top of page
  • Writer's pictureDs Pieter le Roux

Galasiërs 2:14-21

Verlede week het ons die konflik van Paulus met Petrus behandel. Omdat Petrus nie saam met die Christene van ander volke in die gemeente van Antiochië wou eet nie. Wat ’n groot ding is. En nie net eet nie, dan ook nie Nagmaal eet nie.

So, dis ’n vreeslike ding as jy nie saam met ’n gelowige wil eet nie.

Maar, ons wil vanoggend by verse 14-21 stilstaan. Wat dan eintlik Paulus se toespraak is. Of dit wat hy vir Petrus gesê het, ten aanhore van almal in Antiochië.

Tot waar is sy toespraak

Dis moeilik om te sê. Minstens tot by vers 16. Maar van daar gaan die logiese gang van sy gedagtes verder. So – tot waar presies sy toespraak sou gegaan het en van waar dit verdere verduideliking aan die Galasiërs was, weet ons nie heeltemal nie. Maar dis nie so belangrik om te weet om dit uit te lê nie. Dis moontlik dat toe Paulus self dit geskryf het, hy nie eers self bewus was dat hy oorgegaan het van dit wat hy vir die Antiochiërs gesê het en sy skrywe en argumentasie lyn voort te sit vir die Galasiërs nie.

So, ons gaan vers 14-21 as ’n geheel behandel.

  1. Moenie van ander mense verwag wat jyself nie doen nie (Jy lewe nie soos ’n Jood nie, moenie verwag hulle moet nie!)

V14b ... as jy wat ’n Jood is, soos ’n heiden lewe en nie soos ’n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?

M.a.w. Petrus, jy het vir lank hier geëet saam met ander volke. Dis iets wat Jode nie doen nie. Jy leef dus nie meer soos ’n Jood nie. En jy is reg, want ons hoef nie meer die besnydenis te onderhou en die ander seremoniële wette nie.

So, jy lewe self nie meer soos mense van die OT nie. So moenie verwag ander moet dit doen nie! Jy lewe self nie soos ’n Jood nie, moet dus nie ander dwing om Jode te word nie! Jy kan ’n Christen word, sonder om ’n Jood (of Afrikaner) te word!

So, hier lê ’n toepassing. Wanneer jy of ek die evangelie uitdra – aan mense met ander tale en gebruike. Moenie van die persoon verwag om ’n Westerling soos jy te word nie. Dis onredelik en ongeldig. Hy hoef nie ’n Afrikaner te word om ’n Christen te word nie.

Nee, Hy moet glo in Christus alleen. Dis genoeg.

So, maar Paulus sit sy argumentasie voort – en dit bring ons by die tweede saak:

  1. Alle mense wat gered word, word op dieselfde wyse gered



Gal 2:15 Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie,

Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

Paulus sê: Petrus, jy en ek is nie Christene uit die heidene nie. Ons is nie uit die vuil Heidense honde nie! (Die Jode het mense uit ander volke neerhalend honde genoem. Dink ook hier aan die Siro-Fenisiese vrou in Markus 7, wie se dogter ’n onreine gees gehad het).

Petrus, ons is ordentlike mense. Ons het met die wet grootgeword. Ons het nie in ons kultuur sulke grootskaalse vergrype en onheiligheid soos hulle nie.

Want ons het met die wet grootgeword.

Maar – jy en ek weet dat die enigste manier hoe selfs ons gered kan word, is deur die geloof in Jesus alleen. Ons werke, die werke van die wet kan ons nie red nie!

Petrus, Ons word net soos hulle gered.

Dit beteken: iemand wat in die gereformeerde kerk grootgeword het – word presies op dieselfde manier gered as die dwelmverslaafde.

Laat ons dit baie goed onthou.

Maar, hierin lê ook versluier ongekende hoop: Dit beteken daar is altyd hoop. Maak nie saak hoe sondig jy is nie. Maak nie saak of jy in die kerk grootgeword het of nie. Elkeen wat met ’n ware geloof in Jesus Christus glo, word geregverdig!

Hier is ook hoop dat jy jou kind nie kan red nie. Jy, moedelose ouer, jy kan nie, moet dus ook nie probeer nie. Ja, voed hom op in die vrese van die HERE, eis van hom om God se Woord te onderhou in die huis. Leer hom om alles te onderhou wat Christus hom beveel.

Maar moenie jy hom probeer red nie. Want jy kan nie.

En so, weet ons, klein Lilian is bevoorreg om in ’n verbondshuis te kan grootword. Sy gaan grootword met die wet. Sy gaan geleer word hoe die Here van ons verwag om te lewe.

Maar sy word gered net soos die uitverkorene wat dalk eers op 80 tot geloof sal kom, haar lewe lank nie die HERE gedien het nie – en dit is Sola fide. Deur die geloof alleen, in Christus alleen, genade alleen.

Chris en Petro, as julle haar in die Christelike weg grootmaak – leer haar hierdie – dat haar redding alleen in Christus bestaan.

  1. Dis nie ’n oortreding om redding deur geloof alleen te leer nie

So, moenie skuldig voel daaroor nie.

Ons lees in vers 17:

Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan ’n dienaar van die sonde? NEE, Stellig nie!

So, Petrus, onthou nou – volgens die Judaïste, is jy en ek eintlik sondaars – omdat ons nie meer die hele wet van Moses onderhou nie. Ons onderhou nie meer die voedselwette nie. Maar volgens hulle is dit verkeerd. Volgens hulle is dit sonde! So, dis sonde om saam met ons Griekse broers en susters te eet!

Nou vra ek jou – as dit dan sonde is – vra dan by Wie het ons dit geleer om saam met heidene te eet? Was dit nie by Jesus Self nie? Ons is immers apostels van Jesus!!!

So, volgens hulle is Jesus dan tog ’n dienaar van die sonde! En dit kan tog nie! Dit sal ’n Godslasterlike gedagte wees – en ek is seker die Judaïste, die gemeentelede van die Christelike gemeente van Jerusalem sal nie vir ’n oomblik dit wil sê nie.

Ons moet onthou, dat hierdie Judaïste, was nie Jode wat Christus verwerp het (van die Judaïsme nie) soos die Fariseërs wat die Christene vyandig gesind was nie. Nee, hulle was Christene, lidmate van die Christelike gemeente van Jerusalem – maar wat ’n verkeerde klem op die OT wet gehad het.

So wat sê Paulus hier met sy argumentasie:

Petrus, dit is nie verkeerd om te leer dat die redding uit die geloof alleen is nie. Dis nie ’n oortreding nie. Anders sou Christus oortreder wees.

Moet daarom nie skuldig voel om die evangelie te verkondig van genade alleen, geloof alleen en Christus alleen nie. Moenie skuldig voel nie. En moet ook nie skuldig voel om dan daarvolgens te lewe nie. Moenie skuldig voel om saam met Christene van ander volke te eet nie. Dis heeltemal reg.

Ek dink dit pas op ons ook toe. Moenie skuldig voel om die evangelie van genade alleen te verkondig nie.

Die Satan plaas dikwels skuldgevoelens op mens wat vals is. Hy sal enigiets doen om te verhoed dat hierdie evangelie verkondig word. Hy sal ook probeer om met skuldgevoel jou te snoer. As daar een ding is waaroor geen mens ooit skuldig hoef te voel nie, is omdat hy/sy die evangelie van genade alleen, deur geloof alleen in Christus alleen te verkondig!

Leer dit ook vir Lilian!

(v18) Die muur van skeiding tussen Christen-Jood en Christene uit ander volke is afgebreek

Die apostel sit sy argumentasie voort. Hy sê:

V18 want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself ’n oortreder!

So, Petrus, moenie skuldig voel as jy saam met Christene uit ander volke eet nie. Weet jy wanneer moet jy skuldig voel?

As jy ou mure weer opbou wat ons pas afgebreek het!

En wat bedoel hy daarmee?

Wel, die mure van skeiding tussen Jood en Griek.

Die muur tussen die twee eetkamers (een vir Jode, een vir die ander volke) in die gemeente is nou uitgeslaan, sodat hulle nou in dieselfde eetsaal sit.

Natuurlik beteken dit nie dat dit volke verskeidenheid ophef nie. Ook nie taalverskille nie. Dit is Godgegewe. Maar dit beteken in prinsipe is die gelowige Tswana my broer of suster in Christus is. En dat ek ’n nader band met hom/haar het as my ongelowige Afrikaner-neef.

Ons moet onthou dat ons ook in sekere sin van hierdie heidense honde is. As die Israelvisie jou wil wysmaak dat jy uit die genetiese verbondslyn van Abraham is, dink weer. Dis ’n leuen.

Ons, Afrikaners is uit die vuil heidense honde. Maar deur Christus word ons deel van sy volk! Dankie dat ons saam met Christus mag eet!

  1. As die wet ’n instrument in die mens se hand is, lei dit tot die dood. As dit in God se hand is, lei dit tot die lewe!

In vers 19 sê Paulus:

Want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe! X2

Die ou Paulus is dood.

Hier kan ons nie anders nie as om terug te gaan na Paulus se bekering op die pad na Damaskus.

Wie was Paulus?

Wel, hy was ’n wetgeleerde. ’n Trotse Fariseër. Hy was ‘hoog op’. ’n Jong man wat vinnig opgang in sy party gemaak het. Een wat baie potensiaal getoon het in die Fariseër-party. Een wat heel moontlik later een van die hoë posisies kon beklee in hulle ranks (geledere).

Tóé was die wet ’n gereedskapstuk in sy eie hand om sy eie geregtigheid op te rig.

Maar op die pad na Damaskus het die wet ’n gereedskapstuk in God se hand geword.

Deur die wet het God vir Paulus oortuig - deur die werking van die Heilige Gees, dat hy (wat Paulus is) nie regverdig is nie. En dat hy nie die wet kan onderhou nie. En dat hy ver tekortskiet. Dat hy nooit ooit gehoorsaam genoeg sal wees aan die wet om sy eie geregtigheid te bewerk nie!

Die wet in God se hand breek die mure van hoogmoed in Paulus af.

Die trotse wetsonderhouer – Paulus – is dood.

Deur die wet dood vir die wet. – om vir God te lewe.

  1. Die oue mens is saam met Christus gekruisig

En om hierdie gedagte (dat hy vir die wet dood is), duideliker tuis te bring sê hy:

Ek is met Christus gekruisig. (v20)

Daarmee bedoel hy natuurlik nie dat sy lyf saam met Christus gekruisig is nie.

Hy sê daarmee: Toe Jesus aan die kruis gehang het, was hy wat Paulus was, by hom ingesluit. Hy was by Hom inbegrepe.

Dit beteken die oue mens – die ou Paulus het saam met Christus gesterf. Sy sonde het op Jesus gekom.

Hoekom is dit belangrik?

Wel, julle stem saam: dat my werke my die beter maak as ander nie. Dis wat hierdie leer. Maar dan geld die anderkant ook: net so vernietig my mislukkings my nie.

Hierdie feit – dat ek met Christus gekruisig is, is besonder troosryk.

Sonde van die verlede

Want diep in jou binnekant wens jy jou sondige dade was vasgespyker aan daardie kruis.

Want sonde maak dat ons ons koppe in skaamte laat sak. Elkeen van ons het mense wat jy nie weer wil sien nie of plekke wat jy nie by kan verbyry nie sonder die beskuldiging van die sonde nie

Maar nou hoor ons dat dit aan die kruis vasgespyker is.

Hoe sal dit voel as ek jou vandag verkondig: dat jou sonde, ja, selfs jou ergste sondes regtig aan die kruis gespyker is? En dat jy dit meer hoef te dra nie? Want jy is dood vir die sonde?

Dis presies wat hier staan!

(Die man wat so ’n hartseer lewe het, die een wat moet sterf).

Wat van die ou mens moet by jou nog sterf?

Weet jy hoe bevrydend dit is dat jy met Christus gekruisig is?

Dit beteken die sonde hou jou nie meer terug nie. Sondes van die verlede kan jou nie keer om voluit te lewe nie.

En dis dan juis wat die Apostel sê:

  1. Die nuwe mens: Christus lewe in my!

Dis wat ons lees in vers 20:

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het

Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.

Hy skryf dit op meer as een plek:

Fil. 1: Php 1:21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Kol. 3:4 Col 3:4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word

1Co 1:30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.


Christus is in my en ek is in Christus.

Sy weldade word oorgedra in my. Ek kry deel aan sy weldade. Christus in my, wat vir my geword het wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing.

Alles wat waar is van Christus word jou en my toegereken!

Dit beteken: nie net word my skuld weggeneem nie, maar boonop word ek skatte bygegee!

Dis soos: as jy R10 000 000 geskuld het, en iemand gee vir jou R10 mil. Hoeveel het jy dan? R0.

Maar met Christus is dit – hy skryf dit af en geen vir jou nog R10 000 000!

Nie net is my sonde weggeneem nie, maar ook die hemelse rykdomme is vir my oopgesluit.

Waarde

As daar een ding is wat teologiese skool my nie op voorberei het nie.

En dit was: op hoe stukkend die gemiddelde mens se lewe is! En hoe waardeloos mense dink hulle is a.g.v. hulle sonde.

Maar – hierdie leer Jesus Christus is in my. En dit gee my oneindig meer waarde as wat ek ooit gedink het.

Vertel van ’n terapeut wat gaan toetse doen het op kinders by ’n skool. En toe kom sy by een kind agter – dat daar een of ander toestand is. Maar die kind is briljant – behalwe hy kan nie skryf nie.

Hoe het hy op skool gedoen? Baie sleg.

En die terapeut het hom geneem na die personeelkamer en vertel van sy hoë IK. En sy het hom gevra van hoe het jy gevoel tot dusver? Dom, juffrou.

En hoe voel jy nou? Nie meer dom nie!

Kan jy dink wat daardie terapeut vir daardie seun beteken het?

Maar so is dit ook met Christus in my. Dit beteken ek is nie waardeloos nie. Ek is baie kosbaarder as wat ek ooit kan besef! Omdat Christus in my is.

Evangelie – nuus, nie raad nie

Broer en suster, as daar een ding is wat ons uit Galasiërs kan sien, is dat die evangelie ten diepste nie is:

  • Nie raad oor hoe jy moet lewe nie.

  • Maar nuus. Oor hoe iemand gelewe het!

Nie oor wat ek moet doen nie, maar oor wat Iemand vir my gedoen het!

En daardie iemand leef in my! Jesus Christus!

Sal julle dit vir Lilian leer?

Jy kan maar weet, kind van God: God gaan jou nie liewer hê omdat jy beter presteer nie! Hy gaan jou ook nie minder liefhê nie as jy swak presteer nie.

Jy is sy kind. Punt.

Dit beteken ek kan die sonde oorwin

Satan sê vir jou:

Jy kan dit nie help nie, jy is nou eenmaal maar so. Jy kan nie verander nie.

Jesus sê: Dis ’n leuen!

Christus lewe in my. Dit beteken die opstandingskrag van Christus werk in my.

Jy sê: dit voel net nie altyd so nie.

Ek vra jou egter: hoekom, as jy jouself weer kom kry, dan is jy maar weer besig met die Woord, weer besig met Christus?

Omdat Hy in jou leef.

En niks kan dit verander nie.

Niemand kan jou identiteit as Christen ooit van jou wegneem nie. Want Christus is in my.

Amen


150 views0 comments
bottom of page