top of page
  • Writer's pictureGKWP

Daniel 7 (a) Die Oue van dae & die Seun van die mens

*Let wel: hierdie is die preeknotas en nie noodwendig presiese woorde wat in die preek gebruik is toe die preek gelewer is nie


Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,

Dis nie moeilik om die verband tussen Nebukadneser se droom en Daniël s’n hier in 7 te sien nie.

Daar was dit die beeld met die vier dele (kop van goud, bors en arms van silwer, maag & heupe van koper en bene van yster; voete van yster en klei). Wat elk ’n koninkryk voorgestel het.

En eindelik het ’n klip sonder toedoen van mensehande losgekom, die beeld gebreek (en fyngestamp). Die wind het gekom en die wind het die stof weggewaai sodat daar niks van dit oorgebly het nie.

Maar, die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. en gegroei en die hele aarde gevul. Dit het gebeur in tyd van die vierde koninkryk.


Hier in Daniël 7 het ons nou vier diere:

’n Leeu, ’n Beer, ’n Luiperd en ’n vreeslike dier.

(Die vier diere is weer in Openbaring 13 verenig in een dier – soos die beeld een beeld was met vier dele).


Leeu – Babel Beer – Meders en Perse Luiperd met vlerke – Griekse ryk van Alexander die Grote Vreeslike dier – Romeinse Ryk.


Alles redelik parallel met die vier dele van die beeld.


Maar, hier leer ons dat die vierde dier tien horings gehad het – wat nie ’n parallel gehad het in die droom van die beeld van Nebukadneser nie. Die tien horings wat tien koninkryke is wat voortkom uit die Romeinse Ryk.


Daar was natuurlik baie pogings in die geskiedenis om hierdie tien koninkryke te dui vanaf met die heilige Romeinse Ryk (germaanse Ryk), Nederland onder die VOC, Britse imperialisme en Amerika wat onder die ryke tel.

Dit loon nie om te spekuleer nie. Punt is dat uit Romeinse Ryk daar nog ryke in die geskiedenis volg.


Daniël sien bykomend wat van uitsonderlike belang is. ’n Horinkie wat opkom, en drie ander horings ontwortel. ’n Koning wat drie ander konings mee afreken.

Hierdie horing het oë en ’n mond van mens.

Uit die res van hoofstuk 7 en dan die Nuwe Testament is dit duidelik dat hierdie horing die Antichris is, meer daaroor DV volgende week.


Oue van dae


As Daniël klaar hierdie gesien het – die vier diere, waarvan die vierde vreeslik is en vertrap, met sy tien horing en die elfde horing wat drie ander ontwortel.

Dan sien Daniël in groot, groot kontras met die voorafgaande:

V9 En ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ’n Oue van dae gaan sit het...

Mindere trone omring die Een groot troon. En op die middelste troon sien Daniël sien ’n Oue van dae wat op sy troon gaan sit.


Hierdie gesig is een wat die hart van enige gelowige aangryp.

Openb. 4:1-2 Na hierdie dinge het ek gesien – kyk, ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ’n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat na hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ’n troon in die hemel en Een sit op die troon.

Die Oue van dae.


Dis die Heilige God.


- Ps. 90:2 Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.


Daniel beskryf Hom:

- Sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol

Dit is God se heiligheid.

Heilig, Heilig, Heilig is die HERE van die leërskare. Die aarde word vol van sy heerlikheid.

Dis ’n gesig van reinheid en waardigheid.


Maar Hy sien ook sy troon, in hierdie geval ’n strydwa. Konings in die tyd van die Bybel het ’n spesiale koninklike strydwa gehad met wiele (chariot).


Daniël sien die Oue van dae op Sy strydwa-troon:

- Sy troon was vuurvlamme

- Die wiele daarvan ’n brandende vuur

- ’n Stroom van vuur het voor Hom uitgegaan

Vuur dui uit die aard van die saak op reinheid. Maar ook op oordeel. Die vuur wat die sonde wegbrand. Vanuit sy troon stroom krag wat almal wat Hom teenstaan sal vernietig. Hy sit op die troon vanwaar reg gespreek sal word. En niemand sal die Regter se uitspraak ontkom nie.

Maar dis nie al wat Daniël sien van die troon van die Oue van dae nie. Hy sien ook:

- Duisend maal duisende het Hom gedien; tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan


En toe sien Daniël:

- Die gereg het gaan sit.

Oordeel. Die reg is ’n saak van God.


En wie word geoordeel?

Die vierde dier. En die ander drie.

Die vierde dier is gedood, sy liggaam is vernietig en aan verbranding in die vuur oorgegee. Dramaties en skielik.

Ook die ander se heerskappy is hul ontneem en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur. Hulle einde nie so dramaties nie, maar hulle het ook, sonder uitsondering hulle krag verloor a.g.v. God se bepaling, al is hulle toegelaat om vir ’n bepaalde tyd nog op een of ander wyse voort te bestaan.


Die temporele (tydelike) aard van aardse koninkryke



Dis wat die profesie van Daniël ons leer, teenoor die ewige troon van die Oue van dae. Sy troon staan: Die wêreldgeskiedenis gaan sy weg, maar, Hy heers oor dit alles, en sy troon word nie geskud deur die aardse gebeure nie. Dit is vas. Hy is werklik onaantasbaar.


Ps. 46:1 God is ’n toevlug in die nood, ’n Rots wat altyd vas bly staan. Al dreig die vyand met die dood, al storm sy leërbendes aan. Laat dan maar buig en beef, al wat ons hier omgeef, laat berge uit hul stee, wegwankel in die see. Ons sal nie beef of rugwaarts gaan.

Ps. 46:2 Laat hoog die see se waters bruis en in hul woede skuim en klots; wanneer dit teen hul hoogtes bots.

Die waterstroompies wat daar kronkel in die stad en oor die rotse gly; hulle maak die Godstad bly! Die heiligdom op veilge rots.


Ek het grootgeword in tyd van ontnugtering en herdefiniëring – toe was die Nasionale Party Suid-Afrika ook van verbygaande aard...


Maar die koninkryk waarvan my ouers deel was, en ek in die verbond aan deel het, was nie die Afrikaner-koninkryk nie. Al het die koninkryk van die Afrikaners geval, het die ewige koninkryk van Christus nie gewankel nie.


Want dit is nie al wat Daniël sien nie. Hy sien nie net die Oue van dae nie.


Die Seun van ’n mens


Daar word die skreef vir ons oopgemaak op ’n aangrypende, kosmiese, majesteitlike toneel wat hom daar by die Oue van dae afgespeel het:


V13 ... met wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens en Hy het gekom tot by die Oue van dae en hulle het Hom nadergebring voor Hom.


Hier kom ’n Mens in die hemelse hof – maar een wat al die glans en heerlikheid van God het! Hier is ’n beskrywing van die hemelvaart van niemand anders nie as Jesus Christus.

Hy is immers die Seun van die mens. Hy het Homself so genoem (en die gramskap van die leiers van die Joodse volk op Hom gehaal, omdat die Jode hierdie figuur in Daniël, die Seun van die mens gesien het as God Self).


Bv. Oor die Sabbat, in Mark. 2:28 Die Seun van die mens is Here, ook van die Sabbat.

In Joh. 5 lees ons:

Joh. 5:27 En Hy (Vader) het Hom mag gegee om ook te oordeel , omdat Hy die Seun van die mens is.

Maar, as Jesus daar voor die troon kom van Sy Vader, die Oue van dae, lees ons:

V13... en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom (Oue van dae). En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer


Hierdie dui op verhoging van Jesus na sy kruisiging.

Na Jesus se vernedering, volg sy verhoging:

Fil. 2 eggo die profesie van Daniël 7:13-14


Fil. 2:6-11 Php 2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

Php 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

Php 2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Dis Sy vernedering. Maar dan volg sy verhoging, die eggo van Dan. 7:

Php 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

Php 2:10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

Php 2:11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.


Nie net is die heerskappy en eer en koningskap aan Hom gegee nie. Die koninkryk waarvan Hy Koning is, word vir ons hier in Daniël 7 beskryf:

V14 ...sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.


Kontras


Dis baie sterk in Daniël 7: Sien die kontras raak tussen die koninkryk van die Seun van die mens en die Geo-politiese koninkryke van hierdie wêreld. Hulle word geoordeel en sal verbygaan. Elke een van hulle.

Maar die koninkryk van die Seun van die mens is ’n koninkryk wat nie vernietig sal word nie.

Die grootste wêreldryke in die geskiedenis, het vergaan. Die een het plek gemaak vir die ander:

In Daniël se droom:

- Eers Babel, toe die Meders&Perse, toe die Griekse ryk van Alexander, toe die Romeinse Ryk.

Almal het geval. Nie een kon standhou nie.

Maar, in die tyd van die vierde ryk, die Romeinse Ryk, het die klippie gekom, het Jesus gekom.

En sy koninkryk is ingehuldig met sy eerste koms:


Mark. 1:14 En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie!

Met die Here Jesus se eerste koms is die koninkryk van God ingehuldig.


Sy sterwe aan die kruis het die skuld vir ons sondes betaal, sy opstanding was die bewys dat die skuld vereffen is, sy hemelvaart is Sy troonsbestyging wat uitgeloop het op die sit aan die regterhand van God.


Dit is waar Hy nou is – die Seun van die mens is aan die regterhand van God, nou, en Hy tree daar vir ons in. Hy maak ook vir ons plek gereed.

En Hy regeer! Alle mag in die hemel en op die aarde is aan Hom gegee.

Ons lewe in die tyd van die Christus – regering.

Soveel ryke het sedertdien gekom en gegaan


En, het jy al daaraan gedink, soveel aardse ryke het intussen gekom en gegaan. Die Romeinse het toe geval. Maar, dink ook aan Nederland in die tyd van die VOC, aan Frankryk in die tyd van Napoleon, aan Brittanje en die Britse imperialisme, aan die VSA – koninkryke wat kom en gaan.

Maar die koninkryk van Jesus Christus – het uitgebrei – onder die volke van die wêreld.

Hier, in die verste suidpunt van Afrika, sit hier Christene wat aanbid. Ons is die bewys daarvan.

... al die nasies, volke en tale het Hom vereer...

En niks kan sy koninkryk keer nie.

Geen aardse mag nie, geen Hitler, Paul Pot, Mau Tsedong – niemand kan dit keer nie.

Aardse koninkryke kom en gaan

Maar die klippie wat losgekom het sonder die toedoen van mensehande, dieselfde Seun van die mens, eers klein babatjie in die moederskoot, sy koninkryk gevestig – en niemand kan dit keer nie. Prys God daarvoor! .


Nou reeds burger van daardie koninkryk


En weet jy wat, elkeen wat in Jesus Christus ingelyf is met ’n ware geloof, is reeds burger van daardie koninkryk!


Christus se koninkryk staan midde-in die verbygaande aardse koninkryke.

Daniël was ook in daardie (van God) koninkryk, al was dit nog nie formeel ingehuldig met die koms van Christus nie.


Daniël leef as burger van die ewige koninkryk midde-in die koninkryke van die leeu, en terwyl hy daar dien, verander dit – die koninkryk van die beer.

Al wissel die koninkryk waarbinne hy is, bly hy steeds onwankelbare burger van die koninkryk van die hemel.

Hy het dubbele burgerskap.


Hy dien die aardse koninkryk na die beste van sy vermoë


Hy is die beste dienaar van die koninkryk van Babel. Sy teenwoordigheid is ’n seën. Hy getuig in daardie koninkryk van die koninkryk van die hemele.

Hy doen sy werk. Hy sien toe dat die koning nie skade ly nie.


Maar as hulle van hom verwag om te sondig, dan skop hy vas. Hy soek die heil van die koninkryk van Babel en van die Meders & Perse. Hy getuig. Hy kry dit nie reg om die koninkryk van Babel te verander in ’n Christelike ryk nie. Maar hy is gehoorsaam.


Hier kan ons baie leer, want ook ons is burgers van die koninkryk van God. Maar ook burgers van Suid-Afrika.


Ons het ook ’n reuse omwenteling ondergaan – van 1948-1994 onder Nasionale Party bewind – Afrikanerbeheer. Woeps, kom die Almagtige en haal die Afrikaners van die troon af en plaas ’n ander regering hier.


En steeds is diegene wat burgers van Sy ewige koninkryk is, burgers van Sy koninkryk. Die Afrikaners se ryk het geval. Maar Sy koninkryk het nie geval nie.


En nou, is ons as Christene hier, soos Daniël. Ons getuig. Ons verkondig die oorwinningsboodskap van die koninkryk van Jesus Christus. Ons sal teenstand kry. Ons weet nie of die land sodanig kan ag gee op die evangelie dat die hele land reformeer nie. Ons taak is immers nie om die reaksie op die evangelie te beheer nie. Dis God se werk. Ons taak is om dissipels te maak. Dis die taak van die kerk. Om die evangelie uit te dra.

Ons kan nie die reaksie op Gods woord beheer nie. Dis God se dinge.


Maar, ons kan gehoorsaam wees. Ons kan dien. Ons kan die beste burgers wees van Suid-Afrika. En ons moet.


Maar ook, hoef ons nie te bekommer nie. Want God laat sy koninkryk kom. Maar ons is burgers van Sy koninkryk. Ons moet leef as burgers van Sy koninkryk.


God sit konings af en stel konings aan


Die tema van Daniël. Dit is vandag nog so. Die aardse koninkryke kom en gaan. Maar Sy koninkryk groei. Dit kry teenstand, dis verseker. Dit beleef tye van openlike erkenning, maar ook tye van meer openlike vervolging. So is die eeue sedert Christus se eerste koms.

Wie ook al verantwoordelik is vir die vervolging, is egter van die tydelike ryke. Die ewige ryk van Christus kan nie vernietig word nie.

Wie is burgers van Jesus se ewige koninkryk?


Wees getroos met Daniël se gesig van die Oue van dae en die Seun van die mens.

Hy sal nie net eendag sit op sy troon nie. Hy sit nou, deur al die dring en dryf van die wêreldse koninkryke.


Wie is burgers van die ewige koninkryk?

Almal wat verordineer is daartoe. Almal wat deur ’n ware geloof in Christus ingelyf is.

Elkeen wat nou reeds sy knie buig voor Hom, en nie eers eendag as hy/sy daartoe gedwing sal wees nie.


Nie een van die burgers van sy koninkryk verdien dit uit hulle eie nie. Nee, dis die wat begenadig is. Die wat deur die Gees opgewek is uit hulle geestelike dood en aan wie die Gees hulle sondes kom bekendmaak het. En wat, gedring deur die Gees, in Jesus vasgegryp het in die geloof.


Net hulle is deel van daardie koninkryk.

En Christus verseker ons dat niemand hulle uit Sy hand sal ruk nie.

Amen


12 views0 comments
bottom of page