top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniël 2(b): Die droom en sy uitleg


Nebukadneser het gedroom. Die droom het hom in sy gees onrustig gemaak, sy slaap was gedaan.

Hy roep sy wyse manne. Hulle moet nie net die uitleg van die droom gee nie. Hulle moet die droom en sy uitleg gee. Anders sal julle in stukke gekap word en julle huise mishope gemaak word.

Die manne kan nie.

Die koning gee die bevel dat al die wyse manne van Babel in stukke gekap word. Daniël en sy drie vriende word ook gesoek (hulle maak ook deel uit van die wyse manne). So vind Daniël uit van die saak.

Daniël gaan sê vir die koning, hy moet hom tyd gee, hy sal hom die uitleg te kenne gee.

Daniël gaan na sy drie vriende en hulle bid dat hulle barmhartigheid van God moes afsmeek.

Daarop openbaar die HERE aan Daniël die droom en sy uitleg aan Daniël.

Daniël sing sy loflied (tema van ons preek twee weke gelede).

- Hy reël tye en geleenthede

- Hy sit konings af en stel konings aan

- Hy openbaar verborge dinge.

Vanoggend neem ons nou die verhaal verder.


Skriflesing: Dan. 2:25-39


Geliefde gemeente in ons HERE Jesus Christus,


Daniël gaan na die koning


Daarop het Daniël gegaan na Ariog, die hoofamptenaar van die koning wat die bevel gehad het om die wyse manne om te bring.

Ariog laat nie tyd verloop nie. Hy neem Daniël haastig na die koning:

Ek het ’n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak!

Koning sê: Is jy in staat om aan my die droom en sy uitleg bekend te maak?

Daniël: Die geheim waarna u vra, kan die wyse manne nie te kenne gee nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar! (en Hy het aan die koning bekendgemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur).

Maar voor Daniël die droom gee, gee net eers die opmerking:

V30 En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur ’n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.

Ek het die uitleg. Maar nie omdat ek smart is nie. Omdat God dit aan ons wil bekendmaak. Daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar!

O, hier is ’n woord aan predikante, maar ook elkeen wat insig in die woord ontvang het. As God jou iets bekendgemaak het, moenie optree asof dit jy is wat smart is nie. Nee, God wou dit bekendmaak t.w.v. sy volk. Prys Hom daarvoor.


Die droom


i) Die Beeld

Groot beeld, hoog, glans buitengewoon. (Dit was feitlik in sy geheel van metaal). Sy glans en grootheid het aan dit ’n vreeslike voorkoms gegee!

- Die kop was van die beste goud

- Bors en skouers van silwer

- Die buik (maag) en lende (heupe) van koper

- Die bene van yster. Die voete van yster en klei.


Die klip


Dan lees ons dat ’n klip losraak (sonder die toedoen van mensehande). Dit kom van nêrens. Dit tref die voete van die beeld en stamp dit fyn. Die hele beeld val na die grond en word fyngestamp om soos kaf te word, wat deur die wind weggeneem word. Daar is kort voor lank geen teken meer dat dit ooit bestaan het nie.

Dit wat eens so groot en vas gelyk het, so formidabel, was meteens weg!

En dan groei die klip wat die beeld fyngestamp het. Dit word ’n groot rots wat die hele aarde vul.


Daniël se uitleg van die droom


V36 Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê.


Die hoof


V37 U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – u is die hoof van goud.


2e en derde en vierde koninkryke


V39 En na u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as die van u;

Daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;

En die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.

En tog sal hierdie vierde koninkryk ’n saamgestelde koninkryk. Yster gemeng met klei. Die twee sal eindelik nie werklik aan mekaar kon kleef nie. Een deel van dit sal sterk bly, maar die ander deel bros, sodat dit makliker breek.


Die klip


En die klip dan?

Wel, in die tyd van die vierde koninkryk (yster, yster en klei) vind ’n gebeurtenis van groot belang plaas.

V44 Maar in die dae van die konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.

V45 net soos u gesien het dat sonder die toedoen van (mense-) hande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekendgemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.


Drie dinge wat Daniël sien


Drie dinge wat Daniël sien (in die hoofstuk).

Die eerste is Wie God is. Dit het ons in die vorige preek by stilgestaan. Daniël het gesien dat God tye en geleenthede reël, dat Hy konings afsit en aanstel, dat Hy verborge dinge bekendmaak.

Die tweede wat Daniël sien (in die hoofstuk), is (natuurlik) die droom en sy uitleg.

Maar daar is ook ’n derde.

Daniël sien iets wat niemand in Babel ooit sou dink kon gebeur nie. Ons sien dit in vers 46 tot die einde van die hoofstuk. Daniël sien die koning wat buig. Hy sien dat die koning die ware God verheerlik en die Jode bevorder! Wie sou ooit verwag dat die magtigste man in die wêreld op sy hoof val en eerbied betoon?


Nie net veilig nie, maar ook invloedryk


Daniël word verhef, baie groot geskenke word aan hom gegee. Hy word aangestel as die heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.

En, op Daniël se versoek word Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel.

Gister sou hulle doodgemaak wees. Vandag is hulle bevorder! Hulle is nie net veilig nie, maar ook invloedryk.

Hierdie vier manne het alles teen hulle gehad. Hulle het egter nie uitgesterf nie, omdat hulle geweier het om die verkeerde te doen. hulle het nie uitgesterf nie, want hulle het in gebed verenig.

Ons doen goed as ons hierdie dinge ter harte neem.


Ons kyk terug in die geskiedenis


Nouja, ons moet onthou dat Daniël in 605 weggevoer is na Babel.

En God het aan hom hierdie droom en sy uitleg bekendgemaak.

God het die vooruit aan Daniël bekendgemaak.

Ons staan nou aan die ander kant van sommige van sy profesieë. Ons leef nou 2600 jaar na Daniël.

En daar is dinge wat ons gesien het.

Hierdie beeld van Nebukadneser is vier koninkryke. En die eerste is die koninkryk van Babel. Dit sê die teks self.

Maar dan nog drie koninkryke wat daarop volg – wie se identiteit nie aan ons bekendgemaak word nie.


Voëlvlug oor die wêreldgeskiedenis


Nou geliefdes, ons staan nou lank na Daniël. Laat ons net ’n vinnige voëlvlug oor die wêreldgeskiedenis gee vir die tyd vanaf Daniël tot en met die tyd van die NT, ten minste t.o.v. die wêreldmoondhede (sterkste koninkryke).


Babel


So, in Daniël se tyd, was dit die tyd van Babel. Die Babiloniese ryk. Dit was reusagtig. Dit het werklik oor groot dele van die bekende van die wêreld heerskappy gevoer. Dit het gelyk of dit nooit ooit vernietig kan word nie.


Meders en Perse


Maar, interessant genoeg, in die tyd van Nebukadneser se seun, Belsasar, het die Babelse ryk geval voor die ryk van Meders en Perse. Dit het gebeur toe Daniël nog geleef het. Onthou julle die skrif aan die muur? In die tyd van koning Belsasar (ons sal nog DV daarby uitkom in Daniël 5). Getel, getel, geweeg en te lig bevind?

Dan. 5:30 (laaste vers van hoofstuk 5) in dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs (Babel) gedood.

En dan hoofstuk 6:1 En Darius, die Meder, was 62 jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.

Dit was in die tyd van Darius, die Meder wat Daniël in die leeukuil gegooi is.

Ook was hierdie ryk van Meders en Perse wat daar die terugkeer uit ballingskap plaasgevind het:

Esra 1:1 En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE... ... die gees van Kores, die koning van Persië opgewek... ... v3 enigeen onder julle wat onder julle wat aan Sy volk behoort ... laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou...

Ok, so dit was eers Babel, toe die ryk van Meders en Perse.


Griekse ryk van Alexander die Grote


Maar, nodeloos om te sê, ook hierdie magtige ryk van Meders en Perse sou nie vir ewig bestaan nie. In die jare 330’s VC het ’n Griek, man met die naam Alexander, met rasse skrede militêre oorwinnings behaal en sodoende die ryk van Meders en Perse in effek oorgeneem. Alexander die Grote het u dalk al van gehoor.

Maar ook hierdie ryk sou nie vir ewig bestaan nie.


Rome


Want teen die jaar 168 V.C. het die Romeine se mag al meer toegeneem sodat die Romeinse ryk eindelik dit wat Alexander die Grote ingeneem het, beheer het.

En dan, natuurlik, in die tyd van die Romeine, wat die Romeine die wêreld beheer het, is Jesus gebore in Jerusalem.

Daarom was daar in Jerusalem ten tyde van sy verhoor ’n Romeinse goewerneur (Pontius Pilatus). Daarom is Jesus nie gestenig (soos dit onder Joodse beheer sou wees nie), maar gekruisig (soos die gebruik van die Romeine was), en nog ’n honderd ander dinge.

So, in breë, breë trekke kan mens sedert die tyd van Daniël hierdie vier Ryke, of wêreldmoondhede identifiseer:

- Eers Babel,

- toe die ryk van Meders en Perse,

- toe die Griekse ryk van Alexander die grote,

- en eindelik die Romeinse Ryk.


Terug by Daniël 2


Nouja, terug by Daniël 2 en Nebukadneser se droom.

Daniël ontvang die uitleg van die droom, ons het dit reeds gelees en in die preek genoem. Maar, ons staan nou anderkant die geskiedenis.

Daniël sê self vir ons wat die eerste een is: Babel.

Nou, moet ons baie mooi onthou dat die tweede, derde, vierde ryke van die beeld nie hier in Daniël 2 genoem word nie.

En, daarby, moet ons versigtig wees om profesie presies te dui. Om dus te sê in apokaliptiese literatuur: Dit is dit en dat is dat en so presies te probeer dui.

En ek glo dis iets waarvan ons onsself moet weerhou.

So, dis waarom ons sê, dat slegs die eerste een pertinent in Daniël se uitleg (God se uitleg) van die droom genoem word (Babel).

Maar, as ons met die voordeel, om wêreldgeskiedenis te weet, kan ons raaksien dat daar groot raakpunte is tussen die vier ryke en die beeld van Daniël (en die ander latere profesieë van Daniel).


Standaard uitleg


Kop van die beeld

So om terug te gaan na die beeld:

Die kop van goud was Babel.

Babel was ’n verenigde geheel.

Dit lyk vir ons of die arms en bors van silwer goed pas by die Ryk van Meders en Perse (dit was nie so verenig soos Babel nie). Ook, hoewel dit een geheel was, het dit twee arms gehad: Meders die een arm en Perse die ander. Daniël sê die koninkryk wat Babel opvolg sal geringer wees as Babel. Dit is maar silwer in vergelyking met die goud van Babel.

Dan lyk dit vir ons of die maag en heupe van koper goed pas by die Griekse ryk van Alexander die grote. Aanvanklik was dit verenig onder Alexander, maar na sy dood het dit verdeel – met twee hoofverdelings gebaseer in Egipte en Sirië – wat pas by twee bene.

Laastens lyk dit dan of die Romeinse ryk goed pas by die bene en voete van die beeld. Yster, yster en klei.

Die vierde ryk van Yster (sê Daniël) is juis yster omdat dit alles fynstamp en vergruis. Dit was Rome inderdaad.


Die klip wat losraak – die ewige koninkryk


Maar geliefdes die klem van die hele stuk. Die klimaks is die klip wat tydens die regering van die vierde ryk losraak sonder hande en die beeld tref.

Ons lees nie van waar die klip kom nie, want Hy bestaan voor die tyd reeds.

Hierdie klip kom los sonder toedoen van (mense) hande. Dit tref die voete van die beeld. Die beeld val en alles: die goud, silwer, koper, yster en klei word poeier. Die wind waai dit weg, sodat daar geen spoor van dit gevind is nie.

En hierdie klip groei aan tot ’n groot rots wat die hele aarde vul!

(In Daniël se uitleg – v44) Tydens die vierde koninkryk (in die dae van die vierde koninkryk) sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.

Sien, wat die presiese detail van die vier koninkryke is, is van minder belang in hierdie droom en sy uitleg. Van die belangrikste is die klip wat losraak. Die vyfde koninkryk. Die ewige koninkryk.


Jesus


Hierdie koninkryk is die koninkryk van die God van die hemel (in Daniël se woorde).

Hierdie klip wat van nêrens af kom nie, is die ewige Seun van God wat Sy ewige koninkryk kom inhuldig het. Dit was tydens die regering van die vierde Ryk – dit lyk dus vir ons of Rome die regte verklaring is van die bene en voete van die beeld.

Ons lees in Markus 1:14-15

En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van (van wat?) van die koninkryk van God verkondig en gesê: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie!”

Sien, die koninkryk wat Jesus Christus bring, dit is die ewige koninkryk, die klip wat sonder mensehande losraak, die koninkryk wat nie vernietig sal word nie, wat die ander koninkryke sal verbrysel en ’n einde aan maak, maar self sal bestaan tot in ewigheid!


Die vyfde koninkryk groei


Dis hierdie koninkryk wat groei en ’n rots word wat die hele aarde vul.

Dit begin met die klein begin van ’n swanger maagd, ’n klein babaSeun in ’n stal in Betlehem. Maar dis daardie koninkryk wat groei. Wat reeds veel gegroei het, maar steeds groei in ons dag.

Jesus het ’n hele rits gelykenisse vertel oor die koninkryk van God, baie in Matt. 13:

Een van hulle is die gelykenis van die Mosterdsaad:

Matt. 13:31 Die koninkryk van God is soos ’n mosterdsaad wat ’n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as al die groentesoorte..

Die Seun van God kom as ’n klein Babaseun en kom vestig die ewige koninkryk.

Die vorige koninkryke lê in die stof. Maar Christus se koninkryk bly en dit groei en sal tot in ewigheid bestaan. Dit sal nooit ’n opvolger hê nie.


Wonder van die Skrif


Onthou gerus, broeder en suster dat hierdie droom en profesie deur Daniël opgeteken is, waarskynlik in die omgewing van 530’s v.C. Wat ’n wonder is die Skrif nie! Dat dit wat hierin voorspel is, gebeur het.

Daniël 2 teken die geskiedenis aan voordat dit gebeur het. Hoe kan dit wees? Anders as dat God die ganse wêreldgeskiedenis beheer ?


Ek lewe in heelal wat nie buite beheer is nie!


Hy sien nie net die toekoms nie, Hy behéér die toekoms!

Dis ’n wonderlike gedagte vanoggend: Ek lewe nie in ’n heelal wat buite beheer is nie! Ek lewe in ’n heelal waar God se raad plaasvind, selfs al is baie van daardie gebeure in dit is erg en vreeslik - net soos dit was in die tyd van Babel. Alles wat gebeur is die sekere uitvoering van God se Raadsplan. Dit sal nie verydel word nie. God is in die hemel en Hy sit op die troon!

Soos Daniël aan die koning gesê het:

Die wyse manne kon die geheim nie te kenne gee nie.

Dan. 2:28 Maar daar is ’n God in die hemel!

Geliefdes, die wêreld is vandag deurmekaar:

- Met die oorlog in die Oekraïne wat wie weet waarheen mag gaan. Daar is ’n God in die hemel!

- Met die gekkigheid van die weste wat waar sal eindig met die Alfabet-geslagte om God na die kroon te steek. Daar is ’n God in die hemel!

- Met die tegnologie van kunsmatige intelligensie wat skrikwekkende potensiaal het om mense se lewens te beheer op wyses ongekend voorheen in die geskiedenis. Daar is ’n God in die hemel!

U sien, broer en suster. God se koninkryk is ewig. Moenie vir die val nie – nou of nooit. Ons moet nou hierdie verkiesing wen – anders is die Christene tot niet! Daar is ’n God in die hemel. Sy koninkryk kan nie vernietig word nie!

- Maar ook het ek ontsettende nuus van die dr. gekry die week oor my gesondheid. Daar is ’n God in die hemel!

- Of my finansies – ek weet nie hoe ek ooit sal uit dit kom nie. Daar is ’n God in die hemel!

- Of die diep gat waarin my huwelik nou is. Daar is ’n God in die hemel!


Christus se koninkryk is nie ’n politieke koninkryk nie


Maar wat is die aard van die ewige koninkryk?

’n 100 jaar se preke sal dit nie kan deurtrap nie! Maar dis fundamenteel anders as die koninkryke van hierdie wêreld.

Jesus sê oor Sy koninkryk:

- Joh. 18:36 My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het., dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hierdie wêreld nie.

- Luk. 17:21 ... die koninkryk van God is binne-in julle.

Christus se koninkryk ís fundamenteel ’n geestelike koninkryk. Natuurlik met ’n lang reeks praktiese hier-en-nou implikasies. Die burgers van die koninkryk van die hemele word die beste burgers van Pretoria.

Regoor die wêreld is daar mans en vroue, seuns en meisies in wie se harte Christus regeer. Die wat Hy deur Sy Gees wederbaar het, nuutgemaak het. Uit alle volke stamme, tale en nasies het Hy ’n nuwe volk tot stand gebring. Die wat in die lyn staan van die saad van die vrou. Die Godsvolk. Die verbondsvolk. Hulle wat deur ’n ware geloof in Christus ingelyf is.

Mense uit alle volke het nou ’n nuwe burgerskap: Burgers van die koninkryk van die hemele.

Hierdie koninkryk is ingehuldig in tydens die vierde koninkryk (bene van yster en voete van yster&klei), maar self sal dit nooit tot niet gaan nie. Daar sal nie ’n nuwe koning Hom opvolg nie. Want Hy is die Koning wat ewig leef.

God se koninkryk sal nooit oorwin word nie. Sy burgers kan nooit uit sy hand geruk word nie.

Joh. 10:28 En ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit My hand ruk nie.

Hierdie koninkryk groei.

- Met elke gehoorsame geloofsdaad van ’n gelowige.

- Met elke verbondskindjie wat gebore word en in die vrese van die Here opgevoed word

- Met elke stukkie woord wat suiwer bedien word

- Met elke keer wat ’n ware gelowige God in die samekomste kom soek

En niks of niemand kan dit keer nie. God lag vir die wêreldleiers wat probeer om die voortgang van die evangelie te stuit.

Dit moet vir ons tot reuse bemoediging dien.

Die koninkryk van God het altyd oorwin teen opposisie en sal ook altyd.

Christene kan

- Lewendig verbrand word

- Voor wilde diere gegooi word in amfiteaters

- Toegesluit word in donker gate

- Gemartel word

- In die openbaar tereg gestel word.

Niks wat aan hulle gedoen word kan dit keer dat hulle getalle toeneem nie. Die bloed van die martelare is die saad van die kerk. Die koninkryk groei en groei en groei.

Eindelik sal die hele aarde gevul wees.

Dit beteken (natuurlik nie) dat almal gered sal wees nie. Maar dit beteken dat die heerlikheid van God die aarde sal vul met gelowiges uit alle volke.

Sy koninkryk kan nie tot niet gaan nie. En binnekort sal dit die enigste koninkryk wees.

Laat ons werk in die koninkryk van God.

Want ons kan nie misluk nie.

Elkeen wat waarlik in Christus glo, is burger van hierdie ewige koninkryk.


Kenmerke van koninkryksburger


- Arm van gees is

- Sagmoediges

- Honger en dors na geregtigheid

- Barmhartiges

- Rein van hart is

- Vredemakers

- Vervolg word t.w.v. die geregtigheid

Dis hulle wat vrug van die Gees dra: Liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, geduld, sagmoedigheid en selfbeheersing.


Weet u hoe word jy ’n burger van die ewige koninkryk?


- Jy kon Romeinse burgerskap met geld gekoop het

Maar burgerskap aan ewige koninkryk is nie so goedkoop nie. Dis baie duurder.

Daar is net een kommoditeit wat vir jou burgerskap kan koop.

En dis die bleod van Jesus Christus.

Dit is gratis. Maar nie goedkoop nie. Dis gratis omdat Iemand anders dit betaal het.

En elkeen wat glo in Hom, die Koning van die ewige koninkryk ontvang ’n ewige burgerskap wat nooit herroep kan word nie.

Dis van daardie koninkryk wat ons burgers is.

En daarom kan niks ons van stryk bring nie. Daarom kyk ons nie angstig rond nie. Al dring en dryf die nasies.

God se Koninkryk is ewig soos Hy. En ons burgers daarvan.

Amen





207 views0 comments
bottom of page