top of page
  • Ds Christiaan Jooste

Herinneringe van Ds. Christiaan Jooste aan Wonderboompoort

Dankbare jare van groot genade

Om bedienaar van die Here se Woord in ’n gemeente te wees, is net genade. Om ook gemeente in die koninkryk van die Here te wees is net soveel genade. Die Here het aan ons die besondere voorreg gegee om in sy kerk diensbaar te wees vir die jare tussen 2009 en 2016. In hierdie jare het ons ervaar dat die kerk van die Here inderdaad strydende kerk is en dat geen gemeente van stryd gevrywaar is nie. Tog kon ons die voorreg beleef om met vrug en vreugde in die midde van GK Wonderboompoort te werk.

In ons tyd in die gemeente het ons voortdurend onder die besef geleef en gedien met die verwondering oor die gawes wat die Here aan die gemeente gegee het. Saam met die gawes was jaar ook die ywer om daardie gawes in die Here se koninkryk aan te wend. Die hartlikheid waarmee gemeentefunksies aangebied is en waarin saamgewerk is, was altyd wonderlik om te ervaar.


Tog is Wonderboompoort nie net ʼn sosiale samekoms vir mense wat eenders dink oor geloof nie. Dit is trouens nie wat kerk is nie. Dankbaar kan ons terugdink aan die geleenthede wat vir geestelike toerusting en groei geskep is. Ons is immers geroep om te groei met die gawes wat ons ontvang het om die volle wasdom van ons Here Jesus Christus te betoon. Ons Joostes dink met dankbaarheid terug aan ons bedieningstyd in Wonderboompoort. Dit was ’n tyd wat die Here ons deur die gemeente gevorm het en ons ook met ons gawes die gemeente kon vorm. Ons bede is dat ons werk diensbaar was, dat Wonderboompoort so gevorm is, dat Christus duidelik aan die wêreld getoon sal word. Vir sewe, van die sestig jare van hierdie gemeente se bestaan,

dank ons die Here dat Hy ons daar gebruik het.

– Ds. Christiaan, Irma, Rene, Elni, Irma, Christiaan en Jana

48 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page