top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniël 2 (a): Daniël se loflied

Geliefdes in ons HERE Jesus Christus,



Die rykste man op aarde kry nie geslaap nie. Hoe ironies. Geld kan vir jou baie dinge koop. Maar ongelukkig nie slaap nie.

Mens wonder nogal hoekom hy nie geslaap kon kry nie?

Dit bly ’n vraag hoe so ’n wrede man sy oë toemaak in die aand. Een wat, sommerso bevel uitvaardig dat al die geleerdes in sy land in stukke gekap moet word.

Miskien is dit juis sy wreedheid wat maak dat hy in die aande nie kan slaap nie.

Ons lees dat hy ’n droom gehad het. En dit het sy gees onrustig gemaak en sy slaap gedaan.


Ek sal gerus gaan slaap in vrede


Net hier dink ons aan Psalm 4, waar ons sing van die gelowige:

En ongestoord lê ek my neer, Want U alleen verhoor my bede, U waak oor my in teënhede Dat ek kan veilig woon, o Heer!


’n Gelowige het alle rede om rustig te slaap. Want nie alleen het ek die belofte van God se versorging in hierdie lewe nie, maar ook die versekering dat selfs as ek doodgaan, ek veilig is by die HERE.

Mag die HERE ons leer om Hom te vertrou en saans rustig te slaap.

Maar,

Nebukadneser kan nie slaap nie.


Die dialoog tussen Nebukadneser en die geleerdes


Oor hierdie droom van hom. Hy roep al die geleerdes van sy koninkryk. Die slimste en geleerdstes op die planeet.

En die dialoog tussen die koning en die geleerde manne is vir ons opgeteken:

Hy sê hulle van sy droom, en dat sy gees onrustig is om die droom te verstaan.

Hulle sê: Vertel die droom, dan gee ons die uitleg.

Hy: Nee, vertel julle my die droom en die uitleg.

As julle dit nie doen nie, word julle stukkend gekap en julle huise verander in mishope.

As julle dit vir my doen, geskenke en eer.

Hulle: Vertel die droom, ons sal die uitleg gee.

Hy: Julle wil tyd wen. As ek vir julle die droom vertel, gaan julle onder mekaar afspreek, ’n uitleg opmaak en vir my kom lieg. Julle gee julleself uit as droomkenners. As julle dit nie doen nie, kap ek julle lywe op.

Hulle: Dit wat u vra, is onmoontlik. Geen mens kan dit doen nie. Geen koning, groot of magtig het dit nog ooit van ’n mens verwag nie. Dit is net iets wat die gode weet (en hulle woning is nie by die vlees nie).


Nebukadneser word kwaad


Toe word die koning baie kwaad. Dis nogal ’n ding as die magtigste man op aarde vir jou kwaad word.

So kwaad, hy gee die bevel.

Al die wyse manne van Babel moet omgebring word. In stukke gekap word.

Die bevel sluit Daniël en sy drie vriende in. Hulle gaan soek vir Daniël en sy drie vriende. Hulle is immers ook wyse manne. Hulle moet ook doodgemaak word.

Kantlynaantekening: Mens wonder: As Nebukadneser die slim manne van sy ryk laat kom het, hoekom was Daniël-hulle in die eerste plek nie genooi nie?

Omdat hulle duidelik nie geag was nie. Al is hulle wysheid deur die koning besing aan die einde van hoofstuk 1, is dit sekerlik ook maar op die agtergrond geskuif. Want hulle is immers slawe. Hulle is van die lae Joodse kultuur. Lowlifes. Wat weet hulle.


Daniël se wysheid – hy vra vir tyd


Hy vra: hoekom is die bevel van die koning so streng? Ariog vertel vir hom als wat gebeur het.

Daarop gaan Daniël en versoek die koning dat hy hom tyd moet gee om die uitlegging te kenne te gee.

Die versoek om meer tyd is soms ’n wyse versoek. Daniël het hier in wysheid opgetree.

Soms mag mens vra vir tyd. Soms moet mens vra vir tyd.

Dis soms so prakties dat ’n lidmaat vir ’n ouderling iets vra – en die ouderling die antwoord nie ken nie. Vra vir tyd. Of dat ’n kind ’n ouer vra.


Daniël gaan bid


Volgende wat ons lees – Daniël gaan na sy huis en maak die saak aan Hananja, Misael en Asarja bekend.

Hy sê vir hulle dat hulle die barmhartigheid van die HERE moes afsmeek oor hierdie geheim.

Sodat. Sodat in die sin. Sodat hulle Daniël en sy vriende en die ander wyse manne van Babel nie sou ombring nie.

En dan openbaar God die geheim aan Daniël in ’n naggesig.

Daniël breek uit in lofgesang!


(Ander mense lewe, omdat die Christene gebid het)


Maar voor ons kyk na die lofsang, net eers iets om op te merk.

Daniël bid met die doel dat hulle self, maar ook al die wyse manne van Babel nie omgebring word nie.

En deurdat God die gebed verhoor, word inderdaad nie net Daniël en sy drie vriende gered nie, maar al die wyse manne van Babel!

Het jy al ooit raakgesien hoe God ’n hele stad of land bewaar of voorspoed skenk a.g.v. die Christene daarin?

- Mens dink hier aan voorbeelde waar Christene getuig het oor wat reg en verkeerd is op grond van die Woord van God – en daar dinge neerslag gevind het in die burgerlike wetgewing – tot heil van die hele land.

- Ook Abram se gesprek met God in Gen. 18. Uiteinde is dat God die hele stad Sodom nie sal verwoes nie, ter wille van tien regverdiges in die stad nie.


Daniël se lofsang


God verhoor Daniël-hulle se gebed.

Daniël sing ’n lofsang.

En dis by die lofsang wat ons drie sake wil raaksien.

  1. Die wysheid en die krag is Syne

Die eerste wat ons wil raaksien is dat wysheid van die HERE af kom.

V20 Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is Syne!

Die wysheid is Syne.

NGB art. 1 Hy is volkome wys.

Wysheid sluit in om te weet wat die doel is. God weet wat die doel is. En Hy weet wat gedoen moet word om by die doel uit te kom.

Daniël sing nie net van sy wysheid nie. Hy sing ook van Sy krag. Want die wysheid en die krag is Syne.

So, nie alleen wéét God wat die doel is nie. Ook weet Hy wat gedoen moet word om by Sy doel uit te kom. Maar dan leer Daniël ons ook nog: Nie alleen weet hy wat die doel is nie, nie alleen weet Hy wat gedoen moet word om by die doel uit te kom nie, maar Hy het ook die krag om dit uit te voer.

Nie net is die wysheid Syne nie, maar ook die krag.

Soms is dit met mense dat sommige wys is. En dan is daar weer mense wat mag het. En so jammer, dat so dikwels wyse mense nie baie mag het nie. Wat beteken hulle is nie by magte om die wysheid uit te voer nie. Hulle weet wat gedoen moet word, maar hulle het nie die mag om dit te doen nie.

Diegene met baie mag is dikwels nie die wyse mense nie.

Maar, Daniël leer ons, troos ons – dat God is alwys en almagtig.

2. God is soewerein


Tweede wat ons leer uit Daniël se gebed – is dat God soewerein is.

Dan. 2:21 Hy tog verander tye en geleenthede, Hy sit konings af en stel konings aan

Natuurlik hou dit wat Daniël hier sê baie duidelik verband met Daniël se droom. Van een koninkryk wat ’n ander oorneem, die tye, die geleenthede.

God bestuur die ganse wêreldgeskiedenis.

Ons lees in Mark. 1:15, nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galilea gekom en die koninkryk van God verkondig en gesê:

Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie!

God het al die tye gereël vir die eerste koms van Sy Seun.


Voorbeeld van die werking van God in Sy soewereiniteit


Laat ons kyk na een voorbeeld

Deut. 21:23

... een wat opgehang is (aan ’n paal), is deur God vervloek.

HKSO 15 vr. & antw. 39:

Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en op ’n ander manier gesterf het nie?

Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek is.


Wêreldmoondhede:


In die tyd van ons skrifgedeelte, is Babilon die wêreldmag wie se invloed geld in die hele bekende wêreld. Vir die voller verstaan van Jesus se eerste koms, is die verstaan van die opeenvolging van wêreldmoondhede nogal van belang.

In tyd van teks: Babilon.

Nie te lank daarna nie – Ryk van meders en Perse.

Daardie ryk weer oorgeneem deur die Griekse Ryk van Alexander die grote.

Griekse ryk eindelik weer verplaas deur die Romeinse Ryk.

God bepaal die geskiedenis. Dis waaroor hierdie droom gaan – en ons sal DV oor twee weke stilstaan by die uitleg van sy droom. God stel konings aan en sit konings af!

Ons nou by ons illustrasie:

Metode van doodstraf. Dis by die laaste een wat sterf aan ’n paal prominent is.

- Babel – ons lees van die verbranding van mense wat deur koning ter dood veroordeel is – brandende vuuroond

- Medo-Persiese ryk – In die tyd van Koning Darius is gebruik gemaak van verskeuring van diere (Leeukuil).

- Griekse ryk – Sokrates moes gifplant (hemlok) drink.

Maar wat was die metode van doodstraf by die Romeine?

Dis om te sterf aan ’n paal. Kruis. (Paal word geplant, dwarslat word onder vasgespyker en dan opgehang aan die paal, sodat jy effektief aan paal sterf.)

HK So. 14 – Spesifiek dat Jesus gekruisig is?

Neem in ag – natuurlik is geskiedenis meer kompleks – maar dat keiser Augustus maar ’n skrale 21 jaar aan bewind was met Jesus se geboorte.

In historiese terme, is dit eintlik nie baie lank voor Jesus se geboorte nie.

God bepaal die geskiedenis. Sodat Sy Seun se menswording in die tyd van die Romeine plaasvind. Wat veral die metode van kruisiging gebruik vir die doodstraf.

God reël die skommelinge van die wêreldpolitiek – ook sodat sy Seun sterf aan ’n paal (en nie op ’n ander wyse nie). God is soewerein. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan!

Hy is in beheer.

En dit, my liewe broer en suster, moet vir ons ’n troos wees!

Die bomme val op Oekraïne. Wat sal die toekoms inhou? ’n Totale ander strukturering van die wêreldekonomie? Wat ookal dit mag inhou. Ons weet nie.

GOD IS IN BEHEER.


Nie Putin nie. Of Biden nie. Of Xi Xinping nie.

En, saam met sy soewereiniteit kom die belofte:

Rom. 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

God is in beheer. En God beloof dat alles ten goede meewerk.

Soms gebeur daar dinge in jou lewe of in ’n volk se lewe wat jou planne in die wiele ry. Maar God se planne word nie in die wiele gery nie.

Ps. 135:3

In die hoogte sit die HEER; Daar doen Hy wat Hom behaag; Hy stuur Sy bevele neer En Sy wil geskied omlaag. See en aarde luister stil, met die dieptes na Sy wil.

Dink aan Daniël en sy vriende se gebed. Hulle het gebid dat God die droom vir hulle gee. En Hy het. Sou hulle dalk gebid het om die beëindiging van ballingskap?

Maar God het dit nie gegee nie.

Hulle het gebid vir die uitleg van die droom.

God het dit gegee. Hoekom?

Om hulle hoop te gee.

Ek is steeds in beheer.

God was besig om die wêreldpolitiek so te organiseer dat die tyd vir sy Seun se koms, reg sou wees.

Rom. 11:33

O diepte van die rykdom en die wysheid en die kennis van God Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë? Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie was Sy Raadsman gewees? .... want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid!


3. God openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge


V22 Hy openbaar ondeurgrondelike verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.


God maak geheime bekend.

Hy het die geheim van die Farao se droom aan Josef bekend gemaak.

Hy het die geheim van Nebukadneser se droom aan Daniël bekend gemaak.

God maak geheime bekend. Hy openbaar ondeurgrondelike verborge dinge.

Kol. 1 en 2 lees ons van die grootste geheim van alle tye. Kol. 1:26 praat van:

Kol. 1:26 die geheim (verborgenheid) wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges...

Hierdie geheim was deur die eeue nie bekend nie – verborge. Maar nou is dit bekendgemaak. Nie aan almal nie, maar aan die heiliges. Die gelowiges. Dis aan hulle (in woorde van Kol. 1:27

Aan wie God wou bekendmaak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie geheim is...

Hierdie geheim is beklee met rykdom en heerlikheid! Dis die kosbaarste geheim! En dan kom die antwoord. Wat is die rykdom en heerlikheid van hierdie geheim?

dit is Christus onder julle.

Kol. 2 sê dat ons harte vertroos word wanneer ons:

Kol. 2:2 die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus...

As ons die geheim ken, dan vertroos dit ons harte. Troos as ons die geheim ken. Van Christus. En dan word van Hom gesê:

in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is...

As jy waarlik kennis wil hê, dan moet jy Christus ken. Al die skatte van wysheid en kennis is in Hom verborge. En word in Hom bekendgemaak.

Hy sluit die Ou Testament oop. Dit verborge is in die Ou Testament word duidelik in Christus.

Die grootste geheim is dat Jesus Christus die Seun van God is. In Hom is die vervulling van die profesieë.


Hy maak Sy Vader bekend


Joh. 1:18 Niemand het God ooit gesien nie; die Eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar.

Jesus openbaar vir ons Wie die Vader is.

Om te kan weet Wie God is. Om Hom te kan ken. Dit is die diepste en grootste geheimenis. En dit is geopenbaar is Christus.


God openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge


Dis Wie Hy is.

En hoe doen Hy dit nie deur Sy Woord nie! En die dinge wat in Sy Woord bekend is, kan alleen werklik verstaan word as die Heilige Gees dit uitlê!

2Pe 1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;

2Pe 1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.


Ook vanoggend kan jy die HERE loof as jy die geheim van die evangelie ken. As die Heilige Gees vir jou die Woord uitlê.

En ook vanoggend moet ons Hom loof dat Hy geheime bekendmaak.


God openbaar Hom


Here, openbaar aan ons Uself. Maak bekend aan ons in ons dae dat U eg is. Dat U Wys en Almagtig is. Dat U Soewerein is. Ons het U nodig.

Openbaar U aan ons. Ons wil U ken. Ons wil deur U getroos wees.


Slot: Daniël se lofsang


Gemeente,

Nebukadneser kon nie slaap nie. Hy het slapelose nagte.

Maar, die kinders van die Here kan slaap.

Want,

-Ek vertrou op die alwyse God wat nie net die plan ken nie, maar ook by magte is om dit uit te voer. Die wysheid en die krag is Syne.

-Hy is soewerein. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan. Hy het die wêreldpolitiek gereël vir die eerste koms van Sy Seun. Hy reël ook die wêreldpolitiek vir die tweede koms van Sy Seun. Niks of niemand kan Hom keer nie. Nie Putin, Biden of Xinping nie.

-Hy openbaar verborge dinge. Hy toon aan my Jesus Christus, deur Wie ek die lewe kan hê.

Amen

44 views0 comments
bottom of page