top of page
  • Writer's pictureDs Pieter le Roux

NGB Art 27

Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,

Artikel 27 gaan oor ons belydenis van die kerk. Die Algemene Christelike kerk. Dit laat dink mens aan die woorde van die Apostoliese geloofsbelydenis (wat ons elke Sondag gebruik) Ek glo aan ’n Heilige Algemene Christelike kerk.

  1. Ek glo aan een heilige algemene Christelike kerk

1.1 In en aan

Ons bely elke Sondagoggend: Ek glo aan ’n Heilige Algemene Christelike Kerk. Let op die verskil in voorsetsel: Ek glo in God die Vader, ek glo in Jesus Christus, ek glo in die Heilige Gees.

Maar, as ons oor die kerk bely, dan sê ons: ek glo aan ’n heilige algemene christelike kerk. Ons glo aan die kerk, omdat ons in God Drie-enig glo en omdat Hy ons beveel om kerk te wees.

Ons glo nie in die kerk nie, want “glo in,” beteken vertrou op. Ek vertrou nie op die kerk nie – ek vertrou op haar Here. En daarom glo ek alleen in God, maar aan die kerk.

1.2 Tog is die kerk geloofstuk

Nouja, let op dat die kerk steeds ’n geloofsaak is – ons sê ek glo aan die kerk! NGB 27 sê ons: Ons glo en bely ’n enige, ... algemene kerk... En enigiets wat ons gló – is iets wat ons nog nie ten volle aanskou nie. Hebr. 11v1 sê

Geloof is ’n vaste vertroue op ... ... die dinge wat ons nie sien nie.

En daarom – ook die eienskappe van die kerk wat ons vanaand bely – is iets wat ons nog nie ten volle sien nie – maar ons glo dit! Wat ek nou van die kerk sien, is maar ’n klein stukkie.

Ons sien alleen maar haar uiterlike kleed, waarin sy optree – en hierdie kleed is nog in vele opsigte vuil en besmeer. Die liggaam van Christus soos sy bedoel is om te lyk, sien ek nog nie ten volle nie

  • Die kerk is een – en tog sien ons nog so baie verdeeldheid

  • Die kerk is heilig – en tog is lede van die kerk nog daagliks skuldig aan onheilige optrede

Ons moenie vergeet dat die kerk op aarde die strydende kerk is nie. En daarom moet mens nie met die eerste onsmaaklike belewenis van selfsug by die kerk, die kerk afskryf nie – ons moet onthou dat ons nog die strydende kerk is.

En die strydende kerk sit vol sondaars. Die kerk is nie ’n museum van perfekte mense wat uitgestal word nie! Die kerk is ’n hospitaal van siekes – stukkend in die sonde, maar hulle weet waar om hulle gesondmaking te soek – by Jesus Christus!

Hoewel ons baie van hierdie dinge nog nie sien nie, glo ons dit. Want Christus leer ons dat die kerk heilig, algemeen en Christelik is. En Hy is die Een wat haar sal tot in haar finale triomf sal lei – as die kerk volkome gesuiwer, toeberei soos ’n man vir haar bruid, rein en volmaak sal staan.

Ja, al sien ons dit nog nie alles nie, glo ons dit. Ons glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk.

Ons wil nou verwys na elke woord: heilig, algemeen, Christelik, kerk

Heilig

Ons bely ’n Heilige kerk. Heilig beteken afgesonder. Ons is afgesonder deur God vir God en sy diens.

Die kerk se heiligheid beteken dat ons ánders lyk as die res van die wêreld. Die kerk is nie die gebou nie, dit is die mense. Dis die mense wat God vir die ewige lewe uitverkies het. Hy het hulle uit die hele mensdom uitgeroep en afgesonder.

Dit beteken dat ons anders lyk as die res van die wêreld. ’n Groot fout wat die kerk kan maak, is om soos die wêreld te wíl lyk. Ons wil nie soos die wêreld lyk nie. Ons is heilig en afgesonder vir God.

En, al is ons nog nie volmaak nie, word ons tog reeds heilig genoem. Ons is heilig in Christus. As die apostel skryf aan die gemeente in Korinte, sekerlik die gemeente in die NT met die meeste probleme en sonde, dan noem hy hulle die geheiligdes in Christus. Ja, die kerk is nou reeds heilig in Christus. Sy heiligheid word ons toegereken. En nou is dit ons taak om al meer te word wie ons in Christus is. As God my heilig noem, dan moet ek dit ook al meer in my daaglikse lewe word.

Die GK WBP is heilig. In Christus is ons geheilig, maar het ons ook die opdrag om as heiliges te lewe.

Algemeen

Maar, die kerk is ook algemeen. Ons glo aan een algemene kerk. NGB 27 sê:

Ons glo aan een algemene of katolieke kerk.

Met Katoliek bedoel nie Rooms Katoliek nie. Katoliek beteken wêreldwyd. Algemeen. Dit beteken dat Christus die kerk versamel van oor die hele wêreld. So die algemene kerk is nie gebonde aan ’n spesifieke plek nie.

Maar, dis ook nie gebonde aan ’n spesifieke tyd nie. Die algemene/katolieke kerk is oor al die eeue heen. Beide van hierdie aspekte (nie gebonde aan tyd of plek nie), bely ons in die artikel:

Tyd: Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde toe daar wees...

Plek: ... Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar dis oor die hele wêreld versprei en verstrooi...

Die Here versamel sy kerk uit elke volk en stam en taal en nasie. Die kerk is nie net op een kontinent en in een taal nie. Die kerk is ook nie net in die jare 2000 nie, die kerk het Christus versamel dwarsdeur die eeue wat verby is en in die eeue wat nog mag kom.

Die kerk is almal wat Jesus Christus as Saligmaker erken en liefhet.

En hierdie kerk sal jy kry nie in een kerklike denominasie nie. Die ware gelowiges sit nie net op die banke van gemeentes in die GKSA nie. Ook in ander denominasies sal jy die ware gelowiges vind.

Maar – en dit is net so waar – nie alle mense wie se name in die lidmaatregisters is, is deel van die kerk nie. Daar is ook huigelaars in die kerk. Mense wat vir hulle eie belang in die kerk is. Wat nie waarlik glo in Jesus Christus nie. Wat nie deel van die heilige, algemene, Christelike kerk is nie.

Christelik

Maar ons glo aan ’n Christelike kerk. Die woord Christelike kom natuurlik van ons Here Jesus Christus af. (Dit word nie in artikel 27 behandel nie). Die kerk is Christelik, want Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Hy neem die eerste plek in die kerk in. En as die kerk ernstig daaroor is, dan sal ook in al haar handelinge die gesindheid van Jesus Christus duidelik wees. In die kerk sal die een die ander hoër ag as hom/haarself, die een die ander se belange eerste plaas. Want die kerk is Christelik – die gesindheid van Jesus Christus is duidelik in haar.

So daar het ons nou gepraat oor die heilig, die algemeen en die Christelik. Laat ons nou vir ’n oomblik stilstaan by kerk

Kerk

Die woord kerk beteken die eiendom van die Here. Dit kom van die Griekse woord Kurios af – wat Here beteken. En kuriake beteken dan dit wat aan die Kurios behoort – dit wat aan die Here behoort. Die eiendom van die Here.

En dis belangrik om hier te noem (soos ons baie goed weet) dat die kerkgebou nie die kerk is nie. Die kerk is die mense. Dis almal wat waarlik in Jesus Christus glo. Dis, in die woorde van die artikel:

’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.

En Hy vergader die kerk. Dis Jesus Christus wat die kerk bymekaarmaak uit al die mense op aarde.

Vergadering

So ons het nou gehad al die woorde – Heilig, algemeen, Christelik en kerk.

Maar hier bely ons ook ’n vergádering. Wat bedoel ons daarmee?

Om te vergader, beteken om bymekaar te maak. Jesus Christus maak die kerk bymekaar. Hierin lê meer as die feit dat Hy die uitverkorenes die geloof in sy Vader gee. Hy gee nie alleen die geloof nie, Hy bring hulle ook bymekaar! Hy versamel en verbind hulle tot ’n vergadering van gelowiges!

Christus wil nie hê dat die gelowiges as losse individue voortleef nie, maar dat hulle bymekaar sal aansluit, mekaar sal opsoek, mekaar sal opbou! Jesus Christus vergader die kerk, Hy bring ons bymekaar in een vergadering.

Beskerm

Maar, Hy vergader nie net die kerk nie, Hy bewaar ook die kerk. Die ontstaan van die kerk lê natuurlik by Christus, maar ook die voortbestaan. Hý het die kerk gevestig en Hý sal dit bewaar tot in ewigheid. Daar sal nooit ’n tyd wees wat daar nie ’n kerk op aarde is nie.

Ja, daar mag tye wees wat die kerk baie klein word en selfs in die oë van mense lyk of dit tot niet gegaan het, maar Christus bewaar sy kerk. Daar sal altyd ’n kerk wees, want ons Koning is ’n ewige Koning.

Jesus Christus is ’n ewige Koning wat nooit sonder onderdane kan wees nie

In die tyd van koning Agab het daar net 7000 regverdiges in die hele Israel oorgebly. Die kerk was klein. Vir die wêreld het dit miskien gelyk of dit tot niet gegaan het. Maar, dit was daar. Want Christus bewaar sy kerk.

Laat ons maar onthou dat die kerk aangeval word. Die kerk word deur die Satan en sy legioene konstant aangeval. Eers op die een manier dan weer op ’n ander. Deur dwaalleer, soms deur vervolging, soms deur afvalligheid, soms deur onderlinge twis, soms deur valse gerustheid.

Maar, leer ons in Matt. 16, die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie. Want Christus bewaar sy kerk.

Eenheid van die kerk

Ons het onder die algemene kerk gehoor dat die kerk nie geleë is in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek nie of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi.

Maar, dan sluit ons artikel af met mooi woorde oor die eenheid van die kerk:

Tog is dit met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof saamgevoeg en verenig.

En tog bly die kerk een, ondanks uitwendige verskeurdheid.

"Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk."

Dit bely Guido de Brès hoewel hy destyds 'n verjaagde en vervolgde van die "offisiële" kerk was.

Die Roomse kerk het hom en al die Hervormers nie beskou as lede van die kerk van Christus nie.

Aan die ander kant het Guido de Brès en sy geesgenote nog die "kerk" binne die Roomse Kerk raakgesien en waardeer. Daar was nog ware gelowiges in die Roomse Kerk, wat, ondanks al die dwalinge, nog eenvoudig in Christus geglo het.


Die Roomse Kerk handhaaf die begrip "katoliek" alleen op grond daarvan dat Rome alleen die een algemene kerk is en buite die een kerk geen saligheid moontlik is nie.

By Rome bring die geloof in die kerk 'n mens eers by Christus. By ons bring die geloof in Christus ons in die kerk.


Tog is dit met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof saamgevoeg en verenig.

Dit laat dink mens aan Jesus Christus se gebed daar in die bo-kamer in Jerusalem:

Joh. 17:11 Heilige Vader, bewaar in U Naam die wat U My gegee het, sodat hulle Een kan wees, net soos Ons...

Die Heilige Algemene Christelike kerk. Oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Maar saamgevoeg met hart en wil in Een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof, saamgevoeg en verenig.

Dis die wat eindelik teenwoordig sal wees voor die troon van die Lam, deel van die groot menigte waarvan ons gelees het in Openbaring 7: 9-10

... daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande, en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê:

Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam.

Hierdie menigte wat voor die troon van God versamel, is niemand anders nie, as die Heilige algemene Christelike kerk.

Loof God wat in Christus ons deel daarvan gemaak het. Amen

36 views0 comments
bottom of page