top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniel 6 Daniël is bereid om te sterf vir sy band met God

En so kom ons vanoggend by Daniël in die Leeukuil.


Babel is ingeneem deur die Meders en Perse. Belsasar is doodgemaak, en ’n man met die naam Darius, word die koning van die oorgeneemde ryk van Meders en Perse.

Die tweede koninkryk van Nebukadneser se droom is aan bewind.

Darius het die moeilike taak om die Babelse ryk oor te neem en dit nuwe rigting en identiteit te gee.


Die administratiewe moeilikhede moes reusagtig groot gewees het en die eerste paar verse vertel vir ons hoe hy te werk gegaan het. Hy het 120 landvoogde aangestel, elkeen oor ’n gebied. Hulle het gerapporteer aan drie ministers wat oor hulle aangestel was – sodat die koning nie skade sou ly nie. 40 landvoogde rapporteer aan ’n minister.

Die drie ministers was op hulle beurt gerapporteer aan die koning homself.


Hoe kry Daniël so hoë posisie?


Een van hierdie drie ministers was Daniël. ’n Besondere hoë posisie in die nuwe koninkryk. Hoe is dit moontlik, wonder jy?

Wel, eerstens, gewoonlik wanneer daar ’n bewind oorname is, het jy nie noodwendig al die kundigheid nie. Van die ou amptenare word vir ’n tyd (of permanent) behou. As jy pas die Babelse weermag militêr gewen het, beteken dit nog nie jy kan die Babelse ryk run nie. Dis ’n perd van ’n ander kleur.

So was dit ook in ons eie land met die Nasionale Party oorname in 1948 – daar is van die ou Suid-Afrikaanse party amptenare in die regering behou om kontinuïteit te verleen. So was dit ook in 1994 met die ANC oorname, waar daar vir ’n tyd lank amptenare van die NP behou is.

So was dit ongetwyfeld ook in Babel.

Maar, nog ’n rede. Wanneer jy skielik op groot skaal amptenare moet aanstel, dan is die gevaar van grootskaalse bedrog en korrupsie baie groot. Ons moet onthou dat die Babelse ryk geweldig ryk was met vet staatskoffers. ’n Maghebber het mense met integriteit nodig in hoë posisies – wat self nie geld sal steel nie, en so ook korrupsie in die regering kan hokslaan.

Daniël se reputasie as staatsman was skoon. ’n Man met integriteit, nie belang gestel om homself te verryk nie (soos ons o.a. ook gesien het toe hy die skrif teen die muur gelees en uitgelê het vir die koning).

Die nuwe koning het in Daniël iemand gehad wat sal toesien dat hy nie skade ly nie.


Daniël munt uit


Daniël het uitgemunt bo die ander twee ministers (en natuurlik die 120 landvoogde), soveel so dat die koning van plan was om hom oor die hele ryk aan te stel. ’n Skuif in die hiërargie van die koninkryk is oorweeg, wat sou maak dat een van die konings bo die ander ministers sou inskuif en in effek die koning se adjudant sou word.





Daniël was getrou en nie nalatig nie


En dit als gee aanleiding tot die komplot teen Daniël. Eers soek hulle ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël m.b.t. die regering, “maar hulle kon geen enkele grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie”.


En net hier moet ons raaksien. Daniël het uitgemunt. En daar is geen twyfel dat sy getrouheid en die feit dat hy nie nalatig was nie, grootliks bygedra het daartoe dat hy uitgemunt het nie.


Maar, nie alle getroues sal altyd in alles uitmunt nie. Dit moenie ons begeerte wees nie. Maar eerder om getrou te wees en nie nalatig nie. Almal ontvang nie ewe veel gawes nie. Hoekom nie? Wel, omdat God gawes gee soos Hy wil. Ons fokus moenie in die eerste plek wees om die beste te wees van almal nie. Maar eerder om met die gawes wat ek ontvang het, getrou te wees. Dis natuurlik die enigste manier waarop jou gawes op die beste manier ontwikkel: as jy getrou is en nie nalatig in die gebruik daarvan nie.


Kinders, dit begin by die klein dinge. Deur jou bed op te maak in die oggend as jy opstaan. Deur jou handdoek op te tel, deur getrou te wees in die klein dinge, maak dit jou later getrou in die groot dinge.


Die komplot


Die ministers en landvoogde kom tot die slotsom:

V6 Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.


Is dit nie so nie, dat dit van Christene gesê moet kan word – ook van jou en my: Dat daar geen enkele aanklag teen ons gevind kan word nie, tensy mense dit vind in ons godsdiens!


Dan die komplot – hulle gaan na die koning toe. En sê:


V7 al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne het beraadslaag dat die koning ’n verordening moet uitvaardig en ’n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.

Stel nou die verbod vas, o koning, en laat ’n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is.


Weet julle wat gebeur hier?


Die Satan val Daniël se verhouding met die HERE aan. Die band tussen God en sy kind. Die verbond. Die Satan gebruik hierdie staatsmanne om die verbond aan te val.

Hul sê kom nou, laat ons hul bande breek...


Die koning se reaksie


Die koning is gevlei. Hierdie groot staatsmanne van hom dink dat hy geëer moet word amper soos ’n god. En dit maak sy oë toe vir die boosheid van hulle handeling.


Want een feit staan soos ’n olifant in die kamer. En die koning mis dit. As al die ministers en landvoogde dit uitgedink het, waar is die een minister, die mees gesiene? Waarom is hy nie daar nie? Die koning moes ’n rot geruik het, en hy het nie.


Wat doen Darius? Hy skryf die wet uit in die naam van die koning as ’n onherroeplike wet van Meders en Perse. Elkeen wat vir tydperk van 30 dae bid tot enige god (of mens) behalwe deur die koning, sal in die leeukuil gegooi word.


Wat beteken dit?


Wel, dit beteken dat Darius, die koning, die aardse verteenwoordiger van alle gode wat mag bestaan, sou wees. En geen gebede gebid mag word, behalwe gebede wat deur hom sou gaan.

Godsdiens was nie verbied nie. Gebede tot die verskeie gode in Babel kon voortgaan, behalwe, alle gebede moes deur Darius gaan.


Wat doen Daniël?


Wat lees ons, wat doen Daniël toe hy verneem van die verbod?


V11 net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.


Moet ons dan nie in die binnekamer bid nie?


Jesus sê mos immers so in Matt. 6:6:

Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is, en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde!


Wel, die saak staan so: Daniël, as ’n baie hoë amptenaar in die regering, sou diensknegte in sy woning gehad het. Dit sou onmoontlik wees om skelm te bid. Want hulle het dit geweet.


So, Daniël se gebede was nie om raakgesien te word nie, maar dit was ’n getuienis.

Daardie binnekamer dui veral op iemand se motief hoekom hy bid.


So Daniël het die gebruik gehad om drie maal per dag so te bid met oop vensters. Sy motief was nie sodat mense hom sou sien nie. Dit is duidelik.


Sy gebede was nie om spoggerig te wees nie, maar eerder om God te verheerlik.


Daniël se eintlike leeukuil was in sy kamer


Kan u die aanvalle van die Satan uitdink in daardie kamer? Die aanvegtinge wat Daniël moes beleef? Al die verskonings wat in sy gemoed opgekom het? Dis net 30 dae. Dink aan als wat jy gaan verloor. Dink aan die getuienis wat jy kan hê as eerste in bevel in die koninkryk! Wees net nou ongehoorsaam.

Die eintlike leeukuil was daar. In sy kamer.


En die grootste wonder was nie die leeus se bekke wat gesluit was nie. Maar dat Daniël nee kon sê vir die verkeerde. En ja kon sê. Dit is die groot wonder van die verhaal. Wat Daniël net in die krag van die HERE kon regkry.


Hulle vind hom terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek


Vind jou kinders jou soms so?

Nie omdat jy wil afshow nie. Maar omdat hulle jou uitvang dat jy bid?

Geseënd is die kinders wat op hulle pa instap en vind dat hy bid.


Die koning probeer hom loskry


Een of ander skuiwergat (loophole) in die wet vind. Hy spook die hele dag. Maar, eindelik is die druk van die amptenare te veel.

Daniël in die leeukuil.

Gat verseël met die koning se ring.


Koning slaap niks


Koning slaap niks nie.


Daniël se tyd in die leeukuil


Daniël, se nag verloop anders. Hy beleef nie die aanvegtinge nie. Maar die teenwoordigheid van die Engel van die HERE.

Nie meer die Satan wat hom aanval nie. Maar Christus, die engel van die Here, is nou met hom, en het die bekke van die leeus gesluit.

Daniël soek die HERE met alles in hom is – al gaan dit sy lewe kos!


Sy hoogste begeerte is die teenwoordigheid van God


- Een ding dit het ek allermees te begeer (Ps. 27)

o Ps. 27:4 Een ding het ek van die HERE begeer en dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikhede van die HERE te aanskou en te ondersoek in Sy tempel

- Wie het ek in die hemel? (Ps. 71)

o Ps. 71:23 Wie het Ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.


En dit is Jesus Christus se hoogste begeerte


Niks vir Hom so kosbaar as die band met Sy Vader nie.


Daniël het elke dag, drie maal per dag gebid.


Ons HERE Jesus was hierin vir ons die voorbeeld. Ons lees in

- Matt. 14:23 En nadat Hy die skare weggestuur het , klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.

- Mark. 1:35 En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid.

- Luk. 6:12 En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring.

Niks vir Hom so kosbaar soos Sy band met die Vader nie.


En die Satan sou hierdie band aanval


- Net 30 dae, Daniël. Dis nie so erg nie? Sien die groter goed wat hieruit kan kom! As jy net vir 30 dae, dan kan jy tog voortgaan in jou hoë posisie – en dink net watter groot invloed kan jy hê as jy nou net bietjie ophou. Dink net aan al die voordele!

- Jesus in die woestyn: Al die koninkryke sal ek jou gee, as U neerval en my aanbid.


Jy het mos gekom om die koninkryke van die wêreld los te koop uit my mag. i.p.v. die weg van lyding, net een knieval!


Hierdie bose komplot teen Daniël. Meesterlik.


Teen Jesus sou tradisionele vyande saamspan om Hom te neutraliseer. Die Fariseërs, Sadduseërs en selfs die Herodiane – aartsvyande in die politiek van Israel – hulle span saam om Hom vas te trek.


Hulle soek ook beskuldiging teen Jesus


Hulle kon niks teen Daniël kry nie. Getrou en in niks nalatig nie. Al hoe hulle iets gaan kry, weet hulle, is as hulle dit vind in sy Godsdiens. In sy identiteit. In wie hy is. Daniël, kneg van die Allerhoogste. Kind van God. Verbind aan die lewende God.


Hulle kon ook niks teen Jesus inbring nie. Alle soorte beskuldigings is teen Hom ingebring. Op die ou end het hulle Hom skuldig bevind nie oor een of ander oortreding nie, maar op grond van Wie Hy is. Die Seun van die lewende God.


Jesus ontvang die doodsvonnis


Daniël ontvang die doodsvonnis vir sy gehoorsaamheid. Hy is gehoorsaam tot die dood toe.


Jesus kry ook die doodsvonnis vir Sy gehoorsaamheid.

Maar hier vind ons die groot verskil tussen Daniël en Jesus.


Daniël, self ’n sondaar, word daardie nag verlos uit die doodsvonnis. In die voltrekking van sy vonnis word hy verlos. En in die voltrekking van Sy vonnis, beleef hy die heerlike teenwoordigheid van God. Is dit die engel van die HERE wat Hom verlos. Ja, in die leeukuil, beleef hy hemel. Die innige teenwoordigheid van God. Die Engel van die HERE, die verskyning van Jesus voor sy menswording. Ja, dis Jesus wat met hom daar is, wat die leeus se bekke gesluit het.


Maar Jesus?


Hy sou nie verlos word uit sy doodsvonnis nie. Nee, Hy sou ly en sterf. Hy sou neerdaal na die hel. En in sy diepste nood ontbeer Hy dit wat altyd nog die kosbaarste vir Hom was: Die heerlike gemeenskap met God, Die band met Sy Vader. Hy roep uit: My God, My God, waarom het U My verlaat?


Hy verduur die ergste erg. Die hel.


Sodat jy en ek nooit dit hoef te ontbeer nie. Sodat elke kind van God nooit ooit hoef uit te roep: My God, my God, waarom het U my verlaat nie.


Sodat in ons diepste swaarkry en nood ons nooit hoef bang te wees dat God my sal los nie.

Hy sal die skaduwee wees aan my regterhand, omdat Jesus Christus my sondes betaal het. My band met die lewende God herstel het.


Jesus neem weg wat skeiding maak


Deurdat Jesus Christus nie gespaar is nie, word jy en ek gespaar.

As Hy sterf aan die kruis vir jou en my sonde.

Dan betaal Hy ons skuld.

En kom gee Hy vir ons die kosbaarste ding in die ganse werklikheid: En dis die heerlike soete gemeenskap met God. Die intieme verhouding met God. Die verbond.


Jesus Christus kom gee sy lewe vir sy band met jou.


En dan maak dit vir ons sin – as ons sien dat Daniël bereid is om sy lewe te gee vir die band met God. Want God se Seun het in sy mensheid sy lewe gegee vir die band met ons.


O hoe heerlik mooi is dit nie! Hoe teer is dit nie!

Hoe duidelik kom die liefdesverhaal van die Bybel nie hier tot sy klimaks nie. Die bruidegom wat sy lewe gee vir sy bruid.

En die bruid wat dan haarself bereid verklaar om haar lewe te gee vir haar Bruidegom.


Want Daniël was bereid om sy lewe te gee, omdat hy geweet het dat die lewe iets veel meer is as asemhaal.


Daniël weet dat daar ’n baie belangriker asem is as die asem wat die Satan dreig hy uit Daniël se longe sou ruk met leeus wat sy longe verskeur.


Daniël weet dat die ware lewe die asemhaling van die siel is: die gebed. Die kommunikasie met God. Die band met God. Dis die ware lewe. As hy moet kies tussen die asem van sy longe en die asem van die lewe, sal hy vir ’n duisend keer weer kies.


Sien, want Jesus leer ons in Sy gebed daardie vreeslike nag voor sy kruisiging:


Joh. 17:1b-3 Vader, die uur het gekom, verheerlik U Seun, sodat U Seun U ook kan verheerlik – soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.


Dit is die lewe: Om God te ken.


Dis wat Jesus vir ons kom gee. Om God te ken. Die band met God. Die teenwoordigheid van God. Die heel kosbaarste ding in die wêreld.


Hy herstel die band met God.

Hy neem dit wat skeiding gebring het tussen en ons en God, weg. Sodat ons vrylik met die Vader kan praat in gebed.

Hy is die Koning Wie se koninkryk kom. Die ewige koninkryk, wat nooit ooit vernietig kan word nie. Die koninkryk waarin al die burgers die innige gemeenskap met God ken. Die koninkryk van priesters. Almal voor die aangesig van God.


Toe alles donker was, was God steeds in beheer


Ons leer herhaaldelik in Daniël: Toe alles donker gelyk het, was God steeds in beheer. Toe dit lyk of die ryk van die Satan die oorhand kry, gebruik God dit om sy raadsplan uit te voer. Net soos dit vir die dissipels die donkerste nag was toe Hy gevange geneem en ter dood veroordeel is.


Toe blyk dit: God was al die tyd meesterlik in beheer! Hy het die planne van die Satan teen homself gebruik. Die Satan, die slang, vaar in Judas in om Jesus te verraai en oor te lewer.


En juis daarin werk die slang mee in God se voltrekking van die moederbelofte: die vernietiging van die slang se kop.


God gebruik maghebbers vna hierdie wêreld om sy raad te volbring


Of Nebukadneser, en Belsasar, en Darius en Kores dit wil weet of nie: Hulle is instrumente in God se hand. Hy gebruik hulle in sy ewige raad. Die koninkryke van die wêreld kom en gaan. Maar Hy is besig om die ryk van sy Seun op te rig. Niks of niemand kan Hom keer nie.


Satan sal jou band met God ook aanval


Die Satan het Daniël se band met God aangeval. Hy sal ook jou band met God aanval.

2 Tim. 3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.


Maar in dit, mag ons weet dat God ons nooit bo ons vermoë sal beproef nie.

En dat Hy, in die leeukuil, in die brandende oond met jou sal wees. Hy sal sy kind nooit verlaat nie.


En Hy sal verseker dat die Satan dit nie regkry nie.


Joh. 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.


Jy bereid om jou selfoon prys te gee?


Broer en suster, Jesus het Sy lewe gegee vir die verbond. Vir Sy band met jou. Die enigste reaksie wat sin maak, is as jy ook bereid is om jou lewe te gee vir dit wat die kosbaarste is: Die heerlike gemeenskap met God.

Een van die terreine waar Satan ons band met God aanval, is deur die gebruik van kommunikasie tegnologie.

En, asb. Tegnologie is ’n gawe van God, wat gebruik moet word tot sy eer. Ons geref. Erfenis is dit. Tydens die reformasie gebruik die reformatore die nuutste kommunikasie tegnologie om die evangelie uit te dra: die drukpers.

Daar is nie tyd om ’n teologie van tegnologie uit te bou nie vanoggend.

Maar, weet dat die Satan die einste gawe gebruik om jou band met God aan te val.

Dit is die bedoeling van sosiale media ontwerpers en programmeerders om aan die mens die idee van vervulling te gee los van God.

En ek vra jou, of hulle slaag in hulle doel? Is jou band met jou foon dalk een wat sterker word as jou band met God?

Doen jy op jou foon wat God eer?

Of is jy ver heen op die verlokkingsweg van pornografie en ongeoorloofde sosiale media gelukkies?

IS jy bereid om dit prys te gee?


Voorbereiding


Maar natuurlik nie net dit nie. As jy jou ondersoek vir volgende Sondag se Nagmaalsviering. Watter dinge is daar wat vir jou belangriker is as jou band met God?

Wat is dit wat jou weg hou van die heerlike gemeenskap met God in die eredienste? Is God jou hoogste goed?

Die Heilige Gees openbaar aan ons ons sonde. Bring daardie sonde na die genadetroon van God. Bely dit. En soek jou vergifnis in Jesus Christus alleen.


Afloop


Daniël het die gemeenskap met die lewende God bo die asem van hierdie lewe verkies.

Die uiteinde was dat hy gered is uit die put van die leeus.

Die manne wat die teenswoordige lewe bo die gemeenskap met God verkies het, húlle eindig op in die put met die leeus.

Dit is die finale einde van elkeen wat God soek: Die verlossing van die ewige poel wat vir die Satan en sy engele berei is.

En dit is die finale einde van elkeen wat hulle lewe hier kosbaarder ag as die gemeenskap met God – die ewige verdoemenis.

Gaan jy Hom soek?

Amen


65 views0 comments
bottom of page