top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniël 7 (b) - Die elfde horing


Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,


Ons het laas week die vier diere behandel:

- Leeu (Babel)

- Beer (Meders & Perse)

- Luiperd (Griekse ryk)

- Laaste en vreeslikste dier is die Romeinse Ryk.

Uit hom kom daar tien horings. Dit is tien konings. Tien ryke wat volg.

Daniël sien die geskiedenis van sy tyd af tot aan die einde van die aarde.

Dit loon nie om die tien konings te probeer identifiseer nie (daar is natuurlik baie pogings om die ryke te identifiseer, selfs tot in onlangse geskiedenis: Nederland in die tyd van die VOC, Frankryk onder Napoleon, Die British Empaaier, Die Dritte Reich, VSA.

Die vier diere was wreed. Maar, die Oue van dae het die vierde ryk vernietig. Die tweede en derde is toegelaat om op een of ander vorm voort te bestaan.

Ons het ook gelees van die Een soos die Seun van die mens wat voor die Oue van dae gebring is, en aan Wie die heerskappy gegee is. Dit is die Hemelvaart van Jesus Christus.

Ons lewe in die tyd van die Christus-regering

Niks kan sy koninkryk vernietig nie.

Maar, in vers 15 lees ons nie Daniël spring op en af en juig nie. Nee, hy is verskrik.

Die gees van my, Daniël is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.

Dit het alles te doen moet die elfde horinkie.


Die elfde horing

- Daar is drie ander horings ontwortel. Drie konings het geval. Anders as die voriges, verskillend. Hy werp ander konings neer.

- Oë soos mense-oë.

- Mond wat groot dinge spreek. Sy mond spreek woorde teen die allerhoogste. Spreek groot dinge

- Eers is dit ’n horinkie. Dan lees ons sy gestalte is groter as die ander.

- Oorlog voer teen die heiliges. Sal die heiliges mishandel. Oorwin. Hulle sal in sy hand oorgegee word. Tot tyd, tye en ’n halwe tyd.

- Probeer om tye en wet te verander.


Goue reël van Skrifverklaring

Die Skrif is sy eie uitlegger.

Die Heilige Gees het die hele skrif ingegee. Hy openbaar nie op een plek iets in stryd met wat op ‘n ander plek geopenbaar is nie. Gereformeerde teologie is lyne in die skrif. Dis nie gebou op een Skrifdeel nie, maar die hele Skrif.

So moet ons dit ook doen met hierdie 11e horinkie.

As ons na ander plekke in die Skrif kyk, is geen plek groter ooreenstemming as Openbaring 13 nie.


Openbaring 13

Wat lees ons daar?

Ooreenkomste:

- Ook uit die see.

- Ook lees ons van leeu, beer, luiperd. Definitiewe ooreenstemming.

- Ook tien horings.

- V5 En ’n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit 42 maande lank te doen.

- V6 En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster.

- V7 ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin. En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.

- V8 en al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

Net soos die vernietiging van die horinkie in Daniël 7, lees ons in Openbaring ook iets van die vernietiging van die dier –

V10 As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap, as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en geloof van die heiliges.


Kenmerke van die 11e horing vind ons terug in die hele beeld van Openb. 13

M.a.w. nie net die laaste koninkryk sal die tipiese dinge wys wat die ander doen nie. Nee, die hele dier van openbaring, wat eintlik ook die koninkryke van Daniël verteenwoordig, maar net ’n eenheid. So, vier diere in Daniël is in Openbaring net een dier.

Nebukadneser se droom is ook een beeld met vier dele. So al is dit hier vier diere, is daar tog dieselfde gesindheid wat deur die eeue die dier kenmerk.

Dit weerhou ons dus daarvan om die elfde horing van Daniel as ’n geïsoleerde gebeurtenis te sien aan die einde van die tyd. In die een dier van Openbaring 13 is al vier diere en hulle tien horings (en die elfde horing) saamgetrek.

So, die maniere van die 11e horing, vind jy terug in die vier koninkryke en die 10 horings. Dis ’n lyn wat loop in die geskiedenis.

Dis ’n neiging, wat van Daniël se tyd af, dwarsdeur die geskiedenis teenwoordig is. Met tye sterker deurkom en ander tye minder. En iets daarvan sien ons ook in gedeeltes soos 1 Joh. 2.


Die Antichris kom,

1 Joh. 2:18

Kinders, dit is die laaste uur, en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar nou ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

So, Johannes verwag hier ’n Antichris in die toekoms, maar hy sê ook duidelik aan die ontvangers dat daar nou reeds baie antichriste is. Al moet die kerk ’n definitiewe persoon, die Antichris verwag voor die wederkoms van Christus, is daar reeds in Johannes se tyd baie voorlopers daarvan.

Ons lees dit ook in 1 Joh. 4:2-3:

... elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie. Dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

Sien u: die neiging, die tendens – word hiér die gees van die Antichris genoem. Julle het gehoor dat hy kom, maar hy is nou reeds in die wêreld.


Die belangrikste leerstellige saak – Hy ontken dat Jesus die Christus is

Die Antichris se groot leerstellige afwyking het alles te doen met die Persoon van Jesus Christus (natuurlik, want hy is die Antichris). Hy ontken dat Jesus van Nasaret die Christus is.

V22 (1 Joh. 2:22) Wie is die leuenaar behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.

Hy ontken dat Jesus die Christus is. Maar ook dat Jesus Christus in die vlees gekom het (die menswording van Jesus Christus.

2 Joh. 7

Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: Die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.

As ons lees van hierdie elfde horing, dan kan ons nie anders vanoggend nie, as om laastens ook te gaan kyk na 2 Tess. 2 nie.


2 Tess. 2

Hier waarsku Paulus die gemeente van Tessalonisense om nie te val vir mense wat sê dat die wederkoms van Christus al daar is nie. Dit was blykbaar ’n probleem in die gemeente. Mense sou briewe in die naam van die apostels skryf om te sê die dag van Christus is al daar.

En dan skryf Paulus:

Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde openbaar word.

Die klem hier op ’n mens, herinner ons aan Daniël 7 – die menseoë. En ook Openbaring 13.

Hierdie mens van die sonde, word genoem die seun van die verderf.

Eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf. Die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.


Sit wag voor jou mond as jy oor die bruid van Christus praat

Hoe lasterlik. Hoor hier van die tempel. In Openb. 13 het ons gehoor dat hy o.a. die tempel van God laster.

Iets wat die gees van die Antichris kenmerk, is die lastering van die tempel van God. Ons moet oppas wat ons sê van die bruid van Christus. Mens hoor dat mense sommer maklik praat oor die kerk: Wat het die kerk vir die Afrikaners gedoen? Ons redding gaan duidelik nie uit die kerk kom nie, maar van elders! Kyk hoe swak het die kerk dit en dat hanteer.

Dit beteken nie dat ons nie vir mekaar moet wys op ons verantwoordelikheid nie. Maar, pasop hoe jy praat oor die kerk. Dis die bruid van Christus. En dat jy nie dalk, sonder dat jy dit besef, meedoen met diegene wat onder invloed staan van die gees van die Antichris nie.

En dan gaan Paulus verder:

2 Tess. 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk...

Sien u weer, die gees van die Antichris is reeds aan die werk. Hy sal op sy tyd geopenbaar word, maar die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.

2 Tess. 2:7 net totdat hy wat nou teëhou uit die weg geruim is; dan sal die ongeregtige geopenbaar word...

Hierdie wat die Antichris teëhou waarvan Paulus hier praat, is daar nie duidelikheid nie. Moontlik is dit die openlike verkondiging van die evangelie.


Allerhande kragtige dade van die leuen

Die apostel noem nog kenmerke van hierdie man van die sonde in vers 9

hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle id liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.

Die Antichris sal kragtige dade, tekens en wonders van die leuen doen. Daardie leuen s is nou reeds in die wêreld.

En leer jouself die liefde tot die waarheid.

Dit begin in die klein dinge: Eerlik en opreg met jou vrou.


Wie is die Antichris

Natuurlik was daar deur die eeue baie pogings om die Antichris presies te dui. Keiser Nero, in die tyd van die reformasie was die mening sterk dat dit een van die pouse kon wees. Sedertdien ook geassosieer met politieke leiers soos Mao Zedung, Adolf Hitler, Paul Pot, ens.

Nou, natuurlik is dit nie vreemd nie. Want daar is al in Johannes se tyd antichriste!

Daar is diegene wat meen dat die profesie vna die Antichris vervul is. Dat dit sênoumaar die pous was. En dat die antichriste sedertdien weer nadraai-figure is.

My verstaan hiervan is egter dat Die Antichris nog nie gekom het nie, en dat dit nog in die toekoms mag lê.


Die troos

Maar hoor die troos

- 2 Tess. 2:7 ... dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van Sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet gemaak sal word.

Maak nie saak wat of wanneer nie, die seun van die verderf van 2 Tess. 2, die dier van openbaring 13, die Antichris van 1 Johannes 2 en 4 en die elfde horing van Daniël 7 – waarvan ek die oortuiging het dat dit een en dieselfde persoon is, hy sal vernietig word.

Openb. 17 lees ons weer van die dier en tien horings. Die tien horings is daar ook 10 konings. En ons lees hulle het een gesindheid en sal hulle mag oorgee aan die dier.

- V14 Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.

En ook in 1 Joh. 4:4 lees ons van die oorwinning van die heiliges:

- (...dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld). Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.


Totdat

En dan natuurlik in ons eie Daniël 7 vanoggend, lees ons:

V21 En ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer en oorwin... totdat... totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het.

En dan weer in ver 25 ev

En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd.

Ook hier kry ons weer die ‘totdat’. Behalwe hier is dit nie ’n totdat nie, maar ’n ‘maar’

Maar die gereg sal sit en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.


Tyd, tye en die helfte van ’n tyd

Tyd, tye en die helfte van die ’n tyd. Verskillende verklarings. Dit stem ooreen met die 42 maande van Openbaring 13. Dit is natuurlik 3.5 jaar. So, hy word nie toegelaat om dit vir 7 jaar te doen nie – tyd van volkomenheid nie. Sy oorwinningtog kan nie voltooi word nie.

En weet jy wat dan?

V27 Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste;

En dan word hulle koningskap beskryf:

V27b... hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.

Hier is die einde van die saak, sê Daniel.

Wat my, Daniël betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.


Dit beteken nie noodwendig alles gaan nou slegter gaan nie

- Dit is in God se hande. En dis aan ons geopenbaar nie

- Ja, neem kennis van die dinge. Maar as daar nou al ooit ’n donker tyd vir die kerk was, was dit sekerlik die tyd voor die reformasie. En, sodanig so dat baie reformatore die Antichris gesien het as een van die Pouse. Maar, die donker tyd waarin hulle was, het hulle nie gekeer om gehoorsaam te wees nie. En God het dit geseën. En daar het reformasie gekom. Die evangelie is op voorheen ongekende wyses verkondig en het so vele positiewe uitwerkings ingelui.

- Sedert die reformasie het daar reeds op verskeie plekke in die wêreld vir sekere tye in die geskiedenis ’n hoë mate van vrede, uiterlike orde, basiese voorspoed en veiligheid ervaar. Net omdat dit tans nie goed lyk nie, beteken nie noodwendig die tyd wat voorlê gaan noodwendig baie sleg wees nie.

- Ons hang nie die voorspoedsteologie aan nie. Wat leer dat as iemand gehoorsaam is aan die Here, sal hy/sy altyd geseën wees (met gesondheid en geld), en as iemand nie geseën is (met geld en gesondheid) nie, dan is hy/sy duidelik nie gehoorsaam aan die Here nie. Natuurlik is dit ’n leuen, want sovele is die voorbeelde in die Bybel waar mense swaarkry op hulle pad kry, nie omdat hulle ongehoorsaam was nie, maar omdat God sy Almag in hulle wil toon.

o Maar, met die kwalifisering in gedagte (dat ons nie voorspoedsteologie aanhang nie), moenie wegneem dat dit die Here behaag om wel gehoorsaamheid te seën nie. En so, selfs in tye wat die kerk klein is, kan ons tog die seën van die Here verwag. Want Hy seën gehoorsaamheid aan hom.

- Beloftes in die Woord oor die voorspoed van die evangelie.

- Ons doen nie ons werk, ons is nie gehoorsaam sodat ons ’n beter tyd kan hê vir onsself nie. Nee, ons doen dit omdat ons die opdrag het. Omdat ons God liefhet.

- Ons taak is nie reaksie op evangelie nie. Dis God se taak. En nou, is ons hier, soos Daniël. Ons getuig. Ons verkondig die oorwinningsboodskap van die koninkryk van Jesus Christus. Ons sal teenstand kry. Ons weet nie of die land sodanig kan ag gee op die evangelie dat die hele land reformeer nie. Ons taak is immers nie om die reaksie op die evangelie te beheer nie. Dis God se werk. Ons taak is om dissipels te maak. Dis die taak van die kerk. Om die evangelie uit te dra.

Ons kan nie die reaksie op Gods woord beheer nie. Dis God se dinge.

Maar, ons kan gehoorsaam wees. Ons kan dien. Ons kan die beste burgers wees van Suid-Afrika. En ons moet.

- En die oorwinning. Ons is aan die wenkant. Al is daar tye in die kerk se bestaan wat dit op die oog af lyk of dit nie so is nie.

Daniël leer ons die temporele aard van aardse koninkryke

Babel, Meders & Perse, Griekse Ryk, Romeinse Ryk. Voeg by as jy wil – Dritte Reich, British Empire, Amerika, China.

Gekom en gegaan.

Maar, net so sal dit wees met die elfde horing.

Tydelik. Maak nie saak hoe magtig, hoe sterk, hoe wreed. Ons het die versekering dit sal verbygaan. Daar is net een ewige koninkryk!


Die horing van heil

Ons het in Daniël gelees van die tien horings. Tien konings, tien magte.

Ons het gelees van die elfde horing, wat groter is as sy voorgangers. En dat hy die volk van God sal oorlog maak en oorwin.

Wat is ’n horing?

’n Horing is ’n simbool van krag en mag.

Maar, ons lees in Luk. 1:68, sing die man Sagaria:

(vervul met die Heilige Gees profeteer hy): Geloof sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeg gebring het, en ’n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg!

God se Horing, die Horing van heil, is die Lam van God. Dit is die HERE Jesus Christus.

Die Seun van ’n mens.

Dit mag gelyk het of Sy horing gebreek het met die kruisiging.

Maar, Hy het opgestaan uit die dood.

Dit is die Horing wat oorwin, nie die horing van Daniël 7 nie, al mag dit op ’n tyd lyk of die horing (elfde) die oorhand gekry het.

So watter koninkryk gaan jy dien?

Hoe kom jy in sy koninkryk?

Deur die geloof in die Lam van God.

Horing van heil.

Dis ’n ewige toekoms vir ’n swak sondaar.

Jy kan nie die burgerskap koop met geld nie.

Dis verniet.

Vir elkeen wat in Hom glo.

Amen

47 views0 comments
bottom of page