Ds Pieter le Roux
Daniël 5: Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is
Updated: May 12, 2022
Geliefde gemeente in ons HERE Jesus Christus,
God is geduldig. Hy is lankmoedig. Hy is gou om te vergewe.
Ons ken die refrein wat op meer as een plek in die Skrif voorkom.
Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 103:8)[1]
Dis Hom wat ons vanoggend verkondig.
Ons sien Sy genade, Barmhartigheid, lankmoedigheid en goedheid die duidelikste in Sy Seun, Jesus Christus se vleeswording, sterwe en opstanding.
Maar weet u wat leer Daniël 5 ons?
In Sy lankmoedigheid gaan God nie dadelik oor tot straf nie, maar dit beteken nie dat Hy nooit oorgaan tot straf nie.
Net omdat God nie optree as ‘n leier goddelose opmerkings maak nie, beteken nie dat God nooit gaan optree nie.
God sien dit raak as Sy heilige dinge ontheilig word. Hy sien dit raak as Sy genade vertrap word. In sy lankmoedigheid straf Hy dit nie dadelik nie. Maar dit beteken nie dat Hy nooit gaan straf nie.
Kom ons kyk hoe ons God beter leer ken in hierdie grootse hoofstuk: Daniël 5.
Belsasar
Koning Belsasar gooi ‘n groot party. Baie groot. Vir 1000 van sy amptenare en sy vrouens en sy byvrouens. Daar was kos. En wyn. En genoeg daarvan.
Belsasar, die seun van Nebukadneser.
Uit die buite Bybelse bronne lei ons af dat Belsasar wel koning was, maar nie die enigste koning nie. Hy was ’n mede-koning.
Hoe presies die dinge in mekaar steek, is ons nie presies seker nie. Maar, dit lyk of hy saam met sy broer Nabonidus regeer. Nabonidus is egter ten tyde van die geleentheid nie in Babel nie. Hy lei die Babelse weermagte teen die weermagte van die Mede en Perse gaan afweer.
Wat interessant is, Dit is duidelik dat teen die tyd wat Belsasar die party gereël het, die weermagte van die vyand reeds baie naby die stad was, gereed om die stad in te neem. Vraag is:
So hoekom sal hy so groot banket reël op so ’n tyd?
Dis moontlik dat Belsasar nie bewus was op hierdie stadium dat Nabonidus se weermag reeds verslaan is deur die Perse nie – kommunikasie was destyds nie soos vandag nie.
En, daarby het hy sekerlik nie verwag dat die Meders en Perse se weermag in staat is om te oorwin nie. En, natuurlik was Babel beskou as oninneembare stad.
Moenie dit ontheilig wat heilig is nie
Belsasar, nadat die wyn reeds gevloei het, gee beveel dat die goue en silwervoorwerpe wat sy vader Nebukadneser gebring het uit die tempel van Jerusalem – sodat hy en sy maghebbers en sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink.
Hierdie voorwerpe was heilig vir die HERE.
Mens kan bv. Dink aan sorg waarmee die voorwerpe vervaardig moes word in tyd van Moses: die reukofferaltaar. Daar moes spesiale pale vervaardig word (destyds toe Moses bevel gekry het om hulle te maak), sodat niemand die altaar self sou dra nie. Die pale sou deur ringe aan die kant van die altaar gesteek word, en dan so gedra word.
Net so die verbondsark. Geen menslike hand mog dit aanraak nie.
Hoekom nie?
Want die mens is onrein vanweë die sonde. Eenkeer, in die tyd van Dawid, is die ark, teen die bevel van die Here op ‘n wa gelaai.
Terwyl die beeste loop met die wa, struikel hulle en die ark begin afval. ‘n Man met die naam Ussa steek sy hand uit om te keer dat die ark nie val nie.
Die toorn van die HERE het teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor die vergryp, sodat hy daar by die ark gesterf het[2].
Ons moet verstaan dat God heilig is en ons sondig. Ons is baie meer vuil as die grond waarop die ark sou val daardie dag. Ons moenie die heilige dinge van God ontheilig nie.
As dit is hoe God gemaak het met Ussa wat regtig wou help, hoe sal Hy maak met Belsasar wat God se heilige bekers gebruik vir so ’n partytjie?
Hoe ontheilig ons die heilige dinge van God?
Ons het nie meer die heilige voorwerpe van die tempel nie. Dit beteken egter nie dat daar nie vir ons ‘n toepassing hier lê nie.
Ons lees in 1 Kor. 6:18-20
Vlug vir die hoerery... of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is... nie?
Ons het nie die tempel in Jerusalem nie. Ons het ook nie die heilige voorwerpe van die tempel van Jerusalem nie. Maar ons is die tempel. Ons liggame is die tempel van die Heilige God. Ons is heilige voorwerpe vir God. Daarom moet ons ons liggame gebruik vir heilige doeleindes.
Of 1 Tess. 4:3-6
Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het.
God deel nie sy heerlikheid met ander nie
Belsasar laat nie net drink uit die heilige bekers van die Here nie. Hy gaan nog verder.
Hy en die saal vol mense begin sing. As die wyn gevloei het, dan begin mense soms sing. En wat sing hulle? Hulle sing tot lof van die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip.
Nou Belsasar het nie die bestaan van Jahweh, die God van Israel ontken nie. Maar hy bring die goud en silwer van die God van Israel, en gebruik dit om die gode van Babilon te aanbid. En in sy agterkop, maak hy tog die God van Israel onderdanig aan die gode van Babel.
Maar, die God van Israel, die God van die hemel, maak Homself nie onderdanig aan enige afgod nie.
Ps. 96:4, 5
Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode. Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak!
God deel nie Sy heerlikheid met enigiemand anders nie.
Net soos die keer met die Filistyne en Dagon
Laat mens dink aan daardie gebeure. 1 Sam. 5. Die Filistyne ontken nie die bestaan van die God van Israel nie. Hulle vernietig nie die ark nie. Nee, hulle plaas dit in hulle tempel reg langs hulle afgod Dagon. Die volgende oggend is Dagon op sy gesig. God laat dit lyk of die Dagon Hom aanbid!
Die Filistyne kry nie die boodskap nie. Dagon het net omgeval. Hulle sit hom regop. Die volgende oggend het hy weer geval. Die keer het sy kop en hande afgebreek. Nou kry hulle die boodskap. Die ark moenie langer hier bly nie. Die God van Israel se hand is teen ons en teen ons god Dagon.
Toepassing
Hierdie vorm van afgodery, die een waar die bestaan van God, die Vader van Jesus Christus, nie ontken word nie, maar dat Hy langs ander gode geplaas word, is nie vreemd in ons dag nie.
So vele van mense uit van die ander kulture in ons land, ontken nie die bestaan van Jesus nie, maar hulle dien Hom saam met bv. Voorvaders.
Maar, voor jy te vinnig gerus voel. Jy en ek kan net so maklik vir Jesus op die rak sit saam met ons afgode.
Ons dien Hom Sondag, maar die res van die week dien ons ons ander gode – die god van sport, familie, geld, plesier.
Jes. 42:8
Ek is die HERE, dit is My Naam; en My eer sal Ek aan geen ander gee, of ook My lof aan die gesnede beelde nie.
Jes. 48: 11
... Ek sal My eer aan geen ander gee nie.
Draai nie na God as laaste uitweg nie
En as Belsasar en sy maghebbers, vroue en byvroue op hulle joligste is – kom daar die vingers van ’n mens se hand te voorskyn. Teenoor die kandelaar (sodat almal in die lig van die kandelaar duidelik kan sien), skryf die hand in die kalk van die muur van die koninklike paleis!
En, die jolyt is oombliklik op ‘n end. Alle grappies op ‘n stokkie. God verander meer as 1000 mense se partytjie in ‘n oomblik.
(Terloops, ons doen goed as ons ons jolyt voor die aangesig van die HERE bedink. Dit beteken eenvoudig dat ek nie my partytjie beplan sonder om aan die HERE te dink nie. Dat ek dit so inrig dat ek Hom graag daar sal wil hê. Hy sal in elkgeval daar wees. Maar dat ek my partytjie so inrig dat Hy deel van dit is. My troue, familiekuiers, verjaardagpartytjie, huweliksherdenking).
Prediker 2:25 Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?
Belsasar se partytjie het nie rekening gehou met die regering van die Heilige God nie.
En die Heilige van Israel steek ’n stokkie voor die jolyt. (Handklap), stop Hy dit.
Die koning se gelaatskleur verander. Hy word bleek. Die bloed vloei uit sy gesig. Sy gedagtes verskrik hom. Die gewrigte van sy heupe raak los. Sy knieë slaan teen mekaar. Hy is bang. Angs oorval hom.
In sy angs roep hy uit:
Bring die besweerders, die Chaldeërs en die waarseêrs. En vir hulle sê hy: Enige een wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy sal met purper beklee word, en ’n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde in rang sal hy uitgeroep word! (Terloops, derde in rang – want eerste is sy broer, dan hy – en derde dan sal hy die persoon maak wat die skrif kan lees en uitlê.
Al die wyse manne kom , maar hulle kon nie die woorde lees of uitlê nie. Toe is die koning nog meer angsbevange. Ook sy maghebbers was in verwarring.
Op die punt kom die koningin die saal binne.
Dit kan nie sy eie vrou wees nie – sy vroue en byvroue is immers reeds by die partytjie.
Dit kan die koning se vrou wees, sy broer. Of dit kan sy ma wees wat nog lewe. Queen mother. Sy het duidelik ’n langer geheue as Belsasar.
Daar is ’n man in jou koninkryk wat insig en wysheid het. Jou pa, Nebukadneser het hom as hoof bo van die wyse manne van Babel aangestel. Sy naam is Daniël, jou pa het hom Beltsasar genoem. Roep hom, hy sal jou die uitleg te kenne gee.
So word Daniël geroep.
Erken jy God se oneindige wysheid?
Belsasar (die koning) erken nie die wysheid van die God van die hemel nie. Maar, nou is hy desperaat en is nou bereid dat enigiemand hom help.
Vraag is: Erken jy die oneindige wysheid van God? Soek jy eerste Sy wysheid in die bladsye van die Bybel?
Of sal jy net as laaste uitweg (if all else fails), in desperaatheid tot Hom keer vir wysheid en raad?
So baie mense lewe asof God se wysheid onbelangrik en irrelevant is. Hulle hoor van Sy wysheid, maar hulle soek dit nie. Dan, as hulle lewe opgemors is deur sondige besluite, dan roep hulle tot God. Net soos Belsasar maak hulle dan beloftes tot God – as Hy hulle net sal uithelp.
Die man wat ongedissiplineerd was
In sy kommentaar op die gedeelte, skryf Rodney Storz, van ’n naam-Christen wat hy geken het. Hy het egter ’n baie ongedissiplineerde en goddelose lewe gelei. Nie mooi met sy vrou nie en alkohol misbruik. Sy besigheid vernietig. Ontrou aan sy vrou by meer as een geleentheid.
- Hulle het probeer om hom betrokke te kry by ’n Bybelstudie – hy wou nie
- Aangemoedig om gereeld eredienste by te woon – eerder sport gekyk
- Uitgedaag om elke dag sy Bybel te lees – maar hy het nie tyd gehad nie.
- Hy het geen behoefte gehad om God se wysheid te soek in sy lewe nie. Hy het eerder plesier gesoek.
Toe hy egter op die punt is om alles te verloor, toe roep hy tot die HERE, en soek die hulp van die mense van die kerk. Een van die lidmate het hom gevat na ’n rehab vir drank en dwelm misbruik. Hy het die predikant gaan sien en hom voorgeneem om elke week te kom vir dissipelskap. Hy het beloof om elke Sondag oggend en aanddiens toe te kom.
Al hierdie dinge het dit egter gou geblyk was maar leë beloftes – hy het dit net gedoen om sy gesin terug te kry. Hy het nooit regtig belanggestel om die wysheid van God te kom soek nie – net soos Belsasar. Die man was spoedig weer terug by die bottel.
So het Belsasar, toe die HERE hom kon help, bereid gewees om Sy hulp te vra. Maar nie omdat hy regtig God se aangesig gesoek het nie. Hy soek sy goed, maar nie vir Hom nie.
Jy het geweet, Belsasar
Daniël kom in die saal in. Hy sien wat daar aangaan. Hy sien die bekers wat uit die tempel kom. Daniël is nie in dit vir die geld nie
Die koning beloof hom klere, goud en ’n posisie (derde in die koninkryk) as hy dit kan lees en uitlê.
Daniël stel nie belang nie.
U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan ’n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitleg aan hom bekend maak.
O, Daniël is nie in dit vir die geld nie. Hy gaan nie die woord van die Here bring vir eie gewin nie. Ek wonder hoe sal ons predikante vaar op hierdie punt. Mag die HERE ons help om dit nie vir die geld te doen nie!
Daniël begin sy uitleg met geskiedenis van Nebukadneser
Daniël begin sy antwoord met die geskiedenis van Nebukadneser:
- God het aan hom die koningskap, heerlikheid en majesteit gegee.
- A.g.v. die grootheid wat God aan hom verleen het, het volke vir hom gesidder, wie hy wou het hy doodgemaak, wie hy wou het hy laat lewe. Wie hy wou het hy verhoog, wie hy wou het hy verneder.
- Net toe sy hart hom verhef het en hy oormoedig geword het, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, sy heerlikheid is hom ontneem.
- Uit mense verstoot, ens.
- Totdat hy erken het dat God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor aanstel wie Hy wil!
Maar u het u hart nie verneder nie...
Alhoewel u dit alles weet.
Jy het dit alles geweet Belsasar. Jy ken die geskiedenis.
- Die vier ballinge en hulle wysheid as jong seuns.
- Dan. 2 die droom van die beeld en dat Daniël dit uitgelê het
- Dan. 3 Die manne in die oond
- Dan. 4 Die droom van die boom wat afgekap word.
Jy het dit alles geweet.
En tog het jy jou hart nie verneder nie. Tog.
Broer, suster, is jou hart laag voor God? Is jy onderwerp aan Hom?
Ps. 51:18-19
Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het u geen behae nie. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie.
Dit het jy geweet. En jy het nooit op daardie punt gekom nie. Jy was in jou oormoed groot.
God hou jou asem in Sy hand
Maar u, Belsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet!
V23 maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor Wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie!
Broer en suster – vereer jy die God in Wie se hand jou asem is? Voor wie al jou paaie is?
Moenie langer wag nie, bekeer jou en kniel voor Hom!
Daniël sê nie wat die koning graag wou hoor nie
En dan kom Daniël en lees die skrif.
(Mene, mene, tekel ufarsin)
· Mene – getel. Jou dae is getel!
· Tekel – geweeg
o Elke daad van jou lewe is geweeg deur God.
o God het notisie geneem van elke ding wat Hy aan jou bekendgemaak het, en wat jy verwerp het. Elke geleentheid wat jy as seun gehad het om jou tot God te bekeer.
o Jou geheime sondes, jou vermorste ure, dae en jare. Jou wreedheid, jou trots, jou wilde partytjies, dronkenskap, jou versuim van heilige dinge. Jou geestelike weerstand.
o GOD HET DIT ALS GEWEEG.
o Hy het jou lewe tot vandag geweeg. En dit is te lig bevind.
o As mense God bespot, dan ignoreer Hy dit nie.