top of page
  • Writer's picturePieter Le Roux

Daniël 4: God stel die nederige onder die mense aan 24 April 2022 – oggend

Ons lees weer van ’n droom van Nebukadneser.


Die droom: Die boom

Die keer is dit nie ’n beeld nie, maar ’n boom. ’n Baie hoë en sterk boom in die middel van die aarde. Dit was vir die hele wêreld sigbaar.

· Mooi blare

· Baie vrugte

· Kos vir alles

· Diere het skaduwee gesoek

· Voëls in sy takke gewoon.

· Alle vlees is daardeur gevoed.


Die droom: die bode se boodskap

Heilige boodskapper daal uit die hemel, roep hardop:

  • Kap die boom om

  • Diere en voëls vlug.

  • Maar, laat sy penwortel agterbly

  • Wel gebind met ’n band van yster en koper

  • In die groen gras van die veld.

  • Laat die dou hom in die nagte natmaak, en plante eet saam met die diere.

Dan nog:

  • Laat sy mensehart (klaarblyklik het die boom ’n mensehart) anders word – ’n dierehart aan hom gegee word.

  • Laat 7 tydperke oor hom heengaan.


Doel van die droom

Baie interessant, die doel van die droom word in die droom aan Nebukadneser bekendgemaak – dis deel van die droom.

Wat is dit? Ons kry dit in vers 17

Op besluit van die bodes berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat

· die lewendes kan erken

· dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens

· en dit gee aan wie Hy wil

· en die nederige onder die mense daaroor aanstel

Die droom se doel is die kern van die hoofstuk – dit word vier keer herhaal. Die doel van die droom is ’n erkenning. Dat die lewendes tot erkenning moet kom oor die koningskap van die mens:


· Dat God mag daaroor het, dit gee aan wie Hy wil – en dan leer ons dat sy uiteindelike doel is – dat Hy die nederige daaroor aanstel.


Niemand kan dit uitlê nie!


N laat kom al sy wyse manne – maar niemand kan dit uitlê nie! Totdat hy eindelik vir Daniël laat kom het. Mens wonder, gegewe sy vorige ervaring met droomuitleg – waarom het hy nie maar uit die staanspoor vir Daniël laat kom nie?

Ons reken dis omdat die koning in beginsel geweet het wat die uitleg van die droom was. Hy het gehoop dat iemand met ’n ander uitleg sou kom.


In Babiloniese literatuur is konings dikwels voorgestel as ’n boom. N het geweet dat die boom in hierdie droom hyself was.

Hy het geweet dat die afkap van die boom dui op sy eie vernedering en verootmoediging sou lei.


Taaloomblik: ootmoed


Nouja, kinders. Jy gaan waarskynlik nie in jou skool hoor van die woord ootmoed nie. Maar hier by die kerk gebruik ons dit.


Ootmoed is Gesindheid van nederigheid en eerbiedigheid (Etimologie woordeboek van Afrikaans).

Terloops dit kom van die woorde ode – gemaklik beteken en moet (setel van jou denke – soos in gemoed). Gemaklike, eerder welwillende ingesteldheid.

Dit is die woord wat in die vroeë nederlands gebruik is om die Latynse Woord humilitas (soos in die Latynse vertaling van die Bybel) te vertaal. [1]


Dis iets wat Christene beoefen. Ootmoed. Nederigheid.


Terug by Nebukadnesar

Hy weet dat die boom se afkap iets te doen het met sy eie vernedering en bewerking van ootmoed by hom. Maar, in sy hoogmoed het hy is dit ’n waarheid wat hy nie graag wil hoor nie.

Hy hoop die ander kan vir hom ’n ander uitleg gee. Maar niemand vir hom ’n uitleg gee nie. En eindelik laat hy vir Daniël kom.

Toe Daniël die droom hoor, was hy verstom en verskrik.

Koning moedig hom aan om die uitleg te gee.

Daniël gee dan die uitleg:

Die boom: . ’n Baie hoë en sterk boom in die middel van die aarde. Dit was vir die hele wêreld sigbaar.

· Mooi blare

· Baie vrugte

· Kos vir alles

· Diere het skaduwee gesoek

· Voëls in sy takke gewoon.

· Alle vlees is daardeur gevoed.

Die boom is U o Koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.

Dat die boom

Heilige boodskapper daal uit die hemel, roep hardop:

  • Kap die boom om

  • Diere en voëls vlug.

  • Maar, laat sy penwortel agterbly

  • Wel gebind met ’n band van yster en koper

  • In die groen gras van die veld.

  • Laat die dou hom in die nagte natmaak, en plante eet saam met die diere.

Dan nog:

  • Laat sy mensehart (klaarblyklik het die boom ’n mensehart) anders word – ’n dierehart aan hom gegee word.

  • Laat 7 tydperke oor hom heengaan.

Die uitleg hiervan: Dis nie besluit van hemelse heiliges nie, dis die besluit van die Allerhoogste! Die heiliges maar bloot sy diensknegte.

- Hulle sal u uit die mensdom verstoot

- U sal saam met die diere van die veld gaan bly

- U sal soos beeste plante eet

- U sal natgedou word in die nagte soos die diere

- Sewe tydperke

Tot wanneer?

Vers 25 herhaal die doel van die droom:

Totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.

Die penwortel dan?

  • Maar, laat sy penwortel agterbly

  • Wel gebind met ’n band van yster en koper

V26 U koningskap sal weer bestendig wees vandat u erken (wat erken?) het dat die hemel heers.

Dis die uitleg van die droom.

Daniël gee op die punt raad aan die koning

V27 Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlening van u rus moet wees

Laat my dink aan Matt. 25. As die nasies voor die Seun van die mens versamel met Sy wederkoms en Hy op Sy heerlike troon sit, en Hy die bokke van die skape sal afskei, sal die Koning vir die wat aan Sy regterhand is, sê:

Kom, julle geseëndes van My Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want

- Ek het honger gehad en julle het My te ete gegee

- Dors, en julle het My te drinke gegee

- Vreemdeling, julle herberg

- Naak, julle het my geklee

- Siek, julle het My besoek

- Gevangenis, en julle het na My gekom.

Vra hulle, wanneer het ons dit gedoen?

En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar, Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen!

Daniël se raad: bewys genade aan die ellendiges!

Nebukadneser sou nie die raad volg nie

Want ’n jaar later, lees ons, het N een dag op die dak van die koninklike paleis van Babel geloop, natuurlik met ’n goeie uitsig oor die hoofstad van die Babelse ryk.

Ons weet uit die geskiedenis en die argeologie dat Nebukadneser ’n groot bouer was. Regoor sy ryk was uitstekende tempels onder sy beskermheerskap gebou.

Ook talle pragtige burgerlike geboue in die hoofstad.

Ingesluit onder sy prestasies, was die hangende tuine van Babilon, wat vir ’n lang tyd as een van die sewe wonders van die wêreld gelys is.

Babilon was ’n pragtige plek.

Dit wat hy bereik het, was werklik iets besonders.

En as hy dan op sy koninklike paleis se dak loop, dan word sy gemoed vol van homself:

V30 Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë en tot die verheerliking van my majesteit nie?

Die woorde van ’n man se gemoed, die oordenking van jou hart, is baie belangrik. Bewaak jou hart, meer as enigiets wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Die profesie gaan in vervulling

Want, dis presies op die oomblik wat die woorde sy lippe verlaat, wat die profesie oor hom in vervulling gaan! As hy oor homself praat asof daar geen God in die hemel is nie!

V31 Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ’n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem;

Dan 4:32 en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.

Dan 4:33 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar—hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls.

Wat presies het gebeur?

Die groot koning van Babel het mal geword. God het sy rede weggeneem en hom die gemoed van ’n dier gegee. Sy hare het gegroei totdat die stringe soos vere begin lyk het. Sy ongesnyde naels het spoedig soos kloue begin lyk. Hy het buite in die veld geleef soos ’n diere, terwyl hy plante eet en snags onder die dou van die veld geslaap het, soos die beeste rondom hom.

Heidense skrywers

Van die antieke wêreld vertel vir ons dat N, nadat hy van oorloë teruggekeer het na Babilon, hy skielik weggeraak het en vir ’n kort tyd voor sy dood teruggekeer het na sy koningskap. Hy was laaste gesien op die dak van die paleis, voor hy vir ’n aansienlike tyd van die radar verdwyn het.

Sommige beweer dat hy by een of ander goddelike mag weggeneem is, ander dat hy ’n vreemde siekte geteister is.

Kliniese likantropie (lycantropy)

Die kommentare wissel oor wat presies gebeur het. Dis moontlik dat die koning getref is met ’n geestessiekte. Daar is bv. ’n toestand bekend as kliniese likantropie. ’n Likantropie-lyer dink dat hyself ’n dier is, terwyl hy terselfdertyd genoeg innerlike bewussyn oorhou van wie hy eintlik is.

Mense wat aan hierdie vreeslike toestand ly, gedra homself dan as die dier wat hy dink hy is en kan selfs die geluide maak wat die dier sal maak.

Daar is ’n spesifieke vorm van die siekte, bekend as boantropie, waar die lyer spesifiek dink dat hy ’n bees is, terwyl hy steeds êrens in sy binnekant nog van sy ware identiteit bewus is.

God maak hom laag

Hoe dit ookal sy, hy gaan bly tussen die beeste. Hy word deur die dou benat. Tree op en leef soos ’n dier.

God bring dit oor hom, om hom ’n geestelike les te leer, wat sy bekering tot gevolg sou bring.

Sy raadsmanne en amptenare dryf hom uit die paleis. Hulle sien met verbasing toe hoe hy in die dou rondrol soos ’n dier, gras eet met ongesnyde hare en ongeknipte naels. Wie sou ooit kon dink dat die magtige koning van Babel soiets kon oorkom?

Niks was onmoontlik vir hom nie, en nou is hy totaal en al hulpeloos!

God maak N laag

God maak vir Nebukadneser laag. En dis vir hom oneindig goed.

Want, met verloop van tyd kom daar gaandeweg ’n besef in die koning. Totdat, na (7 maande, 7 jaar?), lees ons, in die koning se eie woorde:

V35 En na verloop van tyd, het ek, Nebukadneser, my oë na die hemel opgeslaan... en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ’n ewige mag en Wie se koningskap van geslag tot geslag is.

Al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?

Waar sy oë soos ’n dier gerig was op alles op die aarde, werk die besef in hom sodat hy op ’n dag sy oë na die hemel toe opslaan.

Nebukadneser kom tot geloof. Hy ontvang die wedergeboorte. Sy taal wys dit vir ons. Waar hy telkens by vorige insidente die God van Daniël met die tong erkenning gegee het, is dit duidelik dat sy hart verbind is tot die God van die hemel.

God het Hom laag gemaak. En daarin was Hy vir hom oneindig goed.

God stel die nederige aan

Die droom het in sy doel geslaag!

Nebukadneser erken nou dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil, en dat Hy die nederige onder die mense aanstel.

Geliefde broeder en suster, daarom stel Hy die HERE Jesus aan. Jesus Christus is vir ons die toonbeeld van ootmoed en nederigheid. Jesus Christus is die nederige Koning wat deur God aangestel is, wat alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het.

Ons lees van Hom

- In Jes. 50:4 Die Here HERE het My ’n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde. Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge. Die HERE het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie...

o Na sy menslike natuur was die Kneg van die HERE bereid om ’n leerling te wees.

o Daarom het Hy gegroei – soos ons lees in Luk. 2:40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. Luk. 2:52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

o Luk. 2:51 Hy was sy ouers onderdanig.

- Met Sy intog in Jerusalem ry Hy op ’n donkie!

o As dit gebeur, merk Mattheus op (Matt. 21:5): Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ’n esel

o Sagaria 9:9 Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou: regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel!

- Dis ook Hy wat eenmaal uitgeroep het (Matt. 11:28-29)

o Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele

Hy is die nederige Koning wat God aangestel het.

En dis sy eie broer, Jakobus, wat vir ons die waarheid leer:

Jak. 4:6 God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God, weerstaan die duiwel en Hy sal van julle wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.


Twee lesse

Ons sluit af met twee lesse uit Daniël 4.

Les 1: Moet nooit moed opgee oor die bekering van enigiemand nie

Wie sou ooit kon dink dat die magtige koning Nebukadneser, wat God se mense gevange geneem het, hulle gedwing het om sy beeld te aanbid – dat hy eendag daardie einste God sou aanbid en ken en dien?

Hy was ’n totale heiden wat die mense van God in gevangenskap geneem het, wie sou kon dink dat hy self eendag een van die mense van God sou word?

Toe hy in sy woede die gekke bevel gegee het dat al die wyse manne van Babel in stukke gekap moet word – wie sou ooit kon dink dat die man wat daardie bevel gegee het, ’n gelowige sou word?

Kan dit wees dat die man wat beveel het dat die oorblyfsel van God se volk in ’n vuuroond gegooi word, self deel van die oorblyfsel van God se volk kon word?

En tog, eindig ons hoofstuk met ’n koning wat soos ’n kind, laag buig en die God van die hemel loof en prys!

Les 2: Die enigste wyse waarop die God van die hemel genader kan word, is uit die laagste moontlike posisie

Dit sien ons uit hierdie hoofstuk van N.

Hoogmoed verhoed ’n man om tot God te nader. As ’n mens te veel van homself dink, dan keer dit jou. Jou eie belangrikheid keer jou om soos ’n kind na God te kom.

God gaan nie vir jou en jou hoogmoed red nie. Jy sal dit moet aflê! Sonder dat jy dit aflê, kan jy nie gered wees nie.

- Die tollenaar wou nie eers sy oë na die hemel ophef nie, maar het uitgeroep: Wees my sondaar genadig! (Luk. 18:13)

- Die groot geleerde, Paulus van Tarsus, kom toe hy nog blind was bewend en vra: Here, wat wil U hê moet ek doen? (Hand. 9:6)

- Die tronkbewaarder van Filippi val bewend voor die apostels en as hulle buite kom: Wat moet ek doen om gered te word?

Die enigste manier waarop God genader kan word, is uit die laagste moontlike posisie.

Daarom bewys God genade aan ’n mens as Hy jou platslaan. Want dis in daardie posisie wat ’n mens veilig is. Dis die enigste manier waarop hy werklik sy oë kan ophef na die hemel. Die enigste posisie waaruit hy kan roep vir toegang tot die hemel.

Jesus het nie gekom om regverdiges nie, maar sondaars te roep tot bekering.

Waarskuwing

Is jy nog steeds huiwerig om jou lewe te verloor sodat jy dit kan behou?

God is in staat om jou verstand weg te neem. Hoe lank wil jy soos Nebukadneser sy openbaring aan jou verwerp? Wie weet hoe God gaan reageer daarop? Hy kan mense so slaan dat daar nie genesing is nie (Spr. 29:1 ’n man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word, sonder dat daar genesing is).

Jy het vandag nog jou verstand. God kan dit môre wegneem en nie weer vir jou teruggee nie. Waarom nie om genade smeek terwyl jy dit nog het nie?

Hoe lank wil jy teen die prikkels skop: Net môre mag die Almagtige besluit: genoeg is genoeg en dit van jou wegneem!

Laat ons God se grootheid in gedagtenis bring en ons eie kleinheid.

Dit is die wat met leë hande na Hom kom, met niks om te bied nie, wat Hy nooit sal wegwys nie. Hy hoor die gebede van die wat in nederigheid, armoede van gees tot Hom roep.

Die evangelie is nie dat ’n man die wet volkome nakom voordat Hy God behaag nie.

Maar, dis dat Hy vasgryp aan Jesus Christus deur die geloof. Jesus het die wet in ons plek volkome nagekom. Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Jesus het die straf vir ons sonde gedra.

Roep uit die stof na Hom. Smeek Hom om genade.

En Hy sal jou verhoog op die regte tyd.

Amen

[1] Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) is dit: Gesindheid van opregte en beleefde nederigheid en eerbiedigheid wat gepaardgaan met 'n geringskatting van eiewaarde. WAT haal, interessant genoeg uit die reformatriese filosoof, HG Stoker se Oorsprong en rigting aan: Die gelowige kan hom ... slegs in ootmoed en verering aan God verwonder oor die grootheid, mag en majesteit van God (H.G. Stoker: Oorsprong I, 1967, 60)



37 views0 comments
bottom of page