaak oor Sy Seun.

Wat die sonde van die wêreld sal wegneem. Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Oor Hom is geprofeteer dat Hy sal ly:

Isa 53:3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

Isa 53:4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

Maar ook dat sy lyding vir ons genesing bring:

Isa 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.


Alles wat gebeur het in die geskiedenis van die volke was om die tyd gereed te maak vir Hom

Gal_4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,

Al die voorgeskiedenis: Babel, Persië, Griekeland, die Noorde en Suide. Romeine. Berei die weg vir die koms van Sy Seun!


Steeds besig met Sy Raad


Weet U waarheen is dit oppad?

Ef. 1:9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,

Ef. 1:10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—

Hy is besig om alles te berei vir die tweede koms van Sy Seun.

Mag en majesteit.

Alles gaan oor Hom. Al die oorloë, groot magtige mense se besluite. Gaan oor Jesus. Niemand kan Hom keer nie.

Vraag aan jou vandag: Glo jy in Hom?


God se beloftes wat nog onvervuld is

Hy het gesê, en dit het gebeur.

Wat dink jy van die beloftes wat Hy gemaak het wat nog nie in vervulling?

Sal gebeur!

Groot kosmiese van sy wederkoms. Die nuwe hemel en die nuwe aarde:

- Openb. 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee,

- en daar sal geen dood meer wees nie;

- ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.


Herinner aan nog beloftes:

Ek wil jou herinner en troos:

- Aangesig sal sien

- Soek allereers koninkryk en geregtigheid en alles vir ons bygevoeg word

- Werp al bekommernisse op Hom want Hy sorg vir julle

- Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie

- Niemand sal julle uit My hand ruk nie

- Dat Hy gaan om vir ons plek te berei (as Hy gegaan het, sal Hy ons na Hom toe neem)

- Bewaar vir ons onbesmette erfenis in die hemel in sy krag.

God is in beheer.

Isa 41:10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.


God is besig om sy raad te volvoer. Sy koninkryk kom. Niemand gaan Hom keer nie. Ons bring nie sy Koninkryk nie. Hy bring dit . Ons is uit genade, medewerkers. Ons lewe nou reeds as burgers van daardie koninkryk.

Jesus Christus is Koning van die geskiedenis

Maar ook van die toekoms.

En alles ten goede meewerk vir die wat na sy voorneme geroep is.

Amen

5 views0 comments