top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniël 9 (a) Daniël se gebed


Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,


Daar is drie dele aan hierdie hoofstuk:

i) V1-2 lees ons van ’n ontdekking wat Daniël gemaak het.

ii) Grootste deel van die hfst.: verse 3-19

iii) Derde deel verse 20-27: ’n Groot openbaring

Ons sal nie vanoggend tyd kry vir die derde deel nie.


Daniël se ontdekking


In verse 1-2 lees ons daarvan. Om sy ontdekking te verstaan, moet ons net weer dink aan die gebeure van hfst. 1. Dit was die jaar 605 v.C. Nebukadneser van Babel het Jerusalem ingeneem. Hy het Daniël, sy vriende en nog ’n groot aantal mense as ballinge na Babel weggevoer.

Die meerderheid van die Israeliete is in intervalle weggevoer na Babel daarna.

Dit was, volgens ons berekeninge, 68 jaar gelede. Daniël was nou in Babel vir amper 70 jaar.


So, in Daniël 9, in die eerste regeringsjaar van Darius die Meder, is Daniël ’n ou man. Hy was 14 toe hy weggevoer is. Hy is nou 82.


Daniël het baie dinge al beleef. Babilon het geval. Die Meders en Perse het die Babelse weermag verslaan. Daniël is nou ’n amptenaar in die regering van die Meders en Perse. Hy het die hoogste posisie in die ryk, naas die koning.


Dis ’n leeftyd sedert hy as jong seun uit Jerusalem weggevoer is. Al herinneringe wat hy het daaraan.

En tog vind ons die Daniël in hierdie hoofstuk: Besig om sy Bybel te lees! Hy lees die profeet Jeremia!

Daniël, die man wat Geesgeïnspireerde drome en visioene ontvang het – lees sy Bybel.


Hy sou as jong seun geweet het van Jeremia, wat toe profeet was. Moontlik dat hy hom in persoon gehoor preek het.


Jeremia se profesieë is opgeteken. En Daniël het dit gelees.


En, terwyl hy lees, lees hy iets besonders raak!


Hy lees dat die ballingskap 70 volle jare sou duur.


Jer. 25:8-11

V8 Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadresar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.

Dis presies wat gebeur het. Die Babiloniërs, die geslagte van die Noorde en hulle koning, hét gekom en die banvloek oor hulle gebring.


V10 En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.


Dit is wat gebeur het. Jongmense wat op trou gestaan het, is toe nooit getroud nie, vanweë die ballingskap.

V11 en hierdie hele land sal ’n puinhoop, ’n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.

Hy sou verder gelees het, en nie lank daarna nie, sou hy lees Jer. 29:10-14

Want so sê die Here, as eers 70 jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.

Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.

Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap laat wegvoer het.

Hier het hy dit weer:

70 jaar, sal Ek op julle ag gee.

Maar let op in hierdie gedeelte, hoe word die belofte van die HERE verbind met gebed:

- Sal Ek op julle ag gee (as hulle vra)

- Dan sal julle my aanroep, en heengaan en tot My roep en tot My bid en Ek sal na julle luister.

- Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.

- Ek sal My deur julle laat vind.

Die belofte van God word verbind met gebed!

So, hier sien ons iets raak: Dat God se beloftes nie die kinders van die Here passief moet maak nie. Ons moenie stilsit en passief wees en niks doen terwyl ons wag op die vervulling van die belofte nie.

Daniël het nie so benadering geken nie.

Nee, die belofte van die Here word vir hom die rede om die harde werk van gebed te doen.

En weet u wat leer die geskiedenis?

Binne ’n paar maande hierna, was Darius iets van die verlede. Kores die Pers het die koning geword. En weet u watter skriftelike oproep het hy deur sy hele koninkryk laat gaan? Ons lees dit in Esra 1



Esra 1:1-4 En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE—sodat die woord van die HERE uit die mond van Jeremía vervul sou word—die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy ‘n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê:

So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.

Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is.

En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef—hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is.


God het dit beloof. Daniël het daarvoor gebid. En dit het gebeur.

Ons moet hierdie nie miskyk nie. Die oorsaak van hulle terugkeer was natuurlik Sy belofte. Maar ook die gebede van die volk. God tree op in die geskiedenis, agv sy beloftes. Maar ook die gebede van Sy kinders.

Dis wat dit beteken om te bid volgens God se wil. Die NT praat baie hiervan. Dis eintlik baie eenvoudig. Dis om uit die bladsye van die Bybel vas te stel watter beloftes God gegee het, en daarvoor te bid!


1Jn_5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.

- Het God belowe dat die evangelie sal uitbrei na die einde van die aarde? Hy het! Laat ons dan daarvoor bid!

- Het God beloof dat as Sy Woord uitgaan, dit nie onverrigter sake na Hom sal terugkeer nie? Hy het! Laat ons dan daarvoor bid!

- Het God beloof dat Sy Seun weer sal kom in heerlikheid en mag? Hy het! Laat ons dan ons stemme voeg by Johannes in Openb. 22:20 Amen, ja kom, Here Jesus!

Isa_62:6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie


Daniël se gebed