top of page
  • Writer's pictureGKWP

Psalm 4

Psalm 4 neem die bidder van donker dae en nagte na 'n siele rustigheid in sy genadige verkiesing en dan na vreugde wat uitstyg vér bo ‘n aardse vrede en geluk. Vers een begin waar selfs sy dae vir hom donker is. Hy sien geen daeraad of uitkoms nie. Hy herinner homself daaraan hoe die HERE hom uit vorige hinderlae, waar hy noue ontkomings beleef het, gered het. Hy besef dat die HERE nie verplig is om hom hier uit te red nie en daarom doen hy 'n beroep op die HERE se vrye welbehae - op Sy genade. Hy spreek tot sy vyande wat sy eer in skande wil omkeer. Hy praat nie hier van ydele eer nie, maar van die eer wat God hom aandoen om kind van Hom te wees. In die berymde vers twee sê hy vir hul: Pasop wat jy aan die gunsteling van God doen; die een wat Hy vir Homself afgesonder het. Want raak jy aan hom, dan raak jy aan God. Die oproep kom hier na hulle om in die lig hiervan stil te raak voor die Here en hul harte te deursoek. Die verdere raad wat hy in vers drie gee, is wat is ware offer aan die HERE. Dit is om in opregtheid reg te lewe en Hom alleenlik aan te klewe. Baie mense sê hy, gaan gebuk onder swaar beproewinge en soek na uitkoms. Hierop moet die gebed volg: verhef oor ons U Vader oë, sien op ons neer in mededoë. Verlig ons hart en ons gemoed. Dan gebeur juis dit ook vir die een wat opreg is in sy soeke na Gods genade en goedheid wat onendig is. Hy/ sy vind ń groter vreugde selfs as die aardse wat ander smaak in volop tyd. Hierdie verhoorde gebed loop dan uit op ń rustig slaap en ongestoordheid in die sekere wete dat die HERE sy God oor hom waak.


Oudl Willie vd Walt

14 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page