top of page
  • Kobus Kok

50 Jaar herdenking

Wonderboompoort-gemeente het in 2010 die vyftig jaar van sy bestaan luisterryk oor die naweek van 19-21 November op die kerkterrein gevier. Die Lektuurkommissie, wat verantwoordelik was vir die samestelling van die Vyftigjaar-gedenkblad, het dit betyds gedurende die week van die drukker af ont vang en Donderdagaand, 17 November, op ’n Kerkraadsvergadering bekendgestel. Die Vorster-gesin was die eerste om hulle eksemplaar te ontvang, want hulle sou die feesnaweek na Australië vertrek om by hulle kinders te gaan kuier.


Die Lektuurkommissie het Vrydagmiddag ’n uitstalling in die vierkant opgestel met as tema: die wapenrusting van Efesiërs 6. Oudl. Frits van Tonder het ’n Romeinse soldaat op karton geverf en met linte van elke deel van die wapenrusting af, is die uitstalling met boeke, Bybeltekste, en dies meer toegelig. Die aand het die gemeente in die kerk byeengekom vir ’n program van orrelspel, voorlesing en sang. Diaken Francois Pienaar het ’n videovertoning oor die ontstaan van die gemeente en die verskillende aktiwiteite wat plaasgevind het, aangebied en ruim gebruik gemaak van die foto’s in die Gedenkblad.

Saterdag het die groot feesviering op die terrein, in die vierkant en in die kerksaal plaasgevind.


Die Lektuurkommissie het die uitstalling beman, gedenkblaaie uitgedeel en twee gedenkartikels te koop aangebied: ’n brons briewemes in die vorm van ’n swaard en ’n leerboekmerk. Ek het alles op video vasgelê, maar skoon vergeet om ’n foto van ons uitstalling te neem. Soos by die jaarlikse Wonderdag,

was daar ’n hele verskeidenheid van stalletjies en verskillende spele. Gerhard Kok het die handbal gewen en ’n lekker bottel likeur ontvang. Die middag laat is die voorbereidingsdiens deur Ds. Christiaan Jooste gehou.

Sondagoggend is die Nagmaalsdiens deur Ds. Van Dalsen waargeneem en Ds. Naas Ferreira het die brood en wyn bedien. Na afloop van die diens is daar ’n gemeente-ete in die saal aangebied. Die feesnaweek is Sondagaand met ’n nabetragtingsdiens deur Ds. Gerard Meijer afgesluit.

– Saamgestel deur Oudl. Kobus Kok

22 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page